Oud JB Marks-burgemeester en kie pleit onskuldig

Van links na regs, Kgotso Khumalo, Mohau Shuping, en Cecil Henry. (Foto: Rasaad Adams)

Die voormalige burgemeester van die JB Marks-munisipaliteit in Noordwes, Kgotso Khumalo, en sy twee medebeskuldigdes het onskuldig gepleit op die agt aanklagte van bedrog en diefstal waarop hulle teregstaan.

Khumalo, Cecil Henry en Mohau Shuping se verhoor het vandeesweek in die Ventersdorp-streekhof begin waar verdoemende bewerings oor onreëlmatige besteding van munisipale geld reeds vanuit die getuiebank geopper is.

Maroela Media het vroeër berig verskeie betalings is glo uit die trustrekening in die beskuldigdes se persoonlike bankrekeninge gemaak. Daar word beweer dat daar ʼn wanvoorstelling van die geld in die trustrekening was om te lyk asof dit gebruik word om dienste te betaal wat aan die munisipaliteit gelewer is, terwyl fakture na bewering vervals is.

Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes, sê die staat het met die aanvang van die verhoor sy hoofgetuie, Willem Coetzee, na die getuiebank geroep.

Coetzee is ʼn advokaat van Willem Coetzee Prokureurs, ʼn regsfirma wat lid was van ʼn paneel advokate wat deur die munisipaliteit aangestel is om sy regs- en finansiële mandate deur ʼn trustfonds te bestuur.

Coetzee het onder meer getuig dat die beskuldigdes hom as waarnemende voorsitter van die paneel opdrag gegee het om betalings in verskillende rekeninge by verskillende geleenthede te maak.

Daar word beweer dat die Noordwes-universiteit en die Program vir Gemeenskapsontwikkeling miljoene rande in ʼn trustrekening van Coetzee se prokureursfirma inbetaal het vir die gebruik van spesifieke projekte deur die munisipaliteit.

Coetzee is egter opdrag gegee om verskeie betalings te maak, waaronder ʼn burgemeesterskomiteebydrae van R208 000 vir die begrafnis van wyle LUR vir landbou, Duma Ndleleni, wat in November 2018 oorlede is.

Coetzee het ook aan die hof gesê hy is aangesê om twee bedrae van R35 000 na Kagisano Funerals vir dieselfde begrafnis oor te betaal. Nóg R32 000 is na bewering aan Roche Trading betaal vir ʼn diens wat tydens die betrokke begrafnis gelewer is.

ʼn Bedrag van R210 000 is ook toegewys as betaalmiddel aan ʼn prokureursfirma, Langford and Sons Projects (Pty) Ltd, vir ʼn Australiese sokkertoer wat deur Henry onderneem is.

Dit het egter aan die lig gekom dat R200 000 direk in een van die beskuldigdes se rekening inbetaal is. R64 218 van dié bedrag is toe betaal aan ʼn instelling waar Khumalo se familielid ʼn student was.

Coetzee het ook getuig oor hoe Khumalo hom opdrag gegee het om R50 000 elk aan twee nieregeringsorganisasies te betaal. Khumalo het glo aangedui dat dié geld ʼn lening is en terugbetaal sal word.

Hy het later ʼn ander rekening gekry waarin hy ʼn bedrag van R100 000 in plaas van die R50 000 aan elke NRO moes oorplaas.

Coetzee het aan die hof gesê dat hy sedert die ondersoek na hierdie saak nie meer as lid van die paneel dien nie.

Die verdediging sal Coetzee vandag kruisondervra.

Mamothame sê die staat is van voorneme om nog getuies te ontbied om bewyse te lewer. Die staat het glo ʼn sterk saak en altesaam 20 staatsgetuies is gereed om gedurende die verhoor te getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Shakespeare ·

Natuurlik sal hulle bewusteloos pleit. Dis hul beproefde modus operandi.

koos10 ·

Ek staan verstom oor die feit dat geld na persoonlike bankrekeninge oor betaal was. Die ou wat die betalings doen moet ook vrae gevra het. Daar is duidelike riglyne oor hoe, waar en wanneer geld betaal mag word. Veral by staatsgeld.

Sarel ·

Saak uitstel tot na verkiesing en dan gaan.klagtes terug
Getrek word

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.