Oud-Koevoetlid verdwyn: ‘Lewend of dood, ons hou aan soek’

Chris Barnard word sedert Desember vermis. Daar is steeds geen spoor van hom nie.

Die familie van die vermiste oud-Koevoetlid Chris Barnard (54) is desperaat vir antwoorde oor waar hy hom bevind.

Barnard, wat in Irak in die veiligheidsbedryf werk, het in Desember vir ʼn kort vakansie na Suid-Afrika teruggekeer. Hy het vroeër aanlyn bevriend geraak met ʼn vrou wat nou by sy verdwyning betrek word.

Barnard is in Desember die laaste keer in die Sinoville-omgewing in Pretoria gesien. Sy familie het hom op 7 Desember as vermis aangemeld en ʼn uitgebreide soektog na hom is van stapel gestuur.

Die ondersoek het speurders na Vanderbijlpark gelei, waar ʼn vrou en twee mans sedertdien in hegtenis geneem is. Barnard se voertuig is by hulle gevind, asook sommige van sy persoonlike besittings. Daar is sedert sy verdwyning reeds duisende rande uit Barnard se bankrekening onttrek.

Die drietal verdagtes het reeds in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn op aanklagte van huisbraak en diefstal. ʼn Klag van moord is later ook teen Corné de Beer (33), Richardt Botha (35) en Wayne van der Walt (35) aanhangig gemaak al is sy liggaam nog nie opgespoor nie.

Die drie weier tot dusver om te sê waar Barnard hom moontlik bevind en of hulle by sy verdwyning betrokke was. Hulle wou ook nie sê waar hulle aan sy voertuig kom nie.

Barnard se eksvrou het die private ondersoeker Mike Bolhuis intussen aangestel om te help met die soektog na hom. Bolhuis het gesê sy spesialisondersoekspan se opdrag is om Barnard te vind, lewend of dood. Indien hy wél dood is, moet sy oorskot opgespoor word.

Die ondersoek word in samewerking met die polisie gedoen.

Bolhuis het Donderdag gesê hulle gaan geen steen onaangeroer laat nie en tegnologie sal onder meer ingespan word om in die soektog na Barnard te help. Dit kan elemente soos die nagaan van banktransaksies, selfoonseine en geslotekringtelevisiebeeldmateriaal insluit.

“Die familie wil antwoorde hê oor wat met hom gebeur het en waar hy is. Lewend of dood, ons gaan aanhou soek tot ons hom vind,” het Bolhuis gesê.

Die polisie het ʼn gebied by die Bon Accord-dam, gedeeltes van die Apiesrivier en ʼn oop stuk veld onder meer deursoek vir enige spoor van Barnard.

Die polisie het ʼn beroep op enigiemand met inligting oor Barnard se verdwyning gedoen om die Sinoville-polisiestasie te kontak of die ondersoekbeampte te bel by 071 675 7373. Bolhuis se ondersoekers, Vince Harris (082 673 1830) of Luke Enslin (082 222 5821), kan ook met inligting gekontak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Boerin

Oorleef Irak en kom dan SA toe…
En nogal deur iemand wat hom moet lief hê en beskerm.
Mense is siek!
Sterkte aan die familie

andries makopa

ja die prossies en hulle nigerian pimps is te slim

Maria

As ek so na die Afrikaanse name van die verdagtes kyk lyk dit my die gevaar kom eerder van “ons eie mense” soos my ouma sou sê.

ursula

Laat ek maar nie te veel praat want Maroela voel ook die aan gelaagtes het regte,
Barries amal is op soek na jou en sal nie op hou soek.

Dina

En ek hoop hul bly in aanhouding!!!!!