Oud-kollegas terug in hof ná onderonsie oor parkeerplek

Johan Stander buite die George-landdroshof na die eerste dag se hofverrigtinge Foto: Eugene Gunning

Twee DA-stadsraadslede van George wat in die hof gaan draai het oor ʼn onderonsie oor ʼn parkeerplek in die munisipale terrein op 17 Oktober 2016, het Donderdag by die hof beleefd blad geskud – maar dit was waar dit gebly het.

Die hofsaak spruit uit die voorval toe harde woorde tussen Johan Stander en Gert Niehaus geval het oor ʼn parkeerplek. Niehaus het na bewering die Maandagoggend stilgehou by ʼn parkeerplek in die munisipale terrein. Dit was nie aan ʼn spesifieke raadslid toegewys nie. Stander het glo gewoonlik daar parkeer.

Nadat Niehaus parkeer het, het hy na die hoofgebou gestap. In ʼn stadium het Stander glo verbygery en op sy toeter gedruk. ʼn Woordewisseling het ontstaan. Later, op die tweede verdieping van die gebou, het Stander glo ingestorm en Niehaus met lêers voor die bors gestamp ten aanskoue van verskeie mense waaronder ander DA-lede.

Niehaus het daarna ʼn klag by die polisie ingedien. Die saak is in die verlede verskeie kere uitgestel en in ʼn stadium is dit selfs van die hofrol verwyder.

Die saak is Donderdag uiteindelik in die George-landdroshof aangehoor. Getuienis is aangehoor en dit is daarna tot 13 Maart uitgestel.

Niehaus het Dinsdag, twee dae voor die begin van die saak, as DA-lid en stadsraadslid bedank.

Gert Niehaus kort voor die begin van die hofsaak in die George-landdroshof Foto: Eugene Gunning

Verskeie van Niehaus en Stander se kollegas het Donderdag die saak bygewoon. Van hulle is gedagvaar om te getuig. Dit was duidelik dat daar verskillende kampe in die party is. Een van Stander se ondersteuners, wat ten tyde van die voorval saam met beide in die raad gedien het, het geweier om Niehaus se hand te skud. Die ander DA-kollegas van die verskillende kampe het mekaar beleefd gegroet, maar hoofsaaklik op aparte plekke buite die hofsaal gesit.

Stander staan tereg op aanklagte van aanranding, laster en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Stander het skuld ontken op al die aanklagte teen hom.

Eckert Brandt, Stander se regsverteenwoordiger, het dit aan die hof gestel dat Stander sal erken die voorval het plaasgevind maar daar was provokasie. Brandt se argument was ook dat die saak nie in ʼn hof hoort nie.

Brandt het dit tydens kruisondervraging aan Niehaus gestel dat hy in ʼn koerantberig gesê het dat hy geen kwade gevoelens koester jeens Stander nie. Niehaus het dit bevestig. Brandt wou toe by Niehaus weet hoekom hy dan met ʼn klag van naamskending/laster voortgaan.

Niehaus het verduidelik dat Stander en hy beslis nie vriende is nie, maar dat hulle as kollegas moes saamwerk in die raad.

Die Staat het versoek dat die saak uitgestel word sodat ʼn mediese dokter kan getuig oor die beserings wat Niehaus na bewering tydens die voorval opgedoen het. Landdros Götz Essel het die versoek toegestaan. Hy het ook aangedui dat hy reeds ander verpligtinge het en eers in Maart beskikbaar sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Eish ·

Sjoe, ek het gedink ons het die klas van ding ontgroei. Dit laas in die vorige bedeling ervaar as die manne ” rang getrek het” en natuurlik tot so n paar jaar gelede, in die kerk, waar onafgebakende stoele skielik tot n familie behoort.

Alida 2 ·

Ag nee! Dit kan nie waar wees nie.
Groot mans wat kastig leiersfigure is stel so voorbeeld.
Nou moet regslui se tyd met sulke onbenullighede gemors word. Die 2 het seker geld wat hulle pla en wil nou op so manier daarvan ontslae raak.
Hoe wil hulle ‘n stad se probleme oplos en bestuur as hulleso liggeraak is.
Ek is verstom.

MH ·

My hart bloei vir Niehaus. Stander het hom met lêers voor die bors gestamp! Wat ‘n verskriklike aanranding.

Lien Dempers ·

Dit moes verskriklik gewees het. Hy het dan tot n dokter gaan spreek oor die beserings…..my seun het my juis die week vertel van twee graad 4 dogtertjies wat in die klas baklei oor wie waar sit……….

EB ·

Ongelukkig word die belasting betaler se geld wel gemors. Die aanklaer en die landdros word deur belasting geld befonds. Stander het geen keuse om daar te wees nie. Hy is die beskuldigde.

Koos ·

Die aanklaer en landdros word uit die fiskus betaal ja. Mens noem dit hulle salarisse. Hoe is dit ‘n vermorsing van belastinggeld (neem tog kennis, dis een woord) as iemand aangerand word, ‘n klag lê en ‘n regsproses volg? Die amptenare wat jy noem is veronderstel om elke dag aan diens te wees, as hulle nie werk het nie sit hulle dalk en niks doen of loop dalk vroeg – nou daar is ‘n voorbeeld van vermorsing. Jou drogredenasie maak dus nie sin nie.

Par-kering ·

Aan die glimlag skyn dit asof daar by die hof genoeg parkering is?

Adele ·

Het hierdie uitgegroeide mans niks anders om hulleself mee besig te hou nie. Julle mors die hof se tyd en geld oor n onbenulligheid. Skande.

Boet Fasie ·

Ai hulle het darem die plaaslike koerant gehaal en ook op MM , beslis die kollig gehaal en gelukkig nie ‘n parkeer boete gekry nie.

Dee-Dee ·

Die DA moet hulle maar uit hulle ampe lig soos met Patricia de Lille. Hulle optrede is n verleentheid vir die DA.
Ouens wat hulle self so hoog ag moet nie in politiek wees nie. Ons het nederige leiers nodig. Hulle behoort skaam te kry.

PJC ·

Om te dink sulke mense moet na belastingbetalers se belange omsien.

Andre Els ·

Die da het so volksvreemd geraak dat al die eienskappe van die anc aangeneem het bv openbare geweld ,staak en toitoi….

Boet Fasie ·

Politiek is ‘n vieslik spel wat mense leer van lieg, rugstekery en om vyande te maak. Die belangrikste is dat mens se ware kleure gewoonlik uitkom as jy so bietjie geskud word en dit wat binne is, uitkom. Die DA lyk ook glad nie beter as die ANC en EFF as dit by gedrag en eerlikheid en rugstekery kom nie.

Oop oge ·

Hierdie soort van ding (om ‘n tantrum te gooi s jy nie jou sin kan kry nie) openbaar maar net mense se Geestelike posisie….’n boom word geken aan sy vrugte…

Nell-Marie ·

Belaglik om die minste te sê, of daar nie genoeg ellende is nie, mors van energie en regtig onnodig. Alles oor eie ego! Plaas dat hulle eerder fokus waarvoor hulle betaal word vir die posisies wat hulle beklee.

Sons ·

Liewe hygen land!!!! Dat sulke 2 groot manne hulleself nou wragtie soos 2 kindertjies gedra. Agge nee kom nou julle ons land gaan ten gronde en julle baklei oor parkering. Nee regtig word groot man.

Ekke ·

MM wanneer gaan julle op en af duimpies inbring sodat lesers kan saamstem sonder om kommentaar the herhaal?

Sune van Heerden ·

Dagsê Ekke

Dankie vir jou navraag. Bly gerus ingeskakel, ons het dalk binnekort goeie nuus hieroor!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Stephen Namibia ·

Dis n skande.
Hoe wil julle die land regeer as julle nie eens oor n parkeerplek kan saamstem nie.?
Die DA kan nie hierdie tipe publisiteit bekostig nie. Die land lag vir julle.

Tammy ·

Ag nee man, dis kinderagtig. Die MENEER het mos NIE die die parkeerplek gekoop NIE . Of hy elke dag daar stilhou of nie , die saak dra geen meriete nie!! Dis n demokratiese land en as daar nie n bordjie op is wat aandui jy mag nie daar stop nie is dit n ander saak. Vrouens sou dit baie beter hanteer het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.