Oud-LP, nóg twee vas vir beweerde diefstal in Molemole

(Argieffoto: Bill Oxford/Unsplash)

Nog drie persone is aangekeer in verband met die beweerde diefstal van nagenoeg R4,8 miljoen waarby ʼn senior amptenaar van die Molemole-munisipaliteit in Limpopo ook betrek word.

Die drie sluit in ʼn voormalige parlementslid, ʼn voormalige voorsitter van die Makgatho-gemeenskapseiendomsvereniging en ʼn bankklerk.

Die inhegtenisnemings volg op Vrydag se arrestasie van ʼn senior amptenaar van die plaaslike owerheid. Volgens die Valke het dié man met ander verdagtes saamgespan om ʼn boerderytender aan ʼn maatskappy wat bande met sy vrou het, toe te ken. Die nodige prosesse is glo nie gevolg om die kontrak toe te ken nie.

Die maatskappy het na bewering geen diens aan die gemeenskap gelewer nie, al is hy R4,8 miljoen daarvoor betaal.

Kapt. Matimba Maluleke, woordvoerder van die Valke, het Sondag gesê die oudkomiteevoorsitter, ʼn 70-jarige man, is Vrydagaand by sy huis in Ga-Makgatho aangekeer, terwyl die 51-jarige bankklerk hom aan die polisie in Polokwane oorgegee het.

“Die oud-LP is Sondagoggend by sy huis in Kanana in hegtenis geneem,” het Maluleke gesê.

Die verdagtes verskyn Maandag in die Polokwane-landdroshof op aanklag van diefstal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Waar kan ek ook skep, of is daar ‘n vark troeg iewers waar ek my snoet kan indruk? Raak skoon jaloers as ek nommers sien met ses 000 000 of nege 000 000 000. My geldjies elke maand het net twee 00.

Persheks Adri ·

Dis al wat hulle goed kan doen! Probeer hulle ons aandag weg kry van die korrupsie af in die regering met die kleiner bedrae? Genade wat gaan ons hulle nuwe naam maak?

Nie Verbaas ·

Is iemand nie veronderstel om eers n diens te lewer en dan betaal te word nie? Of werk dit net so vir ons gewone mense? Probleem is dat ANC hulself heeltemal oorskat.

Willempie ·

En so word die korrupsietradisie voortgesit…oud LP na nuwe LP…oud minister na nuwe minister….oud president na nuwe president.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.