Oud-LUR was ‘ware leier’

Gerrit van Rensburg.

Gerrit van Rensburg, ’n voormalige Wes-Kaapse LUR vir landbou, het hom onderskei as ’n ware leier, ’n heer en ’n dienaar.

Van Rensburg, wat van 2009 tot 2014 as LUR vir landbou gedien het, is Maandag oorlede.

Volgens dr. Ivan Meyer, huidige Wes-Kaapse LUR vir landbou, het Van Rensburg die Wes-Kaap en sy boerderygemeenskap met onderskeiding gedien.

“Met sy stil, beskeie geaardheid het hy hom onderskei as ’n ware leier, ’n heer, ’n leier wat dien. Hy het die rol en bydrae van die landbouwerker ten volle waardeer.”

Die Wes-Kaapse Plaaswerker van die Jaar-kompetisie het onder Van Rensburg se leiding eksponensieel gegroei. Hy het ook die adviserende rol erken wat die Agri-werkers Prestige Forum kon speel om landbou in die Wes-Kaap uit te bou.

Meyer het gesê die Wes-Kaapse departement van landbou het tydens Van Rensburg se ampstermyn verskeie toekennings gekry. Die departement is vir drie jaar in ’n ry deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Staatsouditeure aangewys as die departement met die beste jaarsverslae.

Die departement is ook deur die onafhanklike International Food Policy-navorsingsinstituut as die beste provinsiale navorsingsdepartement in Suid-Afrika genomineer.

“Van Rensburg het ’n belangrike bydrae gelewer tot die groei en ontwikkeling van landbou in die Wes-Kaap.”

Meyer het sy medelye betuig met Van Rensburg se vrou, Christa, en sy familie en vriende.

Bonginkosi Madikizela, provinsiale DA-leier, het gesê Van Rensburg het geglo in die landbou se rol in die bemagtiging van mense en die skep van werkgeleenthede. “Hy laat ’n nalatenskap agter waarop ons in die Wes-Kaap baie trots kan wees.

“Hy was ’n toegewyde en hardwerkende staatsamptenaar met ’n onberispelike geskiedenis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.