Oud-lyfwag gevonnis oor Pierneef-skildery

Die Pierneef-skildery wat in die premierskantoor gehang het.

Die voormalige lyfwag van die destydse premier van die Vrystaat, Ace Magashule, is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis in die Vrystaatse hooggeregshof. Hy is skuldig bevind op vier aanklagte in verband met ʼn Pierneef-skildery ter waarde van R8 miljoen.

Regter Soma Naidoo het Ricardo Mettler ook 15 jaar tronkstraf opgelê vir geldwassery toe hy die skildery aan ʼn Chinese sakeman aangebied het as ʼn waarborg vir ʼn lening, het Phaladi Shuping, woordvoerder van die direktoraat van openbare vervolging, gesê.

Die hof het nog 15 jaar tronkstraf bygevoeg op aanklag van bedrog. Mettler het beweer Magashule het die skildery aan hom geskenk en dat dit wettig aan hom behoort.

Regter Naidoo het Mettler ʼn verdere 12 maande tronkstraf opgelê vir ʼn valse verklaring wat hy by die polisie ingedien het, toe hy aangevoer het Magashule het die skildery vir hom gegee.

Ace Magashule (Foto: Simphiwe Mbokazi/African News Agency/ANA)

Maroela Media het vroeër berig ʼn skildery van ʼn Oos-Vrystaatse berglandskap deur die kunstenaar JH Pierneef, het uit Magashule se kantoor verdwyn. Die skildery is tussen R6 miljoen en R8 miljoen werd.

Mettler het die skildery in Maart 2018 gesteel toe hy gehelp het om Magashule se kantoor te ontruim. Hy het die strepieskode verwyder en dit met bruin papier bedek. Hy het die skildery daarna aan Wei-Lun Hsu aangebied vir ʼn lening van tussen R2 miljoen en R3 miljoen.

Hsu het die skildery in die koerant geplaas om te sien of daar nie iemand is wat dit sal opeis nie. ʼn Senior beampte van die departement van openbare werke het die skildery herken en Mettler versoek om dit terug te gee. Mettler het geweier en ʼn aanklag van diefstal is teen hom aanhangig gemaak.

Staatsaanklaer adv. Antoinette Ferreira, het gesê Mettler het geweet hy steel ʼn waardevolle skildery toe hy dit die dag uit die premier se kantoor geneem het. “Die beskuldigde het ʼn motief gehad toe hy die merk wou verbloem. Hy het in Maart 2018 geweet dit is ʼn waardevolle skildery toe hy dit as ʼn waarborg vir Hsu aangebied het. Hy is twee keer versoek om dit terug te gee, maar het geweier. Hy is deur hebsug gemotiveer. Hy het sy vertrouensposisie misbruik.”

Mettler sal effektief 15 jaar agter tralies deurbring omdat die vonnisse gelyklopend uitgedien sal word, het Shuping bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johan ·

Hoop hy kan binnekort daar lyfwag wees vir sy voormalige werkgewer (Ace).

Persheks Adri ·

Skerp Johan skerp! Ja, mag hy wees en mag Ace vinnig op sy hakke wees om te gaan!

Aikie ·

Alles goed en wel. Ons het die skuldiges gekry en hulle is gevonnis, maar waar is die skildery?

Francois Le Cochon ·

Dis wat ek ook wil weet, waar is die skildery? In ander media se berigte word dit ook nie genoem nie.

ronel ·

Waardevolle kunswerk, en die dief se verdiende loon, maar nogal ironies dat n skildery 15 jaar tronkstraf werd is maar ‘n lewe niks,..

Hennie J ·

Raai raai wie gaan n 5 ster verblyf he en die kortste tronkstraf voor parool plus heel moontlik n setel in die parlement.

Spook ·

Dit kon nie met ‘n beter mens gebeur het nie!! :-)
Net ter inligting, die skildery is terug waar hy hoort.

Francois Le Cochon ·

Toe Pierneef terug van Nederland gekom het in 1926, het hy as onbekende sy eerste “straatverkoping” gehou. ‘n Vrou het toe een van sy skilderye gekoop, en dit aan my swaer se ma as trougeskenk gegee. My swaer het dit nogsteeds. Nou wel nie miljoene werd nie, maar nogtans ‘n Pierneef. (So 40×30 cm en om en by R80,000.00 werd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.