Oud-paramedikus nuwe metropolisiehoof

David Tembe. Foto: ANA

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het Woensdag aangekondig dat David Tembe as die nuwe hoof van die Johannesburgse Metropolisie (JMPD) aangestel is. Tembe het Dinsdag in sy nuwe pos begin.

Die aanbeveling dat Tembe as hoof van die JMPD aangestel word, is verlede maand tydens die Johannesburgse stadsraad se laaste raadsvergadering van die jaar goedgekeur, dieselfde vergadering waartydens die opposisie ʼn mosie van wantroue teen Mashaba en speaker Vasco da Gama gebring het.

Die proses wat gevolg is voordat Tembe se naam deur die raad goedgekeur is, het die ANC in Johannesburg woedend gelaat aangesien hulle ʼn ander kandidaat, genl. Eric Gala, verkies het.

Tembe se loopbaan in openbare veiligheid het in 1981 begin toe hy as paramedikus by die Johannesburgse nooddienste aangesluit het. Hy het in 1989 ʼn superintendent geword en in 1999 is hy as waarnemende direkteur van die nooddienste se akademie aangestel.

In 2001 is Tembe as die waarnemende direkteur van bedrywighede aangestel waar hy verantwoordelik was om die stad se 26 brandweerstasies te bestuur. In die daaropvolgende jaar is hy as waarnemende hoof van die nooddienste aangestel en onder sy leiding is die Urban-soek-en-reddingseenheid op die been gebring wat Suid-Afrika tydens rampe in Algerië en Iran verteenwoordig het.

Tembe is in 2003 as die direkteur van bedrywighede in die JMPD aangestel nadat hy byna 20 jaar deel van die stad se nooddienste was. Gedurende sy tyd by die JMPD het hy ʼn toekenning vir uitnemendheid van die nasionale departement van vervoer ontvang vir sy innovasie en prestasie in verkeerswetstoepassing.

In 2011 het Tembe uit die metropolisiemag bedank ná bewerings oor wrywing tussen hom en die destydse hoof, Chris Ngcobo, aangesien Tembe as metropolisiebaas oorgeneem het terwyl Ngcobo vir bewerings van wanadministrasie ondersoek is. Tembe is daarna as die nasionale hoof van die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) aangestel en in 2013 het hy as ʼn konsultant in wetstoepassing begin werk.

Mashaba het Tembe se aanstelling verwelkom. “Ek het volle vertroue in mnr. Tembe se vermoëns en sien uit daarna om saam met hom te werk om ʼn korrupsievrye stad te bestuur wat die oppergesag van die gereg respekteer en ekonomiese groei vir ons mense stimuleer,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jaco ·

Die ANC is seker kwaad omdat hulle kader nie in die pos aangestel nie.
Aan die anderkant weer is kaderontplooiing deur die ANC nie so vreemd nie. Tussen 1948 en 1994 het die ou Nasionale Party regering maar dieselfde gedoen deur top poste vir Broederbonders en ander getroue NP lede te gee.

Mashaba vir president ·

Klink vir my goed, Mr Mashaba het ñ goeie oog vir die regte kandidate

Gerhardb ·

Ek is bly om te sien hy kom darem deur die range. Die Hoof opskrif bietjie verwarrend as jy die man se loopbaan in geheel lees. G’n Wonder die ANC het hulle vererg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.