Oud-polisiekaptein sterf tydens huisroof

André ‘Fabby’ Fabricius. Foto: Paula Roeland

André ‘Fabby’ Fabricius. Foto: Paula Roeland.

Een van die land se beste polisiemanne, ʼn goeie vriend en ʼn kranige rugbyspeler is op ʼn baie slegte manier van ons weggevat. Só beskryf ʼn jarelange vriend die dood van André ‘Fabby’ Fabricius nadat hy Dinsdag tydens ʼn huisroof in Johannesburg geskiet is.

Fabricius (51) was ‘n beampte met die rang van kaptein by die destydse moord-en-roofeenheid in Pretoria.

Lt.kol. Katlego Mogale, Gautengse polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die gesin is Dinsdag in die vroeë oggendure in hul huis in Linden in Randburg oorval. “Die huiseienaar het ʼn geraas gehoor en op die grondverdieping gaan ondersoek instel toe hy op drie gewapende mans afgekom het,” het Mogale gesê. “Een van die verdagtes het op hom geskiet en hom noodlottig gewond.”

Fabricius se vrou en seun is vasgebind terwyl die verdagtes die huis geplunder het.

Mogale het gesê die verdagtes het met ʼn skootrekenaar, ʼn tabletrekenaar en selfone van die toneel gevlug.

“Fabby het in 1982 matrikuleer aan Hoërskool Wonderboom in Pretoria, waarna hy met sy loopbaan in die Suid-Afrikaanse polisiediens begin het,” het Welmar O’ Reilly aan Maroela Media gesê.

Fabricius het vinnig in sy polisieloopbaan uitgeblink en is in die Pretoriase moord-en-roofeenheid opgeneem “omdat hy so goed was”, en het tot die rang van kaptein gevorder. Hy het in 2005/2006 die polisiediens verlaat om aan te sluit by ʼn privaat veiligheidsmaatskappy in Johannesburg.

“Hy was ʼn fantastiese mens, altyd opgeruimd en vriendelik,” het O’ Reilly bygevoeg. “Buiten ʼn puik speurder en goeie vriend, was hy ook ʼn skitterende skrumskakel. Ons het saam rugby gespeel van skooldae af. Hy het Noord-Transvaal-skolerugby en o.20 gespeel en ook ʼn paar keer in die Carltonbekerreeks vir die Bobbies uitgedraf. Hy het ook later ʼn paar wedstryde vir die Lare gespeel.”

O Reilly het gesê Fabricius was bemind in al die kringe waar hy beweeg het. “Hy was een van die bestes.”

Fabricius laat sy vrou Rista en seun Dario (13) agter.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

anet ·

My innige simpatie aan Rista, Dario en familie. Ek hoop en bid dat die skuldiges baie gou vasgetrek sal word. Hierdie moordenaars ontsien niks en niemand. Hulle het geen respek vir ‘n lewe nie, en wat soek hulle in ons private wonings???? Hulle betree ons spasie, maar skiet ons hulle dan word ons aangekla vir manslag al bedreig hulle ons lewe.

Fabby dankie dat jy jou lewe gewy het aan jou medemens se beveiliging, rus in vrede ons groet jou met eerbied

Uys ·

Woorde ontgaan my. Let op die Polisie se kommentaar. N saak van moord word onderdoek. Die Polisie erken dis moord en nie net nog n gewspende roof wat “skeef” geloop het nie.

George ·

Ek is doofpersoon. Ek is afrikaner. Werk Admin saps kaap. Woon in kaap. Wil so graag die inligting afrikaans lees. Baie dankie. George

Bessie ·

My hart gaan uit na die familie. Ons bid vir hulle Mag die skuldiges die keer gevang word. Jesus seën Suid-Afrika In die naam van Jesus.

Corrie Labuschagne ·

Is dit nou huis roof of huismoord ,,,, die woord vermoor word nooit meer deur die media gebruik nie ,, Die woord roof kom alom voor

chris ·

My innigste simpatie met die wat agterbly. Weet net dat Jesus julle sal dra deur hierdie ontsettende moeilike tyd. Hou net aan Hom vas, Hy sal julle nooit verlaat nie. Baie sterkte ons dra julle in ons gebede.

chris ·

My innigste simpatie met die wat agterbly. Weet net dat Jesus julle sal dra deur hierdie ontsettende moeilike tyd. Hou net aan Hom vas, Hy sal julle nooit verlaat nie. Baie sterkte ons dra julle in ons gebede.

Corlaine ·

My innige simpatie met die familie. Mag ons Hemelse Vader julle styf teen Sy borskas vasdruk in hierdie tragiese gebeurlikheid. :( Jesusliefde

Boland Boertjie ·

En in die Parlement het die “President” gelag, en gelag, en gelag. . . . . .

Gwen van Staden ·

Net ‘n regstelling, Kapt Fabricius, het ontslag gekoop 2005/2006 en nie soos in julle publikasie 1995/1996 nie.

Phillip ·

Baie dankie vir die terugvoer Gwen. Ons het dit gewysig.

Vriendelike groete

Phillip

Gwen van Staden ·

Net ‘n regstelling, Kapt Fabricius, het ontslag gekoop 2005/2006 en nie soos in julle publikasie 1995/1996 nie. Hy was een van die bestes en ons aas bevoorreg om baie van hom te leer.

jacques ·

Dis die lekkerste gevoel om te weet ekt die LEGEND geken. Rus in vrede my oom. Sterkte Dario, Tannie Rista en die familie.

Francois Conradie ·

Rus in vrede Kaptein. Hulle tyd sal kom en dan moet hul rekenskap gee!

Esie ·

Een van die bestes wat gewerk het en nie n “jam steler “was .Die werklikheid is Fabi gaan net n statistiek bly. Ek wonder hoe is die toneel weer deur onbevoegde “persone” onersoek en bewysstukke ingesamel is.
Dit jammer dat al die kennis en briljantheid van die SA Polise weg is agv burokrasie en onbevoegde aanstellings in sleutel posisies wat tot die huidige “briljante SAPD” se beeld bydrae.

Paula ·

Tot ons mekaar weer sien my vriend. Rus In Vrede Ysterman! Ons gaan jou baie baie mis Fabs. Jou dood los ‘n groot leemte in almal se harte. Sterkte Rista en Dario xoxoxox …Ons Liewe Vader sal jul beskerm en dra deur die aaklige tyd.

Charlotte Marais ·

Jou stem is stil, jou plek is leeg, maar in ons harte sal jy altyd bly leef!! Gaan jou baie mis Fabby!! Dankie vir die wonderlike voorreg wat ek gehad het om jou te kon ken!! Dit is n TE GROOT VERLIES!!!!

Amelia ·

Fabricius laat sy vrou Rista en seun Dario (13) agter.”‘- die hartseer daar is dat hy laat nie sy vrou en kind agter nie…. hy is uit hulle lewens uit geruk…
Baie jammer vir sy familie en vriende se verlies….
Daardie seer en skok kan geen woorde beter maak nie.

Alwana Du Plessis ·

Ek was stom toe ek hoor klomp drek het n top cop vermoor in sy huis., en toe ek hoor dit is jy Fabby, het die trane spontaan geloop. Fabby jy het n stukkie hart van baie mense saam met jou gevat my vriend. Jy was so n amazing mens. Jou glimlag en daai stukkie stout in jou oë sal ek nooit vergeet. Jy het so n groot bydrae gemaak vir SA, maar SA het jou in die steek gelaat. Dit is n voorreg om te se, ek het jou geken. Jy het as n held gesterf.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.