Oud-polisieman in hof oor bedrog

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Voormalige polisiekaptein wat na bewering onregmatig selfoonrekords bekom het om in ondersoeke deur sy eie private ondersoekmaatskappy te gebruik, het Donderdag in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn.

Paul Scheepers (44), het Donderdag sy voorverhoorverskyning voor landdros Sabrina Sonnenberg gemaak. Hy staan tereg op aanklagte van oortreding van die Wet op die Privaatsekuriteitsbedryf, die Wet op die Onderskepping van Kommunikasie en die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad, asook 23 aanklagte van bedrog.

Staatsadvokate Thersia du Toit-Smit en Max Orban kla aan terwyl Scheepers deur adv. John Riley verteenwoordig word.

Scheepers, wat tans op borgtog van R20 000 vrygelaat is, was voorheen verbonde aan die misdaadintelligensie-eenheid, maar het ook sy eie private ondersoekagentskap genaamd Eagle Eye Solutions Technology bedryf.

Volgens wet kan selfoondiensverskaffers slegs die polisie van rekords van selfoonoproepe voorsien indien ʼn dagvaarding wat deur ʼn senior landdros en die vervolgingsowerhede onderteken is, uitgereik word. Om so ʼn dagvaarding te bekom, moet die ondersoekbeampte ʼn beëdigde verklaring indien wat die besonderhede van die betrokke ondersoek bevat, die nommer van die selfone betrokke en die rede waarom die selfoonrekords benodig word.

Die staat beweer Scheepers het op bedrieglike wyse nommers van selfone betrokke by ondersoeke van sy private maatskappy ingesluit by nommers wat vir amptelike doeleindes aangevra is.

Sonnenberg het Scheepers se verhoor vir 2 Mei volgende jaar geskeduleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.