Oud-Prasa-hoof sê hy is hieroor afgedank

Collins Letsoalo. Foto: ANA

Collins Letsoalo, voormalige waarnemende uitvoerende groepshoof van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), het gesê sy afdanking was weens ʼn “web van korrupsie en plundering” en nie sy beweerde reusesalarisverhoging nie.

Letsoalo het Maandag tydens ʼn mediakonferensie in Pretoria sy stilte verbreek ná sy afdanking in Februarie verlede jaar nadat hy daarvan beskuldig is dat hy sy salaris met 350% verhoog het van R1,3 miljoen tot R5,9 miljoen.

Volgens Letsoalo het hy gedurende sy kort tydjie by Prasa die sindroom genaamd “blameer Lucky Montana en die vorige raad” aan die lig gebring wat veroorsaak het dat hy vinnig vyande gemaak het. Montana was Letsoalo se voorganger en kry die skuld vir talle van Prasa se probleme.

Letsoalo het gesê hierdie “sindroom”, wat hoë vlakke van afwesigheid, ineenstorting van die ingenieursfunksie, gebrek aan werk- of prestasiekontrakte en talle gevalle van seksuele teistering insluit, het die organisasie van sy direksie tot by die skoonmakers verswelg.

“Ek het vinnig agtergekom van die raadslede en bestuurders is patologiese leuenaars. Hulle was meer bekommerd oor die betalings aan verskaffers. Van hulle sou sommer net sonder ʼn afspraak inval om te kyk hoe dit gaan en daarop aandring dat ek uit vergaderings gesleep word.”

Volgens Letsoalo het hy die bestuurders onmiddellik opdrag gegee om nie instruksies van enigiemand anders as hy te aanvaar nie. “Toe breek alle hel los.”

Letsoalo het ontken dat hy sy salaris self verhoog het en het die blaam voor die raad se deur gelê.

“Ek het ʼn leeukuil binnegekom en was omring. By elke direksievergadering, waarvan die meeste spesiale vergaderings was en sonder enige behoorlike kennisgewing, was my verwydering ʼn standaard-agendapunt. Daar is ‘inkomitee’-vergaderings gehou waar die maatskappysekretaris nie teenwoordig was nie. Hierdie vergaderings het geen opnames of notules gehad nie,” het hy gesê.

Volgens Letsoalo het van die vergaderings ure lank geduur en is besluite geneem wat eintlik net moontlik is in die teenwoordigheid van die uitvoerende hoof. “In sommige vergaderings was daar gesprekke oor ʼn sekere bestuurder se ouers wat gebel en gevra het hoekom sy ontslaan is. Dit was nooit oor treine, prestasie of kliënte nie.”

Letsoalo het gesê sy afdanking was oor ondersoeke, verkryging en die betaling van verskaffers. Hy het bygevoeg amper elke raadsvergadering was gefokus op geld en nie hoe om uitgawes te besnoei, inkomste te vermeerder en te verseker treine is skoon, betyds en onderhou nie.

“Ek het in Desember 2016 onbewustelik ʼn knuppel in die hoenderhok gegooi toe ek kort voor die feesseisoen versoek het dat elke werknemer sy of haar sakebelange en dié van hul nabye familie en familielede wat met Prasa sake doen, verklaar. Ek het hulle ook versoek om hul bloedverwantskappe met ander Prasa-werknemers en die aard daarvan bekend te maak,” het hy gesê.

Volgens Letsoalo was die uitslag hiervan skokkend. “Daar was reusegevalle van botsende belange en nepotisme. Dit is waaroor werknemers gekla het. ʼn Mens sou vra, waar was georganiseerde arbeid? Die bewerings sal jou skok, maar dit is nie nou die fokus nie. Ek bly ʼn toegewyde staatsamptenaar. Ek het niemand se geld gesteel nie.”

Die Sunday Times het Sondag sy artikel “Pay it back, AG tells Prasa’s 350% boss” teruggetrek en Letsoalo om verskoning gevra. Letsoalo het die koerant by die persombudsman aangekla nadat daar in Junie berig is die ouditeur-generaal het aanbeveel dat Letsoalo die verhoging moet terugbetaal wat hy glo aan homself toegewys het. Die ombudsman het in Letsoalo se guns beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Domvraag ·

Hy kon mos die abnormale verhoging geweier het? Nou is dit die raad se skuld.
Net soos die student wat R1miljoen studie beurs kry en dit spandeer want dis nie haar skuld nie.
Het hy die geld terugbetaal?

Collie ·

Wie op aarde gee vir homself ‘n 320% verhoging? NEEWAT jy moet gefire word, gee nie om wat die ander redes is nie julle is almal korrup.

D ·

Lekker om so ‘n reuse salaris verhoging te kry. Hoekom sê jy nie nee dankie nie. Soustrein.

Daan ·

Ek sou kon doen met ‘n Miljoen! Lekker lewe in die Nuwe Suid Afrika

Pierre ·

En die Transnet/Prasa saga gaan voort. Terwyl die pensionarisse soms ‘n R35 verhoging kry. Duh?

humor ·

Ai die swakheid van die mens. Kyk hoe het Adam en Eva ook maar geval. Maar neem ook kennis van die straf!!!!

SjN ·

Volgens my kwalifiseer hy nie eers vir die salaris soos voor die verhoging nie, arrogante soustrein ryers.

Geregtigheid ·

Wonder watse kwalifikasies het hy om daardie geweldige salaris te kon kry????

jakes ·

Weereens is hierdie debakel maar die oortjies van die seekoei met onbevoegde bestuurslui van staatsondernemings wat na willekeur salaris verhogings ontvang wat belaglik is. Ek sou eerder wou beklemtoon dat al hierdie gierige kerels se salais met 350% moet verminder want n salaris van meer as R50,000 per maand is oorbodig gegewe hierdie mense kwalifikasies. Hlaudi van die SAUK het dieselfde gedoen en staan in die komende verkiesing terwyl hy eintlik in die tronk moet sit vir die miljoene waarmee hy homself verryk het. Die soustrein in SA is die langste ter wereld.

Jo ·

Het hy nou werklik twee jaar geneem om aan die verskoning te dink??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.