Oud-Pretorianer deurkruis Atlantiese Oseaan – in ’n roeiboot

One Ocean Crew in aksie op hul roeiboot. (Foto: One Ocean Crew/Facebook)

’n Oud-Pretorianer wat in Engeland woon, het die naweek die eerste Suid-Afrikaanse vrou geword om die Atlantiese Oseaan met ’n roeiboot oor te steek.

Die 39-jarige Janette Potgieter, beter bekend as JP, het Vrydag saam met drie Britse spanmaats die uitmergelende Talisker Whiskey Atlantic Challenge van meer as 4 800 km op ’n roeiboot voltooi. Die roete loop vanaf La Gomera in die Kanariese Eilande tot by die Wes-Indiese Eiland Antigua.

JP en haar spanmaats, Jen Cullom, Emily Woodason en Erin Bastian, het eerste in die vroueafdeling en elfde algeheel in die wêreld se moeilikste roeiwedren geëindig.

Dié span – bekend as One Ocean Crew – het ná anderhalf jaar se voorbereiding op 12 Desember weggetrek en Vrydagmiddag plaaslike tyd veilig in Antiqua aan land gekom.

Die strawwe wedren behels dat deelnemers vir meer as 40 dae oor die Atlantiese Oseaan roei terwyl hulle mekaar slegs aflos om te eet en te slaap. Alle voorraad en benodigdhede, waaronder gedroogde kos, is op die roeiboot gelaai, toe hulle meer as ’n maand gelede vanuit die Kanariese Eilande weggetrek het.

“Hulle roei dat die biesies bewe,” het JP se pa, Jan Potgieter, vroeër die week vanuit Pretoria aan Maroela Media vertel.

Janette Potgieter (Foto: One Ocean Crew)

Hoewel die roeiboot oor drie spane beskik, het die span byna heelpad twee-twee vir twee uur aaneen geroei voordat hulle geruil het om te rus, te eet en te slaap.

JP, ’n forensiese ontleder van beroep in Londen, se ouers in Suid-Afrika kon met behulp van ’n app haar avontuur volg en gereeld – soos op Kersdag en Nuwejaarsdag – met behulp van ’n satellietfoon met haar gesels.

’n Trotse Jan vertel dat sy dogter se span reeds vanuit die staanspoor in die vroue-afdeling voorgeloop het. “Alles het goed gegaan. Hulle moes in ’n stadium hulle posisie aan ’n ander span afstaan nadat die sonaangedrewe apparaat wat soutwater ontsout vir hul drinkwater, probleme gegee het.

“Hulle het agtergeraak, maar toe byt hulle vas en kom weer voor.”

Jan sê die Talisker Whiskey Atlantic Challenge is “eie” aan sy avonturierdogter.

’n Vrou met durf

Janette Potgieter (heel regs) en haar spanmaats, Jen Cullom, Emily Woodason en Erin Bastian. (Foto: One Ocean Crew/Facebook)

JP het al vantevore verskeie van die wêreld se hoogste pieke, waaronder Kilimandjaro, Elbrus en Mont Blanc, uitgeklim. Sy het aanvanklik aan die Clipper Round the World-seiljagresies in 2017 deelgeneem voordat sy deur ’n spanmaat aan die Talisker Whiskey Atlantic Challenge bekend gestel is.

Op die vraag of hy as pa die afgelope maand bekommerd was oor sy kind, het Jan eerlik geantwoord: “Ons is besorg, maar daar is nie vrees nie.

“Ons is nog altyd mense wat die buitelug geniet en het al baie dinge saam met ons kinders gedoen. Ons het die Drakensberge geklim, die Visriver gestap en die Oranjerivier geroei.

“Vasbyt. Deursettingsvermoë. Dié dinge kom eintlik al van kleins af.”

JP se gesin is ook lief vir skubaduik en Jan onthou dat ’n duikinstrukteur eenkeer aan hulle gesê het dat die mens altyd in harmonie met die natuur moet leef. “Of jy nou gaan duik, stap of roei – jy moet weet jy bevind jou in God se skepping en jy moet in harmonie daarmee wees.

“As jy daardie punt bereik, is daar nie vrees nie.”

Jan bieg hoewel hy nooit die afgelope maand vir JP se lewe gevrees het nie, het hy die afgelope week emosioneel geraak wanneer hy aan haar dink. “Dit is ’n groot storie,” sê hy oor die wedren.

JP sal na verwagting in Februarie vir die eerste keer sedert die uitbreek van die Covid-19-pandemie na Suid-Afrika terugkeer om vir haar ouers te kom kuier.

  • One Ocean Crew het aan die Talisker Whiskey Atlantic Challenge deelgeneem ten bate van die bewusmaking van vroueregte en maritieme bewaring.

One Ocean Crew in aksie op hul roeiboot. (Foto: One Ocean Crew/Facebook)

One Ocean Crew bestaan uit een Suid-Afrikaner en drie Britte. (Foto: One Ocean Crew/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.