Gewese SA kolonel spring doodstraf vry

William Endley. Foto: ANA

Salva Kiir, president van die Republiek Suid-Soedan, het Woensdag aangekondig oudkolonel William Endley, Suid-Afrikaanse raadgewer aan rebelleleier dr. Riek Machar, sal Donderdag vrygelaat word as deel van ʼn vredesverdrag.

“Ek sal hom môre vrylaat en hy sal na sy land gedeporteer word,” het Kiir tydens ʼn vredeseremonie in Juba gesê.

James Gatdet, woordvoerder vir Machar, sal ook vrygelaat word.

Charmaine Quinn, William se suster, het Woensdagaand die nuus aan Maroela Media bevestig. “Iemand wat die vredeseremonie bygewoon het, het my net ná die aankondiging gekontak om ons in kennis te stel,” het sy gesê. “Dit voel byna onwerklik. Ons het nog nie al die besonderhede nie, maar ons is baie dankbaar oor die nuus.”

Endley (57), ʼn voormalige Suid-Afrikaanse weermagkolonel, is die doodstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is aan sameswering en ʼn poging om die Suid-Soedannese regering omver te werp. Hy is ook skuldig bevind aan die verskaffing van wapens, spioenasie, aanhitsing tot ʼn opstand, sabotasie, terrorisme en onwettige toegang tot Suid-Soedan.

Die Endley-familie glo egter Kiir se administrasie het van William ʼn sondebok gemaak omdat hy ʼn veiligheidsraadgewer vir Machar was en homself daarmee aan die verkeerde kant van die politiek in Suid-Soedan bevind het.

william-endley-01

Een van die min amptelike foto’s wat die Endley-familie aan die begin van William gekry het. William is sonder enige aanklagtes in een van Suid-Soedan se berugte tronke, Blue House, aangehou. Foto: Verskaf.

William is in Augustus 2016 in hegtenis geneem terwyl Juba in ʼn bloedbad van geweld ontaard het na bewerings van ʼn beplande sluipmoord op Machar aan die lig gekom het. Machar, die rebelleleier van die Sudan People’s Liberation Army (SPLA) wat die opposisie in Suid-Soedan is, was toe nog die adjunkpresident in Kiir se kabinet.

Machar se private magte en Kiir se regeringsmagte het op mekaar geskiet en Machar het landuit gevlug. Die Suid-Afrikaanse regering het gesê Machar is op uitnodiging in Suid-Afrika en kry hier mediese behandeling. Daar word vermoed dat hy hom tans iewers in Gauteng bevind.

William het eers ses maande ná sy inhegtenisneming op 13 Februarie 2017 vir die eerste keer in die hof verskyn. Gwyneth, William se dogter, het verlede jaar aan Maroela Media gesê haar pa se visum het verval en dat hy om dié rede nie die land kon verlaat nie. “Terwyl hy vir sy nuwe dokumente gewag het, het die sekuriteitswagte hom in sy hotelkamer in Juba in hegtenis geneem.”

Hy is in dié tyd sonder enige formele aanklagte in een van die land se mees berugte tronke, die Blue House, aangehou. William het min kontak met sy familie of die buitewêreld gehad en sy gesondheid het ook verswak.

Sy regsverteenwoordiging het tydens die hofsaak aangevoer William is ʼn politieke gevange wat eintlik vrygelaat behoort te word ingevolge ʼn skietstilstand-ooreenkoms wat in Desember 2017 in dié land bereik is.

“Hy was slegs daar om sake te bemiddel en om die veiligheidsmagte te intrigeer. William was beslis nie daar om te veg nie – hy wou slegs die land met hulle vredesproses help. Selfs sy regsverteenwoordigers het gesê die hele hofsaak was ʼn regsdwaling,” het Quinn gesê.

Lees alle vorige berigte oor William Endley op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

ZAR ·

Dis verblydende nuus. Ek is saam met hom en sy familie dankbaar.

Harry ·

Wonderlike nuus – daar is nog wonderwerke in donker Afrika!

IK ·

Ek praat nie die dade goed vd Boeremag maar dáár bestaan nie menslike genade.

Basjan ·

Dit sal nogal interessant wees om die storie ágter die storie te hoor.

Cornelius du Rand ·

Afrika reg. Suid Afrika is op dieselfde pad. Ek sien dit daagliks gebeur. Die regering van die dag besluit of jy tronk toe gaan of nie.

Mrs H ·

Hoeraaaa!!!! Maak vir die man n bord Boerekos! Steek n lekker braaivleis vuur aan! Mag die komende Kersfees en nuwe jaar wonderlikke familie oomblikke wees, en alle hartswonde genees.

Willie ·

Baie bly!! Mens moet maar weg bly van daai lande, veral in oorlog konflik… Retief stories..

Kaaap ·

Dit is teen ons land se wette om ‘n huur soldaat te wees of om betrokke te wees by ‘n beplande coup d’éta. Hoop nie dat hy met sy aankom in SA gearrestreer word nie.

WdW ·

Baie dankbaar saam jou en jou naasbestaandes. Ons wag vir jou met jou tuiskoms Makker.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.