Oud-SA tennisspeler in Ierland dood

Schalk van der Merwe. Foto: Verskaf

Schalk van der Merwe. Foto: Verskaf

Die voormalige Suid-Afrikaanse tennisspeler, Schalk van der Merwe, is Sondag in die ouderdom van 54 in Ierland oorlede.

Danie Morkel, ʼn goeie vriend van Van der Merwe en president van Tennis Boland, het gesê Van der Merwe het nie opgedaag vir ʼn afspraak nie waarna ʼn kollega hom gaan soek het. Sy motor is langs die pad gevind met sy liggaam daarin. “Die nadoodse ondersoek het getoon hy is weens breinbloeding dood,” het Morkel gesê.

“Hy het seker hoofpyn gekry of begin sleg voel en toe van die pad afgetrek. Hy het die afgelope paar jaar met hoë bloeddruk gesukkel. Ná sy knieoperasie ’n ruk gelede het hy nie weer tennis begin speel nie.”

Van der Merwe, ʼn mediese dokter, het in Durbanville in die Wes-Kaap gepraktiseer en soms kontrakwerk in Ierland gedoen. Volgens Morkel was Van der Merwe oor die feestyd by sy familie en vriende voordat hy in Januarie weer Ierland toe is.

“Hy was ʼn ongelooflik talentvolle mens en tennisspeler,” het hy gesê. “Hy het in die kwarteindronde van die Amerikaanse Ope se o. 18-toernooi gespeel, asook die kwarteindronde van die junior Wimbledon-reeks. In 1980 was hy die wenner van die nie-amptelike wêreldkampioenskaptitel wat deur o. 18-spelers gespeel is.”

“Sy ranglys was 157 in enkels en 81 in dubbels voordat hy besluit het om uit professionele tennis te tree en teologie te studeer.” Volgens Morkel het Van der Merwe egter aanhou tennis speel en in 1986 die SA geslote kampioenskapstoernooi gewen, asook promotorskeuse in die SA Ope behaal. Daar het hy Jakob Hlasek, wat in daardie stadium nommer 10 in die wêreld was, in die eerste ronde geklop.

Van der Merwe het ná twee jaar studie aan die Universiteit van Pretoria by sy vrou in Stellenbosch aangesluit, waarna hy besluit het om hom as mediese dokter te bekwaam.

Hy word oorleef deur sy vrou, Alna, en hul twee seuns. ʼn Gedenkdiens sal Vrydag by die NG kerk Durbanville-Bergsig gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

DPJ ·

Dat ‘n fiks man in die ouderdom van 56 j aar so sterf. Moet moeilik vir sy familie wees. Sterkte .

Christene ·

Dr van der Merwe was jare gelede ons huisdokter in Durbanville…wat ‘n aangename man en uitstekende dokter. Ons innige simpatie aan sy familie.

Sarie ·

Baie tragies en dit maar op 54. Sterkte aan sy familie hy het ons land se naam hooggehou

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.