Oud SA’ner dryf oorsese projek vir SA wesies

Die vleis is Dinsdag aan die kinderhuise oorhandig (Foto: Verskaf)

Vir ʼn oud-Suid-Afrikaner wat nou in Australië woon lê haar geboorteland haar nog ná aan die hart en het sy genoop gevoel om geld in te samel om weeskinders in Suid-Afrika met kos en skryfbehoeftes te help.

Die oud-Suid-Afrikaner, wat anoniem wil bly, is jare lank al betrokke by die Nederlandse nie-winsgewende organisasie Helpende Hande. Dié organisasie identifiseer jaarliks projekte in Afrika en ander Derdewêreldlande wat dan finansieel ondersteun word.

Die vrou is geïnspireer om ook ’n verskil te maak deur die storie van ’n Kanadese paar wat verlede jaar hul harte vir die Suid-Afrikaanse kinderhuise oopgemaak het. Anneke en Ben Lovegrove van Bradford het verlede jaar geld – wat hulle as trougeskenk ontvang het – aan twee kinderhuise in Suid-Afrika in die vorm van ʼn voorraad vleisverpakkings geskenk.

“Ek het na die organisasie gegaan en voorgestel dat ons ook die kinderhuise in Suid-Afrika ondersteun. ’n Klein bedrag in dollar beteken baie in rand en kan ’n groot verskil maak. Veral vir hierdie kinderhuise wat finansieel swaar trek weens Covid-19,” sê die oud-Suid-Afrikaner.

Skoolklere is ook aan die kinderhuise geskenk (Foto: Verskaf)

Marlene Ehmke, wat die projek in Suid-Afrika fasiliteer, sê Helpende Hande het besluit om die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuis te ondersteun met ʼn skenking van €500 (sowat R10 000). Dié geld is aangewend vir die aankoop van skryfbehoeftes. “Die skryfbehoeftes is by ’n klein skryfbehoeftewinkel, Graffiti Boeke in Zambezi Junction, Pretoria, aangekoop, en só is ’n klein onderneming ook in die proses by die transaksie ingesluit.”

Die oud-Suid-Afrikaner het ook klomp van haar vriende in Australië genader om deel te word van dié projek. ’n Bedrag van sowat 7 000 Australiese dollar (R76 588) is ingesamel. Dit is aangewend om te help met die aankoop van skoolklere en vleis. Talle oud-Suid-Afrikaners is deel van hierdie groep skenkers.

“Skoolklere ter waarde van R30 000 is by verskeie instansies aangekoop aangesien die kinders van die twee kinderhuise tans 18 verskillende skole bywoon,” sê Ehmke.

Die skenkings vir skryfbehoeftes en skoolklere is reeds vroeg in Januarie gemaak.

Dawid de Bruyn van Jandrés Vleismark (Foto: Verskaf)

Die eienaars van Jandre’s Vleismark in Valhalla het ingestem om ook aan die projek deel te neem. Hulle het  300 kg vleis in 2 kg-verpakkings verpak en het dit Dinsdag aan die kinderhuise oorhandig. Die verpakkingsmateriaal is deur Modern Packaging geborg.

Die oud-Suid-Afrikaner woon al die afgelope 25 jaar in Australië, maar Suid-Afrika lê haar steeds na aan die hart. “My ma en van my vriende woon nog in Suid-Afrika. Dit is sleg om te sien hoe my tuisland deur die Covid-19-pandemie getref is. Daarom sal ons enigiets in ons vermoë doen om te help waar ons kan.”

Die Jakaranda-kinderhuis het 20 huise met ongeveer 15 inwoners (onder wie huisouers) per huis en die Louis Botha-kinderhuis het nege huise, ook met ongeveer 15 inwoners per huis.

Charlene Grobler, uitvoerende hoof van die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuis, sê die skryfbehoeftes, skoolklere en vleisskenking is vir hulle waardevol en dat hulle groot waardering het vir die inwoners van Australië en Nederland se ruimhartigheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anel ·

Wonderlike gebaar, dankie, veral omdat hierdie kinderhuise amper geen staatsondersteuning kry nie. Baie dankie ook aan Dawid. Jandré’s is in Valhalla en hy maak die lekkerste biltong. Trots om te sê hy is deel van ons gemeenskappie.

Di ·

Dis wonderlik! Dis absoluut noodsaaklik dat mense veral die blankes ondersteun in die moeilike tye wat ons tans in die land beleef. Die regering sorg net vir hulle eie mense en geen nie ‘n duit om vir al die blankes wat sonder werk, kos of blyplek sit nie. Daar is soveel blankes wat in plakkerskampte woon onder haglike omstandighede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.