Oud-SA’ner nou trotse lid van VSA-vloot

Zenka Yodice is oorspronklik van Amanzimtoti en is deesdae ‘n trotse lid van die Amerikaanse vloot. (Foto: Patricia Rodriguez)

Deur Alvin Plexico

ʼn Boorling van Amanzimtoti in KwaZulu-Natal is deesdae lid van die Amerikaanse vloot se maritieme patrollie- en verkenningsvliegeskader in Jacksonville, Florida. En sy floreer in die taak.

Onderoffisier Zenka Yodice het haar ʼn jaar gelede by die vloot aangesluit en dien vandag as personeelspesialis.

“Ek wou ʼn verskil maak en iets groters doen as waarmee ek in daardie stadium van my lewe besig was,” sê Yodice.

Sy vorm deel van Patrollie-eskader Vyf, ʼn tegnologies gevorderde maritieme patrollie- en verkenningseskader wat die wêreld se oseane in ʼn P-8A Poseidon, ʼn vliegtuig toegerus met die jongste tegnologie, monitor.

Yodice het in Amanzimtoti grootgeword en was ʼn leerder by die Kuswag-skool waar sy in 2006 matriek behaal het. Vandag geld dieselfde waardes wat sy destyds daar geleer het ook in haar werk.

“Ek het veerkragtigheid geleer, asook hoe om vinnig aan te pas, en het geweet dat die lewe veel moeiliker as die huidige omstandighede kan wees. Ek het ook geleer dat goedhartigheid baie beteken.”

Die bemanning van die P-8A Poseidon is onder meer belas met seepatrollies en verkenningswerk, langafstand- teen-duikboot- en teenoppervlak-oorlogvoering, asook die insameling van intelligensie.

Die P-8A Poseidon is ook gevegsgereed.

Haar diens in die vloot beteken Yodice is deel van ʼn wêreld wat al hoe belangriker word in die VSA se fokus op die herbou van militêre gereedheid, die versterking van alliansies en die hervorming van sakepraktyke ter ondersteuning van die land se Nasionale Verdedigingstrategie.

“Die vloot beskerm mense deur oor die wêreld ontplooi te word,” sê Yodice.

Meer as 90% van alle handel wat gedryf word, behels seevervoer en 95% van die wêreld se internasionale telefoon- en internetverkeer word deur veseloptiese kabels op die seebodem gedra. Vlootoffisiere benadruk dus dat die voorspoed en veiligheid van die VSA regstreeks met ʼn sterk en parate vloot verband hou.

Adm. Mike Gilday, hoof van vlootoperasies, sê daar word op matrose, gereedheid, vaardigheid en vermoëns gefokus.

“Reeds 245 jaar lank, in kalm en onstuimige waters, het ons vloot wag gestaan om die land te verdedig, vryheid op die see te verseker en ons lewenswyse te beskerm,” sê Gilday.

“Ons besluite en beleggings in hierdie dekade gaan die maritieme magsbalans vir die res van die eeu bepaal. Ons kan niks anders as sukses aanvaar nie.”

Daar is talle prestasies wat in die weermag toegeken kan word, en Yodice is veral trots daarop om reeds as eregegradueerde by die opleidingskamp aangewys te word.

“Om eerste in my klas te wees, het my trots gemaak, want ek besef ek kan enigiets te bowe kom,” sê Yodice.

Terwyl Yodice en die ander matrose hul opleiding voortsit, is sy ook trots daarop om haar geboorteland in die Amerikaanse vloot te verteenwoordig.

“Om iets te doen en deel te vorm van iets waarvan baie mense waar ek vandaan kom net kan droom, is werklik vervullend,” sê sy.

“Om in die vloot te dien, beteken ek het iets bereik wat ek altyd met my kan saamneem.”

  • Die berig het oorspronklik op American Connections Media Outreach verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Samuel ·

Dit is welgedaan. By ons sou Kubane voorkeur geniet het. Sy sal SA se naam hoog hou.

jou gewete ·

gelukkig is sy nie meer n sakaner nie so sy kan op haarself en Amerika trots wees

SjN ·

Hier by ons krap hul nog kop oor die ontwerp van n sifdeur om suurstof in te laat vir die duikboot.

Realis Thailand ·

n Mens voel trots om te sien daar is darem nog weermagte wie ordentelike troepe inneem en waardeer
Die vrou gaan n sukses van haar loopbaan maak kan dit sommer sien
My dogter op Kleinmond se buurman het n seun wie, in Januarie oorlede is, wie n Apache loods was in die Amerikaanse Weermag. Wat mn pratige kind ek eht hom een of tweekeer ontmoet
daar is ook n hele klomp lede van die Britse magte wie Suid Afrikaners is. In die VSA kan jy net n offisier word as jy n Amerikaanse Burger word en in die Weermag neem dit net drie jaar om burger te word

Ettienne ·

Goed gedoen!

Die teenpool van hierdie prestasie is dat die jong dame ‘n slagoffer is van die ANC se strategie van “volksverplasing: – druk ( dmv onder andere plaasmoorde en regstellende aksie) word op die blankebevolking geplaas om Suid-Afrika te verlaat en word dan vervang deur die wat vanaf ander dele van Afrika instroom na Suid-Afrika.

Maar weereens, welgedaan aan die jong dame.

Charl ·

Wel gedaan Zenka, ek’s trots op jou en so ook baie ander mede Suid Afrikaners, dra ons vaandel hoog !

Karina ·

Wel gedaan en baie geluk. Ten minste daar word jy waardeer! Voorspoed vir ‘n groot nuwe toekoms.

Jack ·

Al het ons n vloot gehad sou sy nie inkom nie. Jammer nog n verlies vir ons land.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.