Oud-Sanlam-adviseur gevonnis

Argieffoto

’n Voormalige finansiële adviseur van Sanlam is Maandag in die handelsmisdaadhof in Bellville in die Wes-Kaap tot tien jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is op verskeie aanklagte van bedrog.

Francois Martinus Labuschagne (51) is in Januarie verlede jaar in Louis Trichardt, Limpopo, deur die Valke in hegtenis geneem ná ’n ses jaar lange ondersoek rakende bedrieglike bedrywighede by Sanlam se Ceres-tak tussen Augustus 2007 en Januarie 2010.

Volgens kapt. Philani Nkwalase, Valke-woordvoerder, het Labuschagne meer as 32 kliënte gedurende dié tydperk uit hul spaargeld ter waarde van meer as R650 000 bedrieg.

Nkwalase verduidelik dat Labuschagne sy kliënte oortuig het om ʼn gedeelte van of die volle voordeel uit hul beleggingsportefeulje te onttrek. Daarna het hy aan hulle gesê dat hy die geld met gewaarborgde hoër opbrengste herbelê het. Dit was egter nié die geval nie en die geld is in sy eie sak gesteek en vir eie gewin gebruik.

Labuschagne was voortvlugtend voordat hy in Limpopo vasgetrek is. Die saak is gevolglik na die handelsmisdaadhof oorgeplaas waar Labuschagne verskeie verskynings in die hof gemaak het voordat die saak onlangs afgehandel is.

Labuschagne is deur die hof aangesê om meer as R500 000 uit sy pensioen en die saldo van die onbetaalde fondse in paaiemente terug te betaal. Die vonnis wat hom opgelê is, is vir vyf  jaar opgeskort op voorwaarde dat die beskuldigde nie weer skuldig bevind word aan soortgelyke oortredings nie.

Labuschagne is ʼn verdere vonnis van 36 maande korrektiewe toesig opgelê met ʼn rehabilitasieprogram wat gevolg moet word soos vasgestel deur ’n maatskaplike werker by die gemeenskapskorreksiekantoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Die Verlore Skaap ·

Nog n Makelaar/Finansiele Adviseur/Fondsbestuurder gevonnis vir bedrog in Suid-Afrika.
Hoeveel is daar wat nog nie uitvang is nie ?
Dalk jou eie Finansiele Adviseur (of wat ookal hy hulself noem vir nou) ?
Wakker slaap !

Johan H. ·

As hy so swaar straf kry moet die kabinet kriminele waarvan ons nou hoor by basasa,, Die doodstraf kry,,, Dan nie???

Cherokee ·

Swaar straf? Inteendeel, die skeidsregter was hom baie genadig. Hy het lig daarvan afgekom. Wie nie so genadig gaan wees nie en wat hom gaan looi, is SARS want hy moes R500 000 uit sy pensioen onttrek voor pensioen ouderdom, en hy sal belas word op sy jaarlikse inkomste + 500 000.

Dries ·

@Die Velore Skaap. Elke boom het sy vrot appels. Sekerlik in jou beroep ook ? Moenie veralgemeen nie.

Ellisras ·

As ek SANLAM hoor voel ek veilig. Dink betroubaar en nou kom hy met skelm streke in Sanlam se naam.
Skelms het geen brieke nie.

pbotha ·

Nee wat verlore skaap…jy veralgemeen nou. Ek is al 30 jaar in die bedryf, en bitter baie eerlike en goeie adviseurs ontmoet…by talle versekeraars. Ek daag jou uit om die eksamens te slaag wat hulle deesdae moet skryf…baie professionele en gereguleerde bedryf deesdae. Jy verkondig bog!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.