Oud-SANW-generaal van bedrog verdink

(Foto: Shutterstock)

ʼn Voormalige generaal in die Weermag, Mendis Eddy Modlane (67) het in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn op drie aanklagte van bedrog. Sy medebeskuldigde is Mugisha Charles Mwali (59), direkteur van die maatskappy Phomolo Enterprises.

Modlane is vrygelaat op borgtog van R10 000. Mwali, wat die maatskappy verteenwoordig op een aanklag van bedrog, is vrygelaat op borgtog van R5 000.

Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê Modlane was in 2015 brigadier-generaal in die SANW, betrokke by die ontplooiing van soldate na ander lande in en Suid-Afrika.

“Op 10 November 2015 het die afdeling die aanskaffing van 3 000 hittebestande buffs (ʼn materiaalbuis wat mens soos ʼn serp kan dra) en 3 000 weermag-skermbrille versoek. Dié toerusting is versoek om siektes te voorkom wat veroorsaak word deur stof vir verskeie Suid-Afrikaanse basisse in Soedan, teen ʼn geraamde waarde van R2,2 miljoen.”

Modlane het na bewering op 14 Desember 2015 die SANW bedrieg toe hy ʼn versoek aan die sentrale verskaffingsdienssentrum (CPSC) gestuur het om van die normale aanskaffingsprosesse af te wyk.

“Hy het versoek dat Phomolo Enterprises aangestel word om die items te verskaf en af te lewer vir drie rotasies met aanvang van 16 Januarie 2016. Ná CPSC die versoek goedgekeur het, is Phomolo Enterprises genooi om ʼn tender in te dien. Die tender is toe ingedien met ʼn waarde van R2,1 miljoen. Die maatskappy is op 15 Februarie 2016 aangestel om die dienste te lewer.”

Mahanjana sê die twee is op 17 April 2024 in hegtenis geneem ná hulle hulself aan die polisie oorgegee het. “Die twee het skuld ontken en het versoek om vrygelaat te word op borgtog. Die staat het nie hul aansoek om borgtog teengestaan nie, omdat daar nie ʼn vlugrisiko is nie en geen vorige skuldigbevindings of hangende sake teen hulle het nie.”

Die saak is tot 17 Julie 2024 uitgestel vir verdere ondersoek.

“Nog beskuldigde persone sal na verwagting by die saak bygevoeg word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Delia ·

Ag ek raak naar as ek die goed hoor. Waar is die integriteit?

Aggie ·

Wie bepaal of daar ‘n vlugrisiko is? Daar is baie maniere om uit die land te vlug, soos ons nou al weet! Is ‘n generaal te ‘n hoë rang om borgtog te weier? Ek dink hier is werk vir Solidariteit!

Kokerboom ·

Ala MK troepe!Waarmee word 400 generaals in weermag besig gehou? Hier is antwoord.
Die SANW is ‘n skaduwee van wat dit was

Cassie Carstens ·

Daar is nie ‘n staatsliggaam waar nie skelms is nie. Staatskaping was Zuma se kind.

Niklaas ·

Daar is darem vreeslik baie top offisiere soos Brigadier Generaal in die weermag deesdae.
Lyk asof die hoë range sommer gratis uitgedeel word. Hoop die rang word binnekort effe verlaag vir Modlane.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.