Oud-seesoldaat gevonnis wat eie dood vervals

Argieffoto

’n Voormalige Amerikaanse seesoldaat is Dinsdag in die Mthatha-hooggeregshof in die Oos-Kaap tot effektief 20 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy ʼn onbekende man doodgemaak en verbrand het om die liggaam as sy eie voor te hou. Dít alles om versekeringsmaatskappye uit R500 000 te bedrieg.

Karl Kamal Rashid is 20 jaar tronkstraf op aanklag van moord en altesaam 15 jaar tronkstraf vir drie aanklagte van bedrog opgelê. Dié vonnisse sal samelopend uitgedien word.

Volgens Luxolo Tyali, streekswoordvoerder van die direkteur vir openbare vervolging in Mthatha, is Rashid vroeër vandeesmaand daaraan skuldig bevind dat hy sy eie dood in 2011 in Sterkspruit vervals het.

Rashid het 26 jaar lank in die Amerikaanse weermag gedien voordat hy na Suid-Afrika verhuis en met ʼn Suid-Afrikaanse vrou getrou het. Tyali het gesê Rashid is aanvanklik saam met sy vrou vir die misdade aangekla, maar die staat het later die saak teen haar laat vaar aangesien daar nie voldoende bewyse was om te bewys dat sy van haar man se wandade geweet het nie.

Rashid het Dinsdag voor sy vonnisoplegging ʼn emosionele pleidooi in die hof gelewer waarin hy die mense van Sterkspruit, Suid-Afrika en die Amerikaanse regering om verskoning gevra het.

“Ek het dit nooit sien kom nie. Ek het daardie man doodgemaak en ek weet nog steeds nie wie hy was nie. Ek het ʼn dom fout begaan en nou kom die goed terug om by my te spook,” het Rashid gesê.

Toe die staatsadvokaat, Sibusiso Nolutshungu, die beskuldigde egter onder kruisverhoor plaas kon hy nie verduidelik waarom hy nou eers, ná ’n agt jaar lange verhoor, skuld erken nie.

Die staat het aangevoer dat Rashid nie werklik berou het nie, maar slegs die situasie betreur waarin hy homself bevind. Die hof het hiermee saamgestem, maar besluit om hom nie lewenslange tronkstraf op te lê nie.

Regter Ndzondo het gesê sy het tydens die oorweging van vonnis in ag geneem dat Rashid sedert Desember 2011 in aanhouding was en ook die departement van korrektiewe dienste gehelp ​​het om ʼn ontsnappingspoging deur gevangenes te fnuik tydens sy tyd in aanhouding.

Rashid het destyds versekeringspolisse uitgeneem op sy lewe en bates en met begrafnisdekking in die geval van sy dood. Hy het toe sy eie dood vervals deur iemand anders dood te maak en dié man se liggaam te gebruik om sy plan uit te voer.

Rashid het op 3 September 2011 die oorledene, wat onbekend is aan die staat, se liggaam op die bestuurdersitplek van sy motor geplaas en toe petrol oor die liggaam en die motor uitgegooi.

Hy het die motor aan die brand gesteek waarna hy uit sy woonplek by Manxeba Village naby Sterkspruit verdwyn het.

Sy vrou het daarna eise ingedien by First National Bank, Outsurance en Kansas City Life Insurance. ʼn Bedrag van altesaam R512 470 is destyds deur die verskillende versekeraars aan haar uitbetaal, voordat die polisie eindelik die versekeringsmaatskappye van die bedrog in kennis gestel het.

Rashid is in Desember 2011 in ʼn woonstel in Bloemfontein in hegtenis geneem en sy aansoek om borgtog is geweier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Regskundige ·

Maroela, let asb op julle teenstrydigheid in die berig. “…effektief tot 20 jaar tronkstraf gevonnis…” beteken dit is die maksimum tyd wat hy sal uitdien. Hy is aan verskeie misdrywe skuldig bevind en op afsonderlik daarvoor gevonnis ((20 jaar en 15 jaar (lg. totaal vir 3 aanklagte van bedrog) onderskeidelik)). “Dié vonnisse sal AANEENLOPEND uitgedien word…” beteken dat die vonnisse een na die ander, dws. 35 jaar effektief, uitgedien sal word. Indien dit egter effektief 20 jaar is, word die vonnisse SAMELOPEND uitgedien en nie AANEENLOPEND nie. Dankie vir julle aandag hieraan. Groetnis.

Mariné Lourens ·

Dagsê Regskundige

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is gewysig.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

marous ·

Wat ‘n grap is die regstelsel nie ? Hy moes lewenslank en nog 400 jaar gekry het !

SjN ·

Hy is dan reeds dood, papierwerk reeds afgehandel, sorteer dit vinnig uit.

Heksie ·

Vir so bietjie geld sal ek nie in die tronk wil sit nie! R50 miljoen dalk maar nie ‘n skamele R500,000.00 en om als te kroon het hy ‘n onbekende man vermoor daarvoor!

jakes ·

Ek bevraagteken die bewering dat hy in die Amerikaanse weermag gedien het. Dis snert want n soldaat wat daar diens gedoen het en nogal vir 20 jaar sal finansieel selfstandig wees. En boonop het hy die daad in Mthata gepleeg, sekerlik een van die mees agterlike plekke in SA. Indien hy wel in Amerika gewerk het moet hy sy kop laat lees het om hier in SA te kom bly. Klink so al vir my of hy dalk van Chatworth in KZN af kom.

Johan ·

Duidelik is jy nie bewus hoeveel eks US soldate sit op straat na hul jare lank hul land gedien het nie. Duisende mense immigreer/emmigreer,hoekom kon hy nie.Het dan n SA vrou getrou.

Michelle ·

Nee hoe kan die ‘n hof nog luister na versagtende omstandighede die man was nie jammer nie hy het ‘n onskuldige man se lewe gevat vir sy eie geldgierigheid. Hy moet nooit weer die buitelug sien nie. Iewers is daar familie wat wonder waar die persoon is. Ek hoop daar is geregtig heid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.