Oud-sers.maj. ure lank in PTA aangerand, beroof

Pieter Jooste. Foto: Verskaf

Pieter Jooste. Foto: Verskaf

Pieter Jooste (55), ʼn voormalige sersant-majoor van die weermagbasis in Thaba Tshwane (Voortrekkerhoogte) in Pretoria, is Donderdag vir ongeveer twee ure lank in Rosslyn in die noorde van die stad deur 10 mans aangehou en gemartel voordat hy beroof is.

“Dit is die tweede voorval wat ons naby raak,” het David Pieterse, Jooste se susterskind, Vrydag aan Maroela Media gesê. Hy sê sy ouers is al jarelange bure van dr. Anthony (Tony) Allden, ʼn bekende pediater van Pretoria, wat Woensdag in die vroeë oggendure by sy huis tydens ʼn vermeende huisbraak in Amandasig geskiet is. Hy word steeds in die Montana-hospitaal behandel. Lees meer hier.

“My oom [Jooste] het gistermiddag omstreeks 17:00 sy werkers gaan aflaai en op pad terug na sy huis in Karenpark is hy by ʼn stopstraat in Rosslyn deur drie mans oorval. Hy het in ʼn Ford Ranger-bakkie gery,” het Pieterse verduidelik.

Een van die drie mans het ʼn vuurwapen by hom gehad, en die ander twee was met messe gewapen. “Hulle het my oom gedwing om in ʼn veld in te ry waar sewe ander mans hom ingewag het. Hy is uit die voertuig gepluk en wou homself verdedig. Hy was een man teen 10.”

Volgens Pieterse het die verdagte met die vuurwapen Jooste oor sy kop geslaan en hy het geval. “Hy is toe verder geskop en geslaan. Een van die aanvallers het sy gordel uitgetrek en hulle het dit om sy nek gesit en wou hom aan ʼn boom ophang. Gelukkig het die tak gebreek.”

Jooste se nagmerrie het nie hier geëindig nie. Die aanvallers het aangedring op sy beursie met bankkaarte en PIN-kodes. “Vyf mans is daar weg met sy bakkie om geld uit sy rekening te trek. Hulle het gesê as hy oor sy kodes jok, sal hulle hom doodmaak.” Die ander vyf mans het by Jooste gewag en hom verder aangerand totdat hul makkers teruggekeer het. Hulle het toe die bakkie van alles wat waardevol is, waaronder Jooste se GPS en selfoon, geplunder, die sleutels in die veld gegooi en gevlug.

“My oom kon die sleutels kry en het na sy broer gery vir hulp,” het Pieterse bygevoeg. Hy is van daar na die Montana-hospitaal geneem. Hy het Donderdagaand in die hospitaal spandeer vir observasie en sal na verwagting vandag ontslaan word. Hy kan darem praat, maar hy het baie seergekry.”

Jooste se broer het die voorval by die polisie aangemeld. Jooste is vier jaar gelede voor sy huis aangeval. Hy en sy vrou Esme, is ook aangehou en beroof voor die aanvallers die egpaar se BMW gesteel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Trippie ·

Troppe hiënas ! Te lafhartig om 1 – 1 aan te vat.

Baie sterkte ook aan Mnr Jooste.

Rudi ·

Hul is tien skelm duiwels. En daar is ‘n hele vrot nasie agter hulle

Terence ·

Weet regtig nie meer wat om te doen nie. Die noorde van Pta is glad nie veilig nie. Mens sluit mens self in jou huis toe soos n gevangene.

william ·

Waar is De Klerk se wigte en teenwigte.? Die geweld teen blankes sal net vererger en wet en orde bestaan nie. Kodesa was die grootste klug .Ons vryheid is weggeteken. Ons sal nie rus voordat ons weer vry is nie. Ek wens Mnr Jooste en sy familie net die beste toe.

Marius ·

William, al wat oorgebly het van die sogenaamde wigte en teenwigte, is die booswigte – maar dit was tog duidelik voorspel van die begin af.
Sê dankie vir Pik en Frik en hul span hensoppers.
Sterkte Samajoor.

marieta nel ·

Hallo Pieter, ek was so geskok toe ek hoor van jou verskriklike ondervinding. Ek hoop jy is gou beter! Ja jong, die krimenele in ons land vier hooggety want daar is nie meer reg en geregtigheid nie! En ons as eerlike opregte Suid-Afrikaners word nie teen hulle beskerm nie. Daar is ‘n tendens van wetteloosheid in alle opsigte! Moet net nooit geloof verloor nie! Ons God is GROOT! Sterkte neef! Julle is ons gebede! Jannie en Marieta.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.