Oud-Springbok Tinus Linee oorlede

Jean de Villiers (L) en Schalk Burger (R) saam met Tinus Linee Foto via rugby365.com

Jean de Villiers (L) en Schalk Burger (R) saam met Tinus Linee Foto via rugby365.com

Die oud-Springbok en WP-senter Tinus Linee (45) is Maandagoggend ná ʼn stryd teen motorneuronsiekte (MNS) oorlede.

Linee, wie se rugby deur vernietigende lakwerk gekenmerk is, het van 1992 tot 2001 die WP se streeptrui 112 keer oor sy kop getrek en sedert 1993 in nege toerwedstryde vir die Springbokke in Australië, Wallis, Skotland en Ierland gespeel.

Thelo Wakefield, die voorsitter van die WP-Rugbyunie, het in ʼn verklaring gesê dis ʼn hartseer dag vir WP en SA rugby en die verbetenheid en moed waarmee Linee teen die verskriklike siekte gestry het, sal altyd onthou word.

Die unie het sy meegevoel teenoor Linee se familie uitgespreek, veral sy vrou, Diana, wat hom ondersteun het. Hy laat haar en haar twee seuns asook ʼn dogter uit sy eerste huwelik agter.

Linee, wat in April 2013 met MNS gediagnoseer is, was ná sy speeldae ʼn ontwikkelingsbeampte by die WPRU en was in 2008 ʼn lid van die bond se Vodacombeker-steunspan. Hy het ook saam met Chester Williams in Italië afgerig.

Joost van der Westhuizen, voormalige Springbok-skrumskakel en MNS-lyer, het sy medelye op sosiale media betuig. “Hartseer dag vir rugby in SA. Sopas die nuus ontvang dat ʼn rugbylegende en MNS-stryder Tinus Linee gesterf het. RIV my vriend #J9Foundation,” het hy op Twitter gesê.

** Henry Kelbrick, ʼn gewese Superrugby-dokter en voorste kenner van sportbeserings, het verlede week aan Maroela Media se rugbyblad, Pale Toe!, gesê Linee en ander Springbokke se neuronsiekte is nie rugbyverwant nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

elma ·

ek wil net aan sy vrou se dat die HERE U hierdie kruis gegee het om te dra .DIe HERE se ook hy tug die ene wat hy lief het .Die HERE het kom klop en U het geantwoord.Onthou die HERE maak wees maar die HERE laat wees nie .GEseend is u want GOD het u oneindig lief.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.