Oud-student getuig in Hewitt-verhoor

Bob Hewitt. Foto: Werner Beukes/SAPA

Bob Hewitt. Foto: Werner Beukes/SAPA

Een van Bob Hewitt (75) se voormalige studente het Woensdag in sy verdediging in die Johannesburgse hooggeregshof, wat in Palm Ridge sit, getuig.

Die vrou, wie se naam nie genoem mag word nie, het gesê die voormalige tenniswêreldkampioen het haar saam met Suellen Sheehan in die 1980’s afgerig, toe sy 13 jaar oud was.

Hewitt staan tereg op twee aanklagte van verkragting van Theresa “Twiggy” Tolken en Sheehan in die 1980’s, en een van onsedelike aanranding van ʼn ander vrou, wie se naam ook nie genoem mag word nie, in die 1990’s. Hy was al drie klaers se tennisafrigter. Hewitt het onskuldig gepleit.

Die derde vrou het beweer Hewitt het homself teen haar rug gevryf terwyl hy haar afgerig het en dat hy ʼn ereksie gehad het.

Terry Price, Hewitt se regsverteenwoordiger, het vroeër aangevoer dat die vrou ʼn tennisbal wat in sy broek se sak was, met ʼn ereksie kon misgis.

Die voormalige student het Woensdag aan die hof gesê sy beskou dit nie as ongewoon dat haar tennisafrigter tennisballe in sy sakke sou dra nie. Sy het gesê daar is niks ongewoon vir hom om agter ʼn student te staan om te demonstreer hoe hulle hul skouers en heupe moes beweeg nie.

Sy het gesê sy was bewus van gerugte oor Tolken en Hewitt, maar het persoonlik niks ongewoon ervaar nie. Haar ma was ook van die gerugte bewus, maar het haar nie van Hewitt onttrek nie. Sy het gesê sy was nooit bekommerd oor hom nie want haar ma was altyd naby.

Staatsaanklaer Carina Coetzee het daarna ʼn aansoek gebring om die staat se saak te heropen en nog ʼn getuie te roep.

Daar is gehoop dat die getuie, wat nou in Amerika woon en via Skype sou getuig, van waarde sal wees tot Tolken se getuienis. Die getuie het glo na vore gekom nadat daar wyd oor die verhoor in die media berig is. Die vrou het aan Tolken gesê sy kon onthou hoe sy opgetree het die naweek wat Hewitt haar na bewering in Sun City verkrag het. Sy het glo gesê Tolken was baie ontsteld, het gehuil en wou haar ouers skakel.

Regter Bert Bam het die aansoek egter verwerp en gesê hy is nie oortuig dat die getuie nuwe inligting na vore kan bring nie.

Die verhoor is byna afgehandel. Regter Bam verwag om die staat se hoofargumente op 2 Maart te ontvang, en die verdediging s’n op 5 Maart. Slotbetoë sal 23 Maart aangehoor word.

Lees die vorige berigte oor die Hewitt-verhoor op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pierre Celliers ·

Dit gaan ‘n skande wees as hierdie man vrygespreek word, al is hy skuldig.

Drieks ·

Mag iemand die regte woorde vind om molesteering reg oor die wéreld te stop.
Iewers veil ons die regte woorde om ons kinders te leer dat so iets nooit ooit mag gebeur nie. En dan raak hul molesteerders….

Asjas ·

“En dan raak hulle molesteerders” Verstaan ek jou reg? As jy as kind gemolesteer is, word jy automaties ‘n molesteerder???
Ek hoop regtig ek verstaan die laaste gedeelte van jou kommentaar heeltemal verkeerd, want jy is verkeerd met jou aanname.

Drieks ·

Jammer julle.
Ek meen, wat kan ons sé dat kind nooit molesteer word nie, en wat kan ons sé dat kind nooit ‘n molesteerder raak nie. Ek het weg geloop van ‘n molesteerder, maar ek weet noe hoekom het my maats nie weg geloop nie. Ek wil net hé dit moet nooit ooit weer gebeur nie.

Cornelia ·

Drieks, kies jou woorde versigtig, jy weet nie waarvan jy praat nie.
Gemolesteer, verkrag en ek verafsku sulke dade.!

SNEL ·

Die ou is so skuldig soos kan kom. Tennis bal in die sak…….se g@t. Waar n rokie is, is n vuurtjie, hoekom sal hierdie vrouens hulle verneder en deur hierdie hele ontwrigting gaan as niks gebeur het nie? Hy is skuldig, pleks erken hy net wat hy gedoen het, dat die hofsaak kan einde kry.

EMK ·

Ray Moore (oud SA tennisspeler) het Sondag op Carte Blanche baie emosioneel ook gesê hy voel so sleg omdat almal eintlik bewus was dat dinge nie pluis was en dat hy voel hy en ander meer kon doen om meisies te beskerm. Dit was algemene kennis dat Hewitt altyd met klein dogtertjies in “geselskap” was. Die internasionale tennisliggaam het sy naam ook heeltemal van hul ererol verwyder… hulle sal nooit so iets sommer net doen nie!

Desire ·

Dis so sleg dat die ander meisie se MA daarvan geweet het,maar niks is ooit gedoen nie

Anene ·

Ek is bevrees dat geregtigheid dalk nie gaan geskied nie, en dat hy nie gaan kry wat hom toekom nie. Dit is nie reg dat verdere getuienes nie aangehoor gaan word nie – dit kan mos nie geregtigheid wees as al die feite nie gebruik word vir ‘n uitspraak nie. Die verkeerde boodskap gaan uitgestuur word vir al daai mislike omies wat hulself nie kon bedwing nie, naamlik dat hulle niks kan oorkom nie, niks kan nou meer bewys word nie. En daai ma wat haar kind nie glo nie. ‘n Kind kan nie op daai ouderdom die goed self uitdink nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.