Oud-SVA-klerk tronk toe vir diefstal

Kgaogela Bopape (Foto: NVG)

ʼn Voormalige finansiële klerk van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) is tot ses jaar tronkstraf gevonnis vir die diefstal van R170 000.

Kgaogela Bopape (53) is in die Pretoriase handelsmisdaadhof gevonnis. Sy het op 7 April 2020 altesaam R500 000 onttrek onder die voorwendsel dat sy die geld aan SVA-lede beskikbaar sou stel. Bopape het die geld in ʼn kluis in haar kantoor gehou, en later R170 000 uitgehaal en gebruik.

ʼn Oudit het aan die lig gebring dat daar ʼn bedrag van R500 000 in die kluis vermis word. Nadat interne ondersoeke gedoen is, is R330 000 in Bopape se kantoor gevind en nadat sy ondervra is, het sy uiteindelik erken dat sy R170 000 gesteel het. Die saak is by die polisie aangemeld, en sy is op 26 Januarie 2021 in hegtenis geneem. Bopape het skuldig gepleit op ʼn klag van diefstal.

Adv. Billy Moalosi, staatsaanklaer, het tydens die verhoor gesê Bopape was in ʼn vertrouensposisie en dat sy dit tot haar voordeel gebruik het omdat sy geweet het dat daar geen vermoedens sou wees nie. “Die feit dat sy skuld beken het, kan nie as berou beskou word nie, maar eerder spyt omdat die staat ʼn sterk saak teen haar gehad het.”

In sy uitspraak het die landdros gesê Bopape het ʼn ernstige misdaad gepleeg, wat ʼn vonnis verdien wat ooreenstem met die erns daarvan. Die beskuldigde het bo haar vermoëns gelewe en die geld gesteel om haar leefstyl te handhaaf. Sy moes van beter geweet het, vanweë haar ouderdom en vertrouensposisie, veral met haar werkservaring, en moes tussen reg en verkeerd kon onderskei het.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die vonnis verwelkom en die hoop uitgespreek dat dit ʼn streng boodskap sal uitstuur dat die staat misdade soos diefstal, korrupsie en bedrog, veral deur staatsamptenare, baie ernstig opneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

SjN ·

Ses jaar vir R170 000, Zuma en sy kaders moet dus lewenslank kry.

Anton ·

Amateur :-)
As sy ‘n beter skelm was sou sy skielik siek geword het en dringend Dubai toe moes gaan

Jr ·

Aagh nee man, maak soos die student. Appeleer en vra vir community service omdat die straf te streng is. Of word ” terminaal siek in die tronk

Di ·

AL die skelms sit in die poste – ANC Kaders sorg daarvoor. Vergeet die kwalifikasies, solank jy ‘n sekere kleur is, die ANC ondersteun en kan korrupsie pleeg is jy versker van ‘n pos

Swerwer ·

Nou waarom moet sy 6 jaar sit en die ander ANC Trawante loop vrylik rond? Wonder maar net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.