Oud-US-prof se gebou heet nou ‘Krotoa’

Die RW Wilcocks-gebou wat tot die Krotoa-gebou herdoop is. (Foto: Universiteit Stellenbosch/Facebook)

Die Universiteit Stellenbosch (US) het Woensdag aangekondig dat die naamsverandering van die RW Wilcocks-gebou, wat vernoem is na ʼn kampvegter vir Afrikaans, goedgekeur is. Dié gebou is tot die Krotoa-gebou herdoop.

Die naamsverandering volg nadat die US die afgelope paar maande onder hewige kritiek deurgeloop het oor sy beplande wysigings van die taalbeleid, wat sommige groepe meen die gebruik van Afrikaans aan die universiteit sal benadeel.

Die RW Wilcocks-gebou is in 1966 na prof. RW Wilcocks vernoem, een jaar voor sy afsterwe. Wilcocks het die grondslag vir die ontwikkeling van sielkunde as ʼn sosiale wetenskap in Suid-Afrika bevorder. Dié gebou is steeds die tuiste van onder meer die departement van sielkunde.

Prof. RW Wilcocks (1892 tot 1967) het deur die loop van sy 36 jaar lange loopbaan as dosent en rektor by die US hom daarop toegespits om Afrikaans as akademiese taal te bevorder. As dosent (sedert 1918) het hy sy kursusse in Afrikaans aangebied. Toe die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) tussen 1945 en 1946 ʼn finansiële krisis ervaar het, kon hy daarin geslaag om etlike jare lank finansiering vanaf die regering te kry om die projek voort te sit.

Gedurende sy ampstermyn as rektor van die US (1934 tot 1954) het die universiteit floreer. Die studentebevolking het verdubbel en nuwe koshuise en akademiese geboue is in die proses gebou, waaronder die konserwatorium vir musiek (1934), die departement van fisiese ontwikkeling (1937) en die fakulteit ingenieurswese (1944).

Prof. RW Wilcock was ‘n kampvegter vir Afrikaans. (Foto: Universiteit Stellenbosch)

Die uitvoerende komitee van die US-raad (UK(R)) het die naamsverandering op 16 Augustus vanjaar goedgekeur, nadat die rektoraat in Junie ʼn kortlys van voorgestelde name van die komitee vir die naamgewing van geboue, lokale en ander fasiliteite of persele ontvang het.

“Nadat die saak breedvoerig bespreek en verskeie aspekte, waaronder Krotoa se verwikkelde persoonlike geskiedenis, in ag geneem is, het die rektoraat die naam aan die UK(R) voorgelê,” het dr. Ronel Retief, registrateur en voorsitter van die naamgewingskomitee, gesê.

Krotoa (1642 tot 1674), ʼn vrou van die Khoe-mense, was in die Kaap woonagtig in die tyd van Jan van Riebeeck, wat ʼn nedersetting vir die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (die VOC) aan die suidpunt van Afrika kom vestig het. Krotoa, of “Eva” soos die Hollanders haar genoem het, het onder meer as ʼn tolk en tussenganger tussen haar mense en die VOC opgetree.

“Die naam Krotoa is veral betekenisvol noudat ons Vrouemaand vier. Benewens enkele koshuise het geen US-geboue tot dusver na vroue geheet nie,” het Retief gesê.

“Dit was ook vir die rektoraat belangrik dat die naam, hoewel dit met ʼn geskiedkundige figuur verband hou, wel simboliese waarde het en sodoende méér as net ʼn persoon verteenwoordig. Die naam Krotoa word nie net aan ʼn vrou gekoppel nie, maar aan ʼn ganse onderverteenwoordigde groep mense wat inheems is aan Suider-Afrika en die gebied wat ons vandag as die Wes-Kaap ken. Sodoende word erkenning aan die erfenis van die Eerstenasiemense van ons streek gegee, en erken ons ook iets van ons gedeelde en verwikkelde geskiedenis.

“Boonop is Krotoa se rol as tolk tussen verskillende kultuur- en taalgroepe ʼn bewys van brugbou, wat veral relevant is vir gesprekke oor meertaligheid, inklusiwiteit en die skep van onderlinge begrip tussen verskillende groepe mense,” het Retief bygevoeg.

“Met hierdie naam wil ons dus ʼn sterk boodskap uitstuur oor ons verbintenis tot transformasie en regstelling by die US.”

Dr. Leslie van Rooi, senior direkteur van sosiale impak en transformasie, het gesê die US wil die rol en plek van die sogenaamde Eerstenasiemense in die groter geskiedenis van Suider-Afrika erken.

“Die belang daarvan om die naam Krotoa met ʼn bekende en belangrike gebou op die kampus te verbind, moet ook verstaan word teen die agtergrond van die voortdurende gesprek oor die ondersteuning en formalisering van Khoekhoegowab- taalverwante kursusse by die US.”

Die naamsverandering van die RW Wilcocks-gebou is glo deel van ʼn langtermyn- en uitgebreide proses om visuele regstelling op die US se kampusse te maak.

“Die proses van naamsverandering is reeds ʼn paar jaar gelede van stapel gestuur, en aansienlike vordering is die afgelope paar jaar gemaak om studente- en personeelvriendelike leef- en werksruimtes te skep wat in die behoeftes van ʼn uiteenlopende groep studente, personeel en ander belanghebbendes voldoen, en terselfdertyd ʼn verwelkomende kampuskultuur bevorder,” het Van Rooi gesê.

Uitbeeldings wat Wilcocks en Krotoa se lewensverhale kontekstualiseer, sal na verwagting binne en buite die gebou geplaas word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Malan ·

Nou wat het Krotoa bygedra tot die wel en wee van die US? Hoe kan hierdie soort van rassisme geregverdig word? Of is dit maar net nog ‘n Wim de Villiers besluit?

Groen Ghoen ·

Ai tog. Noem die arme plek tog maar die Winnie Mandela Kollege en kry klaar daarmee.

Althes ·

Nie ñ oorspronklike besluit nie – dit is seker die enigste naam waaraan hul kon dink nz die fliek Krotoa gemaak is

Frikkels ·

En daar gaan prof. Wilcox se nagedagtenis! Wim de Villiers is absoluut ras mal soos die res van die polities korrektes!

Catherina ·

Ai tog. DISGUSTING. SHOCKING. …. Nog n “Wim de Villiers “

Jaco ·

Weet die universiteit van Stellenbosch dat krotoa behalwe khoi, ook Nederlands gepraat het? Dis mos ‘n koloniale taal van onderdrukking. Ek wonder maar net…

Elinette ·

Sy was ook ten volle Portugees en gedeeltelik Frans magtig …

Tanniepetoors ·

Geen disrespek aan Krotoa, maar wat het haar geskiedenis met die departement sielkunde aan die US te doen?

Mariana ·

En so wil hulle die geskiedenis uitwis. Hoekom als wil verander, kry ander gebou om na Krotoa te vernoem. Hierdie land behoort nie net aan sekeres nie, maar ja party kan hulself net nie help nie.

Deon ·

Die nuwe naam is goed en wel maar die ondertoon is steeds verdrukking teen afrikaans. Waarom verander hulle nie name na diere name of plante name nie? n Kameeldoringboom of n Gemsbok kan nie rassisties wees nie of hoe?

annie ·

Die verhaal van Krotoa is ‘n totaal opgeblase mite vir die rolprentloket. Die waarheid oorspeel en gedramatiseer. Jan van Riebeeck sal seker binnekort as ‘n misdadiger wat uit Brittanje verban is uitgebeeld word, verfilm deur US se beroemde filmspan en geborg deur die US-topbestuur. Die waarheid volg mos altyd die ideologiese IK-dimensie.

Willem ·

Dis duidelik dat die US NIKS meer omgee vir die mense wat dit gemaak het wat dit vandag is nie. Mens erken nie ‘n bevolkingsgroep se bydrae tot die geskiedenis deur ‘n ander groep se geskiedenis te misken nie, mens erken dit deur NUWE geboue, dorpe, stede ens. te bou. Die geskiedenis is deel van almal, nie net van een groep nie, maak nie saak aan watter kant mens staan nie. Dank die vader ek het NOOIT aan hierdie instelling studeer nie. Ek is SKAAM om te sê die us is ‘n sogenaamde afrikaanse instelling.

FBS ·

Die ondergang van Suid Afrika en van Afrikaans word hier baie duidelik uit gebeeld. Ons kan net nie ontslae raak van “Joiners” nie, so jammer. Ek is en bly trots op my Afrikanerskap en my taal.

Elinette ·

Onthou net: “Victoria College”, die voorganger van die Universiteit Stellenbosch, is deur die Engelse daar gestel.

Harley Davidson ·

Al wat ek aan kan dink is wat ‘n skande dat geskiedenis vertrap word om die meerderheid wat nie baie heg aan hulle geskiedenis nie tevrede te stel.

Misky ·

Prof. Wilcock het letterlik en figuurlik bydraes gelewer en die universiteit opgebou en verbeter en dit by die US en op daai kampus en gronde. So dit maak sin en niks minder as reg nie.

Wat het sy daar gedoen? Boggerol en sy was ‘n tolk!!!

Jr ·

Aagh my *'”: nou is die liberale profs losgelaat. Wie de duiwel is Krotoa. Dit het mos nie gebeur nie, want Rama pousa se die slag van Bloedrivier het ook nie gebeur nie. So touche. Party keer dink ek hierdie profs dink hulle is so slim dat hulle eintlik” dom ” is

VaalDonkie ·

Hierdie is waarom ‘n universiteit NOOIT geld van die regering moet aanvaar nie.

Francois ·

As hulle name wil verander. Breek dan daai gebou eerder af en laat hulle n nuwe gebou bou met hulle geld. Die ANC is pateties

Elinette ·

Weet hulle ooit wie en wat Eva/Krotoa regtig was? Sy was ‘n verloopte Khoi-meisie – later getroud met Pieter van Meerhoff, maar ook eers nadat hulle ‘n kind of twee gemaak het. Van Meerhof is later gedood tydens ‘n ekspedisie van Madagaskar en toe het Eva/Krotoa se kop behoorlik uitgehaak. Sy het begin suip soos ‘n vis en werk as ‘n los vrou (prostituut). Kwalik die soort mens wat ‘vereer’ moet word met die benaming van ‘n universiteitsgebou ….

Hennie ·

Jammer Prof RW Wilcocks. Daar buig US weer voor politieke korrekteik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.