Oud-verkeershoof skuldig aan korrupsie, bedrog met lisensies

(Argieffoto ter illustrasie)

ʼn Voormalige hoof van verkeer en lisensiëring in KwaZulu-Natal het skuldig gepleit op verskeie aanklagte van bedrog teen hom wat verband hou met die onreëlmatige uitreiking van leerlinglisensies in Howick.

Simon Zwane, woordvoerder van die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC), sê Roger Alan Everton het in die Durbanse handelshof verskyn op 15 aanklagte van bedrog wat verband hou met bewerings dat hy glo op ʼn onderduimse manier mense wat vir hul leerlinglisensies aansoek gedoen het, gehelp het om die toets daarvoor te slaag.

Everton, ʼn voormalige bestuurder by die Umngeni-munisipaliteit, is reeds in 2018 deur lede van die RTMC se teenkorrupsie-eenheid en die Valke in hegtenis geneem. Sy arrestasie het gevolg op die inhegtenisneming van nege mense wat vir hul leerlinglisensies aansoek gedoen het, asook verskeie amptenare – eksaminators en klerke by die lisensiedepartement – op aanklag van bedrog.

In ʼn beëdigde verklaring wat as deel van sy pleitooreenkoms by die hof ingehandig is, erken Everton dat hy bewus was van sy ondergeskiktes se onwettige bedrywighede, maar dat hy dit nie aangemeld het nie.

Hy voer aan hy is onder druk geplaas om by die bedrieglike bedrywighede betrokke te raak en het tussen R300 en R500 gekry om elke aansoeker te help om antwoorde korrek in te vul. Die saak teen hom is tot Mei uitgestel.

Die nege aansoekers wat in dieselfde ondersoek vasgetrek is en Skhumbuzo Mkhulise, ʼn eksaminator, het in afsonderlike verhore skuldig gepleit en is reeds opgeskorte vonnisse opgelê. Thandazile Shelembe, ʼn administrasieklerk, het ook skuldig gepleit. Sy is ʼn boete opgelê en haar tronkstraf is opgeskort.

Nog vyf betrokke eksaminators is intussen in ander verhore skuldig gevind. Hulle word na verwagting later vandeesmaand gevonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Gerrit ·

Nou het hulle krimenele rekords vir iets so dom soos n leerling lisensie. My vraag is ook hoe in die lewe kan so persoon dan die eintlike lisensie slaag sonder dat daar ook n verneukspul by betrokke is. G’n wonder daar is so baie onbekwame bestuurders op die paaie nie.

KlipRSA ·

Hulle moet ook ondersoek instel om te kyk of ENIGE van die mense wat so lisensies ontvang het, in enige ongelukke betrokke was en dan die nodige sake teen hierdie ouens ook aanhangig maak.

Marisa W ·

Ek stem, maar die ouens wat so akkies ry veroorsaak gewoontlik dat ander mense in mekaar vas ry om uit hulle pad te kom. Dan ry hulle rustig voort want hulle kyk nooit in hulle truspieeltjies (of enige ander spieeltjies) om die bloedbad te sien wat hulle agterlaat nie.

Hennie J ·

In 2018 al aangekeer en nou eers swkuldig bevind. Lagwekkend! Vonnisse vir die klomp reeds gevonnis net so belaglik. Die ou sal tronkstraf kry want hy is wit!

Casper ·

Hoe weet jy hy is wit.Sy van kan bedrieglik wees of ken jy hom.Was jy ook by hom vir jou learners.?

Elize ·

The devil made me do it, is afgesaag. Jy fouteer, jy betaal

offshore ·

Elize: “Jy fouteer, jy betaal” ja dis wat hulle gedoen het: foute op die vraestel maak dat hulle moet betaal om deur te kom

Anoniem ·

Nee Everton, gierigheid het dit veroorsaak, nie druk nie.

Ansie ·

Hierdie is ‘n kriminele oortreding wat die potensiaal het om lewens in gevaar te stel en ek voel dat ‘n opgeskorte vonnis nie goed genoeg is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.