Oud weermaghoof, drywer herenig ná 40 jaar

Genl. Georg Meiring tydens die ete. (Foto: verskaf)

Genl. Georg Meiring, destydse hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, het onlangs by ’n ete by die Voortrekkermonument in Pretoria sy voormalige motorbestuurder, kpl. Bartho Eksteen, vir die eerste keer in 40 jaar weer gesien.

Eksteen, wat in 1981 en 1982 agter die stuur van die generaal se motor was, is vandag ’n kranige wynmaker en het sy wyn met die generaal en talle ander weermagveterane gedeel.

Maroela Media het die geleentheid Dinsdag in die Krugergalery bygewoon.

Die ete is deur die Pro Patria-museum aangebied en het die weermagmanne die geleentheid gegee om staaltjies uit te ruil oor hul dae in die Suid-Afrikaanse Weermag.

Eksteen het net die hoogste agting vir Meiring gehad. Hy vertel die generaal het, in teenstelling met die norm, altyd vóór in die motor gery en daar gesit en sy koerant gelees.

Hierop het Meiring geantwoord dat sy bene te lank was om agter te sit. “As ek agter sou sit, sou my knieë agter my ore gewees het,” het hy laggend geantwoord.

Eksteen het in ’n stadium skertsend vertel hoe hy Meiring se motorsleutels per ongeluk laat wegraak het. Hy het die kantore platgesoek, maar kon dit nêrens kry nie.

“Die generaal het elke dag, sonder uitsondering, ’n geroosterde hoender-en-mayonnaisetoebroodjie vir middagete gehad, wat ek by die hoekkafee moes oplaai. Dit is toe by dié einste hoekkafee waar die sleutels die volgende dag eers gevind is,” vertel Eksteen.

“So is die generaal toe daardie dag met ’n ander motor huis toe; sy eie motorsleutels is die volgende dag eers gevind.”

Die groep mans het heerlik hieroor gelag, maar Meiring het erken dat hy nie eens dié voorval kan onthou nie.

 

Genl. Georg Meiring jare gelede. (Foto: verskaf)

Toe Meiring in 1995 tydens die herdenking van vrede in Japan in Londen die geleentheid gehad het om langs koningin Elizabeth II te sit, wou almal met groot nuuskierigheid uitvind wat die twee vir mekaar te sê gehad het.

Meiring het skertsend geantwoord: “Ag, ons het maar gesels oor dit en dat en oor hoe ons rugbyspan hulle s’n geklop het.”

Meiring is bekend as een van die sogenaamde Groot Vyf-generaals van die Grensoorlog-era – saam met Magnus Malan, Constand Viljoen, Jannie Geldenhuys en Kat Liebenberg – en is bekend as die enigste generaal wat as hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag (1993-1994) asook die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (1994-1998) gedien het.

Die ete is afgeskop met heerlike biltongsop, gevolg deur ’n hamburger en is afgesluit met ’n sappige koeksister.

Die kos het egter die kollig met die interessante staaltjies gedeel.

Die weermagmanne wat die ete bygewoon het, het aan Meiring en Eksteen se lippe gehang; die een het meer vrae as die ander gehad.

“Dit was vir die Pro Patria-museum ʼn voorreg om genl. Meiring en sy drywer na 40 jaar te herenig by dié spoggeleentheid.

“Dié museum gaan voortaan soortgelyke geleenthede aanbied om bewustheid van ons ryk militêre erfenis te bevorder en die veteranegemeenskap asook hul nageslag daarby te betrek,” het Jandré du Plessis, algemene bestuurder van die museum, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Marius ·

En so het die anc ‘n 100% funksionele, operasionele weermag met die nuutste en beste wapentuig gekry in 1994. Waar staan hulle vandag ?

Jaco ·

Waarom het die “funksionele operasionele weermag met die beste wapens” dan in 1994 aan die ANC oorgegee????

Manie ·

‘n Toonbeeld van trots en dissipline, saluut Generaal Meiring.

Papsak ·

Ja hartseer kyk waar le weermag vandag het niks maar niks om op trots te wees nie dankie vir Generaal Meiring

twaalfboor ·

En hy was nog ñ “regte” generaal. Nie ñ mamparra nie.

Rika ·

Dankie Maroela hierdie is n baie mooi storie! Soos ek vir Bartho Eksteen ken, weet ek hy sou hierdie Generaal met al sy staaltjies sommer lekker laat lag het in sy weermagdae en nou by die samekoms ook! Wat n groot voorreg het Bartho gehad en wat n groot voorreg dat Bartho een van my klasmaats was.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.