Oud-weermagwerknemer in hof vir bedrog  

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Die saak teen ʼn voormalige werknemer van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) wat daarvan beskuldig word dat hy die weermag se groeplewensversekeringskema bedrieg het, is tot Julie vir verhoor uitgestel.

Die saak teen Khakathi Edward Nyakhulalini (59) is tot 11 Julie uitgestel. Nyakhulalini staan tereg op twee aanklagte van bedrog. Twee van sy makkers, Tshilidzi Stemen Tshishonga (40) en Fulufhelo Mudau (37), wat voorheen skuld beken het op dieselfde aanklag, dien tans hul vonnisse uit.

Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê Nyakhulalini het as administrateur vir die weermag se groeplewensversekeringskema gewerk. “Toe twee SANW-werknemers dood is, het Nyakhulalini en sy twee medepligtiges ʼn totale bedrag van R205 000 van die versekeringskema geëis, terwyl hulle voorgegee het dat hulle afhanklikes was van die oorledenes.”

Die bedrogspul het aan die lig gekom toe die werklike familielede van die oorledenes na die SANW gegaan het om te eis en ingelig is dat die eis reeds uitbetaal is. Nadat interne ondersoeke gedoen is, is Nyakhulalini as ʼn oortreder uitgewys en die SANW het die saak by die polisie aangemeld.

Nyakhulalini is op 2 Oktober 2015 in hegtenis geneem en is op borgtog van R2 000 vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.