Oud-werknemer van gesondheidsdepartement skuldig aan bedrog, korrupsie

(Argieffoto: Unsplash)

’n Voormalige werknemer van die Oos-Kaapse departement van gesondheid het Dinsdag skuldig gepleit op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery. Baxolile Ngoloyi het meer as R357 000 van die departement gesteel terwyl hy as logistieke beampte daar gewerk het.

Adv. Tjaart van Zyl het in die handelsmisdaadhof in Port Elizabeth Ngoloyi se pleit aanvaar en landdros Nolitha Bara het Ngoloyi skuldig bevind op aanklagte van korrupsie, vyf aanklagte van bedrog en vier aanklagte van geldwassery.

Sithembile Smith, met wie Ngoloyi saamgesweer het, het verlede jaar in Augustus skuld beken op ’n aanklag van geldwassery en is vyf jaar opgeskorte vonnis opgelê. Hy het ook staatsgetuie geword.

Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, sê die departement het die Logistieke Inligtingstelsel (LOGIS) gebruik vir die aanskaffing en verkryging van goedere en dienste. Ngoloyi het saam met ander personeellede aan LOGIS gewerk om betalings aan verskaffers te verwerk.

“Van 11 Desember 2017 tot 6 Junie 2018 het hy met Sithembile Smith, die direkteur van Eza Services and Suppliers, ’n konstruksiemaatskappy in Cookhouse, saamgesweer. Hy het geld van die departement se bankrekening na Eza se bankrekening bedrieglik oorbetaal,” sê Ngcakani.

Ngoloyi het voorgegee dat dienste deur Eza aan die departement gelewer is en sowat R357 268 as gevolg daarvan in dié maatskappy se rekening inbetaal. Hy het dié geld egter in sy sak gesteek en ’n klein bedrag aan Eza in ruil daarvoor betaal.

“Hy het skuld beken dat hy die betalings op LOGIS bedrieglik verwerk het deur die gebruikersname van ander personeellede te gebruik wat gewoonlik deel was van die proses om betalings te verwerk.”

Ngoloyi sal na verwagting weer op 3 Mei in die hof verskyn wanneer hy dan gevonnis sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Persheks Adri ·

Klein vissies… Gaan die geld terug betaal word ek wonder mmmmm. Ons soek die groot visse in die parlement ASB!

Nie Verbaas ·

Maar NVG is traag om vervolging te initieer op regeringsamptenare. Wie probeer hulle bluf?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.