Oudambassadeur Denis Worrall oorlede

Dennis Worrall (Foto: Omega Investment Research/Wikipedia)

Denis Worrall, ʼn voormalige parlementslid en oudambassadeur, is in die ouderdom van 87 oorlede.

John Steenhuisen, DA-leier, het gesê die party het met hartseer verneem van die afsterwe van Worrall – “’n uitsonderlike individu wie se bydraes as akademikus, sakeman, politikus en diplomaat ’n blywende impak op Suid-Afrika gelaat het”.

Worrall se politieke loopbaan is gekenmerk deur verskeie belangrike rolle in politiek en die diplomatieke diens. Hy was ’n senator vir die Kaapprovinsie, later ’n parlementslid vir die Tuine-kiesafdeling en Suid-Afrika se ambassadeur na Australië en die Verenigde Koninkryk.

Worrall het in 1987 bedank as Suid-Afrika se ambassadeur in die Verenigde Koninkryk en na Suid-Afrika teruggekeer om in ’n tussenverkiesing te staan teen die destydse minister van grondwetlike ontwikkeling, Chris Heunis, wat hy naelskraap verloor het.

Volgens die O’Malley-argief in die Nelson Mandela Centre of Memory and Dialogue aan die Universiteit van die Witwatersrand is die Onafhanklike Party in 1988 gestig met Worrall as voorlopige leier. Die Demokratiese Party (DP) is in 1989 gestig met Worrall as medeleier. In die algemene verkiesing in 1989 het hy die Berea-setel gewen en weereens in die parlement gedien. Hy het ten tyde van die 1994-verkiesing uit die politiek getree om ’n internasionale politieke en sakekonsultasiemaatskappy, Omega Investment Research (SA, VK en Australië), te bevorder.

Worrall het by die Nasionale Party (NP) aangesluit ná sy aanstelling as senator in 1974. In die algemene verkiesing van 1977 het hy die Kaapstadse Tuine-setel vir die NP gewen en tot die parlement toegetree.

Hy was ook ʼn dosent aan die Universiteit van Suid-Afrika, die Universiteit van die Witwatersrand en die Rhodes‑Universiteit.

Volgens Steenhuisen is Worrall se nalatenskap sy verbintenis tot beginsels en sy vele bydraes tot Suid-Afrika – polities, in die diplomatieke diens en in die sakewêreld.

“Hy sal baie gemis word en ons innige meegevoel gaan uit aan sy familie en vriende.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.