Oudbevelvoerder van Kampsbaai vas vir kinderpornografie, onsedelike aanranding

(Argieffoto: pixabay)

ʼn Voormalige bevelvoerder van die Kampsbaai-polisiestasie in die Wes-Kaap is in hegtenis geneem nadat kinderpornografie in sy huis gevind is. Sy seun het op die gru-vonds afgekom.

Die polisiekaptein se seun het verlede week op Facebook in besonderhede beskryf hoe dit hom 30 jaar lank geneem het om oor die seksuele aanrandings waaraan sy pa hom glo onderwerp het, te praat.

Die man, nou 39 jaar oud, voer aan die misbruik het begin toe hy naastenby ses jaar oud was en het tot aan die einde van sy laerskoolloopbaan geduur.

“Ek was ʼn kind met talle probleme. Baie van julle het dit gesien en ʼn gevoel gehad dat iets nie reg is nie. Die seksuele misbruik, sielkundige misbruik en trauma wat hy in hierdie tyd op my losgelaat het, het my in ʼn miljoen stukke laat breek, my onskuld weggevat en my as kind verwoes.

“Jy vra dalk hoekom ek niks gedoen of niemand vertel het nie. Ek hét.”

Die man sê sy pa, ʼn gerespekteerde man in die gemeenskap, het elke keer verseker niks word gedoen nie en het hom glo as leuenaar afgemaak.

Die beweerde seksuele misbruik het opgehou toe die man 12 jaar oud was, maar hy sê die emosionele misbruik en dreigemente het tot verlede jaar voortgeduur.

Die man sê hy het van sy pa gevlug. Etlike jare lank het niemand geweet waar hy hom bevind nie en soms was hy selfs haweloos.

Hy het selfs verskeie kere probeer selfmoord pleeg; in een van die probeerslae het hy hom as 16-jarige met sy pa se vuurwapen probeer skiet.

Hy voer ook aan sy pa het vroue aangerand en homself op hulle afgedwing.

Die man skryf hy het steeds geglo sy pa sal verander en is vroeër vanjaar na sy pa toe dié hom gevra het om hom te kom versorg. “Ek het teruggekom en besluit om alles eens en vir altyd uit te sorteer, vir afsluiting of wat ook al jy dit wil noem.”

Met sy terugkeer na sy pa se woonstel in Vredehoek het die man afgekom op bokse met honderde DVD’s wat gemerk is met wat na ouderdomme en name gelyk het. “Ek het geweet dit is die bewyse waarvoor ek my lewe lank gesoek het om te kan staaf wat met my as kind gebeur het.”

Die man sê nadat hy sy pa oor die DVD’s gevra het, het dié gesê almal “het geraamtes in die kas” en dat die bokse aan hom behoort. Hy het sy seun gevra om nie daarna te kyk nie en die DVD’s te vernietig. Die man skryf dat hy besef het dat ander kinders moontlik ook deurgeloop het.

Die man voer aan sy pa het hom daarna met sy vuurwapen gedreig, beveel om sy goed te pak en te gaan.

Hy is na die polisie, wat later vasgestel het die DVD’s bevat beeldmateriaal van nie net die polisiekaptein se seun nie, maar ook beeldmateriaal van ander jong kinders.

Brig. Novela Potelwa, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig die man se pa is Dinsdag in hegtenis geneem. Hy staan tereg op aanklagte van onsedelike aanranding en die besit van kinderpornografie.

Hy het dieselfde dag nog in die hof verskyn en is op borgtog vrygelaat.

Die saak teen hom word op 25 Januarie hervat.

Die oudpolisielid se seun skryf ook op Facebook dat hy nie simpatie soek nie, maar wel geregtigheid. Honderde mense het reeds op die man se plasings gereageer en dit is meer as duisend keer gedeel. Hy het ook ʼn beroep op ander vermeende slagoffers gedoen om na vore te kom.

Die man het Maandag gesê hoewel sy pa “ʼn monster” en terselfdertyd ʼn lid van die polisiemag was, moet alle polisielede nie oor dieselfde kam geskeer word nie. Hy was in sy grootwordjare “omring deur wonderlike polisiebeamptes” wat glad nie soos sy pa was nie en het vandag steeds die hoogste agting vir polisiebeamptes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Wielspore ·

Dit is jammer dat die jong man op sy ouderdom eers die moed en bewyse bymekaar kon kry om die oortreder, wat sy pa is, aan die pen te laat ry. Ek hoop van harte dat die jong man se optredede hierdie bose ketting van molestering en mishandeling van ander kinders sal stop. Dat die versorger van die gesin die oortreder is, is hartseer, die man wat sy kinders reeds moet beskerm, is die een wat hulle leed aan doen. Tronk toe met jou as oud polisie man.

ES ·

Wonderlik dat jy die moed gehad het om teen hierdie situasie te veg en te doen wat nodig is! Net jammer hy gaan nou eers tronkstrafuitdien op sy ou dag…

Persheks Adri ·

Liewe hel en hy kry borg met al die bewyse teen hom!

JohanR ·

Dankie tog ek het n Pa en Ma gehad wat nie sukke begeertes gehad het nie, en altyd vir ons 4 kinders net liefde gegee het. Die plakkie was daar, maar altyd twee mal soe veel liefde. Hoe kyk jy ‘n ouer in die oe na die jou vir jare betas het?

Anel ·

En waar was die ma? Hoe kon sy nie geweet het nie? En die onderwysers? En hoe kon die polisie die klagtes ignoreer? Hoekom sou so ‘n kind jok? Hulle is almal skuldig. Ek haal my hoed af vir hierdie man. Dit is nooit te last nie. Baie sterkte vir jou.

Erika ·

Dit is bewys dat jong seuntjie n ware pa nodig het wat Integriteit het en Verhouding met God het wat as gesonde jongmanne in die wereld ingaan en weer op hulle beurt Manne van integriteit sal wees vir hulle seuns

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.