Oudbokser roerend gegroet

Bennie Knoetze op sy Vespa-bromponie (Foto: Bikers Respect 4 ALL, Facebook)

“Vandag is ons hier om totsiens te sê vir ʼn legende. Oom Bennie was ʼn yster. Hy was ʼn groot man met ʼn klein, sagte hart.”

Só het past. Aubrey de la Hunt Van der Merwe van die AGS Krugersdorp-Sentraal-gemeente tydens die roudiens van Bennie Knoetze (61), broer van bekende oudbokser Kallie Knoetze, gesê. Bennie het verlede Vrydag met sy Vespa-bromponie in die Vrystaat verongeluk. Bennie was self ook ʼn oudberoepsbokser.

Knoetze se dogter, Rochelle, en seun, Bennie-Pieter, het tydens die roudiens vertel hoe lief hul pa vir sy bromponie was. Dit was juis tydens ʼn rit op die langpad saam met ʼn groep vriende van ʼn Vespa-bromponieklub, waar hy sy laaste asem uitgeblaas het.

Volgens kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, het die ongeluk sowat 10 km buitekant Reitz, in die rigting van Bethlehem, plaasgevind. ʼn Motor en Knoetze se bromponie was in die ongeluk betrokke. Sy bevestig dat die polisie ‘n saak van strafbare manslag ondersoek.

Tydens die roudiens het ʼn vergrote foto van Knoetze op sy bromponie voor in die kerk gestaan.

“Hy was die gelukkigste op sy Vespa-bromponie. Hy het dit ook altyd geniet om my van sy ritte te vertel,” vertel Rochelle tydens die huldeblyk aan haar pa.

“Hy was ʼn broer, vriend en pa vir ons almal. Sy kinders was alles vir hom. Hy het altyd gesê dat hy altyd daar vir ons sal wees.”

Rochelle vertel toe hulle hul ma 14 jaar gelede verloor het, het haar pa die rol as ʼn ma en ʼn pa vir haar en haar twee broers, Ruan en Bennie-Pieter, aangeneem.

Knoetze op sy jonger dae as bokser (Foto: SupaRugby, Facebook)

“Hy was ʼn groot man met ʼn hart van goud. Ons kinders het so baie by hom geleer. Hy het drie sterk kinders grootgemaak en het ons geleer dat tou opgooi nie ʼn opsie is nie. Tot ons mekaar weer sien.”

Bennie-Pieter het aan die einde van die diens die bedankings gedoen en vertel hoe ʼn wonderlike voorbeeld sy pa vir hulle was. Hy som sy pa op as ʼn mens was altyd geglimlag het en ʼn grappie gehad het om te vertel.

Past. De la Hunt Van der Merwe het in sy troosboodskap benadruk dat Knoetze se ewige lewe Vrydag begin het en dat hy nou in sy nuwe verheerlikte liggaam in die hemel voortleef.

“Vandag sê ons totsiens, maar nie vaarwel nie. Ons sal oom Bennie eendag weer sien,” het De la Hunt Van der Merwe gesê.

Die kis is na afloop van die diens uit die kerk gedra en geliefdes en familielede kon vir Knoetze op Frank Sinatra se hartroerende “My Way” vir oulaas groet.

Knoetze het kort na skool by die polisiediens aangesluit en het op die ouderdom van 60 as polisiekaptein afgetree. Hy was 40 jaar in die polisiediens.

Volgens Supersport het hy in 1979 as amateurbokser die Suid-Afrikaanse swaargewig-titel verower. Hy het op 8 Maart 1980 sy pro-debuut as bokser gemaak en tot September 1987 professioneel geboks.

Luidens ʼn inskrywing op die SupaRugby-Facebookblad het Knoetze ook eersteliga-rugby en vir die Transvaalse Rooibokke gespeel.

Medelye het ook vir Knoetze op sosiale media ingestroom. Op die Facebookblad, Oupa Jan’s Vespa Run, skryf die groep se administrateur dat die lede van die Chicken Runners-bromponieklub hom baie gaan mis: “Jy het diep spore geloop en was ’n groot vriend vir al die Chicken-runners… Jy was ’n legend,” lui die inskrywing.

“Ry daai goue hoofweg my vriend, ry hom met dieselfde entoesiasme waarmee jy elke Vespa-rit aangepak het,” skryf Pieter Pretorius op die Bikers Respect 4 ALL-Facebookgroep.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Persheks Adri ·

Rus in vrede oom Bennie! Ons gaan oom beslis mis hier in die Wes Rand

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.