Oudburgemeester van Johannesburg sterf week na botsing

Mpho Moerane (Foto: City of Joburg/Facebook)

Mpho Moerane, voormalige burgemeester van Johannesburg, is Woensdag dood nadat hy meer as ’n week gelede in ’n motorongeluk betrokke was.

Moerane se familie het in ’n verklaring bevestig hy is om 17:45 in die hospitaal dood.

“Mpho was ’n bekende aktivis, vol lewe en vasbeslote en toegewyd om vir sy gemeenskap te werk,” lui die verklaring. Moerane word oorleef deur sy vrou, vier kinders, ma en sibbe.

Moerane is kort voor verlede jaar se munisipale verkiesing tot burgemeester verkies, maar hy moes kort daarna van die posisie afstand doen nadat die ANC beheer oor die metro verloor het. Hy is aangestel na die dood van die twee Johannesburgse burgemeesters voor hom, wat onderskeidelik aan Covid-19 en in ’n motorongeluk dood is.

Pres. Cyril Ramaphosa het gesê Moerane se dood is ’n hartseer dag vir Johannesburg en die land wat ’n lewenskragtige, jong leier verloor het.

“Moerane was ’n entrepreneur met vele vaardighede wat as leier sy talente en kreatiewe energie tot beskikking van die burgers van Johannesburg gestel het deur in ’n openbare posisie te dien met sy ondervinding as ’n sake-eienaar en vroeër in sy lewe as ’n ambagsman.”

Die Gautengse regering het by monde van Lebogang Maile, LUR vir menslike nedersettings, stedelike beplannings samewerkende regering en tradisionele sake, sy medelye met Moerane se familie, sy kollegas en die ANC betuig. Moerane het tyde van sy dood as leier van die amptelike opposisie in die Johannesburgse metro gedien.

“Moerane het hom onderskei as ’n hardwerkende openbare verteenwoordiger. Hy het ’n hoogs doeltreffende en diensgeoriënteerde opposisie gelei om seker te maak dat dienslewering Johannesburg se burgers bereik, veral in arm en werkersklasgemeenskappe.

“Ons is hartseer oor Moerane se dood. Dit is ’n groot slag vir plaaslike regering, nie net in Johannesburg nie, maar in die provinsie as geheel. Hy was ’n baie gedissiplineerde en toegewyde dienaar.”

Maile sal na verwagting binnekort Moerane se familie besoek en besonderhede oor ’n roudiens en begrafnis sal bekend gemaak word sodra dit met die familie gefinaliseer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Marius ·

Sê maar eerder niks oor die haglike toestand en voorkoms van die johannesburgse metropool nie.

Sandra ·

My simpatie gaan aan sy familie. Maar wat is dit met die burgermeesters wat so in ongelukke is. Hier by ons verlede jaar of die jaar voor dit, was ons eertydse burgemeester ook in ‘n ongeluk. Toe is daar 2 of drie ander.

Johan ·

Ek wonder hoe dit gebeur dat 3 Jhb Burgermeesters in n ry sterf.

Dries ·

As gevolg van bloulig konvooie wat altyd jaag , omdat (nie asof) die duiwel agter hulle is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.