Oudburgemeester van Potch se bedrogsaak uitgestel

(Foto: Maroela Media)

Kgotso Khumalo (52), die voormalige burgemeester van die JB Marks- plaaslike munisipaliteit (Potchefstroom) en twee van sy medebeskuldigdes sal op 4 Mei 2022 weer in die hof moet verskyn op aanklag van bedrog en diefstal.

Die drie persone se saak het Donderdag in die Ventersdorp-streekhof voorgekom, maar die saak moes uitgestel word weens Khumalo se prokureur wat ongesteld is. Een van sy medebeskuldigdes het ook uitstel versoek om ʼn nuwe regsverteenwoordiger aan te stel, sê Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes.

“Die drie persone is vrygelaat op waarskuwing en hulle is ook gewaarsku om nie in te meng met die staatsgetuies nie. Khumalo, Cyril Hendry en Mohau Shuping het almal skuld ontken op agt aanklagte van diefstal en bedrog met munisipale fondse.”

Die Noordwes-Universiteit en die Program vir Gemeenskapsontwikkeling het glo miljoene in ʼn trustrekening inbetaal wat aan die Willem Coetzee-prokureursfirma behoort. Dit sou aangewend word vir spesifieke projekte deur die munisipaliteit.

“Die prokureur het opdrag ontvang om verskeie betalings uit te voer, insluitend R208 000 as ʼn bydrae tot die burgemeesterskomitee vir die begrafnis van Duma Ndleleni, LUR van landbou, wat in November 2018 gesterf het.”

Die staat se hoofgetuie, Willem Coetzee, het op 12 Oktober 2021 in die saak getuig. Sy prokureursfirma was ʼn lid van ʼn paneel prokureurs wat deur die munisipaliteit aangestel is om sy wetlike en finansiële mandate deur ʼn trustfonds te bestuur.

“Hy het getuig oor hoe die beskuldigde hom, as waarnemende voorsitter van die paneel, opdrag gegee het om die betalings op verskeie geleenthede in verskillende rekeninge oor te betaal.”

Hy het aan die hof gesê hy is ook opdrag gegee om twee keer ʼn bedrag van R35 000 aan Kagisano Funerals oor te betaal, vir dieselfde begrafnis wat die begrafnisondernemer aangevoer het nooit betaling ontvang is nie. ʼn Verdere R32 000 is na bewering oorbetaal aan Roche Trading vir dienste wat glo tydens die begrafnis gelewer is. ʼn Bedrag van R210 000 is ook uitgelig as ʼn betaling aan ʼn prokureursfirma, Langford and Sons Projects (Edms) Bpk vir ʼn Austaliese sokkertoer wat deur Hendry onderneem is.

Daar is egter ontdek dat R200 000 direk in die rekening van een van die beskuldigdes inbetaal is, en daaruit is ʼn bedrag van R64 000 oorbetaal na ʼn instansie waar een van Khumalo se familielede ʼn student was. Coetzee het ook getuig oor hoe Khumalo hom opdrag gegee het om ʼn bedrag van R50 000 elk aan twee nieregeringsorganisasies oor te betaal – ʼn lening wat terugbetaal sou word.

Hy het later ʼn ander rekening ontvang waarna hy ʼn bedrag van R100 000 moes oorbetaal, in plaas van die R50 000 elk aan die twee NRO’s. Coetzee het aan die hof gesê hy is intussen nie meer ʼn lid van die paneel nie, ná ondersoek oor die saak begin het.

“Coetzee sal na verwagting onder kruisverhoor geplaas word wanneer die saak in Mei hervat. Die saak is in Khumalo se afwesigheid uitgestel en ʼn doktersbrief is by die staatsaanklaer en hof ingedien as ʼn bewys van sy onvermoë om die saak by te woon. Die staat is van voornemens om nog getuies te roep om te bewys dat vals fakture gegenereer is om nog valse betalings te doen terwyl die geld, wat geoormerk was vir gemeenskapsontwikkeling in die munisipaliteit, gesteel is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Uitstel is nou standaardpraktyk , daar word bespotting gemaak van die regstelsel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.