Ouderdomsperk op ‘50 Shades’ te laag, sê Louis Brittz

50-Shades-of-Grey

’50 Shades of Grey’ se ouderdomsbeperking is te laag om Suid-Afrikaanse tieners te beskerm, sê Louis Brittz. Foto: Numetro.co.za

Die Film- en Publikasieraad (FPB) is die afgelope week oorval met klagtes en bekommernisse van verskeie organisasies wat meen die fliek 50 Shades of Grey, wat Vrydag in rolprentteaters landswyd begin wys, se ouderdomsperk van 16 is te laag.

Louis Brittz, gospelsanger en organiseerder van die #Imagine Beweging vir tienerbediening in Suid-Afrika, het Donderdag aan Maroela Media gesê hy beskou die FPB se besluit om dié omstrede fliek se ouderdomsbeperking op 16 te hou, ten spyte van verskeie klagtes, as “uiters onverskillig en roekeloos”. “Dit voel vir my die FPB is uit op winsbejag, en plaaslike rolprentteaters het ons land se tieners uitverkoop om ʼn paar rand te maak en meer mense na teaters te lok,” het Brittz gesê.

Dr. Izak Burger, skrywer en president van die AGS-kerk, die Doxa Deo-gemeentes, Errol Naidoo van die organisasie Family Policy Institute South Africa, die Moreletapark-gemeente in Pretoria en Immergroen Ouerskap is van die ander organisasies en bekende individue wat hulle stemme by die protes teen die lae ouderdomsbeperking van dié omstrede fliek gevoeg het.

Die FPB het die raad se besluit om die 50 Shades-rolprent te beperk tot net 16 vir kru taalgebruik, naaktheid en tonele wat seksueel van aard is, op hulle webwerf verdedig. Volgens die persverklaring is dit ʼn teatervriendelike weergawe met minder eksplisiete tonele wat hierdie naweek in Suid-Afrika vrygestel sal word. Verder het hulle die ouderdomsbeperking nie net volgens die Film- en Publikasiewet se klassifikasieregulasies vasgestel nie, maar dit ook vergelyk met die beperkings wat in ander lande op die fliek ingestel is. Die Verenigde Koninkryk en Kanada het dieselfde rolprent ʼn ouderdomsbeperking van 18 gegee, en die VSA het die eksplisiete weergawe ʼn beperking van 18 gegee, terwyl die teatervriendelike weergawe ʼn ouderdomsbeperking van 17 het. Die Amerikaanse beperking is volgens die raad soortgelyk aan Suid-Afrika se 16-beperking. In Australië het die fliek ʼn ouderdomsbeperking van 15 gekry.

Vir Brittz gaan dit egter nie oor die eksplisietheid van die tonele in die rolprent nie, maar eerder die tema van die fliek wat sadomasochisties is. “Tieners het eenvoudig nie die onderskeidingsvermoë om hierdie inhoud te verwerk nie – ons kan hulle nie hieraan blootstel nie,” het hy gesê. “Ons het die tweede laagste ouderdomsbeperking vir dié fliek in die wêreld. Dit is eenvoudig onaanvaarbaar in ʼn land waar ons sukkel met gesinsgeweld en hoë vlakke van seksuele misdrywe. Ons praat oor morele waardes en stuur veldtogte van stapel om morele verval teen te werk, maar ons sit terug en laat ons tieners na hierdie soort fliek kyk. Iets is nie reg nie.”

Die FPB het enige verdere klagtes oor die rolprent se ouderdomsbeperking na die departement van kommunikasie verwys.

Brittz meen nuuskierigheid en groepsdruk gaan tieners na teaters laat stroom om die fliek te kyk.

Hy het Suid-Afrikaners aangemoedig om e-posse aan die departement te stuur om te bewys wat Christene van die rolprent se lae ouderdomsbeperking dink. “Ons eerste linie van verdediging wat die raad was, het ons gefaal, en om nou ʼn appèl- of hofsaak van stapel te stuur, is te laat en gaan honderde duisende rande kos. Maar ons kan steeds ons stem hieroor laat hoor. Ons het ʼn eenvoudige versoek: Verhoog die ouderdomsbeperking van 16 na 18 en beskerm ons tieners beter.”

Brittz meen die verantwoordelikheid lê nou by elke ouer. “Hulle moet hulle tieners en vriende waarsku en verduidelik waarom die inhoud nie vir jongmense bedoel is nie. Dit help ook nie ons boikot net hierdie fliek nie. Suid-Afrikaanse Christene moet eenvoudig harder met hulle beursies praat en net nie meer gaan fliek nie.”

  • Lesers wat voel die ouderdomsbeperking op 50 Shades of Grey moet na 18 verhoog word, kan ʼn e-pos stuur na [email protected] om hulle steun aan die veldtog toe te sê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

EJ ·

Ek stem saam met Louis. Dit gons hier in die UK oor die rolprent wat almal wil gaan kyk. Soos ek verstaan met die “content” van die film is die film verseker nie vir onder18’s nie. Oor n week huil ouers oor hul kinders wat dood is per ongeluk oor dinge wat verkeerd gegaan het met seksuele “speletjies” soos in die film. Nee wat, die ouers moet die kinders aanse om liewers nie te gaan kyk nie.

charmaine ·

Ja die ouderdomsbeperking kon 18 gewees het. Die fliek is die eerste boek, die 2de en 3de boek is baie rof, so as die boek 2 en 3 ook n fliek gaan word dan kan dit dalk 18-20 wees.
Maar dit bly elke persoon se keuse wat om te lees en wat om te kyk.
Ek het al 3 boeke gelees, dit het my 3 maande gevat, ek is mal oor lees so ek leef my in die storie in en dit was baie uitputtend, harteseer, emosioneel.

Violet ·

Dit is nou regtig nie leeswaardig nie. Dis plein snert. As n man dit met my probeer klap ek hom dat sy ore tuit!

Corne Spies ·

Dankie vir mense wat opstaan vir dit wat reg is! Ons land word oorspoel deur ‘n klomp gemors en ons elkeen moet probeer weerstand bied so hard as wat ons kan. Ons mag nie langer stilbly nie!

Elfie ·

Wie kan nog bekostig om te gaan fliek? Dis so vrekduur ek weet nou nie hoeveel sakgeld party kinders kry dat hulle nou so fliek sal gaan kyk nie, maar ja, dalk is ander mense(en hul kinders!) ryker as ekke! Sulke tipe flieks trek my in elk geval nie aan nie, wat.

Gert ·

Dit is nie net ons land wat ons voor moet bid nie maar ook vir ons jong mense

SNEL ·

Ek persoonlik dink dis n swak fliek (let wel, ek het dit nog nie gesien nie), maar n fliek wat seks van die begin tot einde het en dan praat almal nog van die kru taalgebruik, is genoeg rede vir my om te sê dis n swak klas fliek díe. Hierdie is net n geldmaak storie ten koste van die uitwerking wat dit het op die kykers. So maak elkeen sy keuse wat hy of sy wil kyk of nie, maar ek kan my tyd en geld baie beter spandeer en behalwe dit is so fliek teen my geloof. Ja, dit gons die hele wêreld vol oor die fliek, en die grootste trekplyster is die seks in die fliek, wys net waarheen die wêreld gaan, en die “vyand” sit en lag, want soveel mense word hierdeur ingetrek en kom tot n val deur sulke goed.

Eish! ·

Ek het een van die boeke gelees (die eerste een) en wow dit is erg. Ek het die tweede ook, maar het nog nie gelees nie. (weet nie of ek wil nie) Daar was ‘n storie agter die sex en ek myself het gedink die hoofkarakter was dalk gemolesteer of iets. Tog het diegene wat dit gelees het, gese die uiteinde is verrassend. Maar nou klink dit of die fliek eintlik porn is. Ek gaan kyk ook nooit fliek nie. Dit is net te duur. Neem eerder dvd’s uit. Sal maar sien of dit op ons dorpie se rakke sal kom, maar ek glo nie.

Sollie ·

Maar wat van die boek – ek het al GESIEN dat jong ‘n meisie dit koop en sy was duidelik nog nie 16 nie geen haan het daarna gekraai nie! Deksels – moes dit met my selfoon afgeneem het dan had ek bewys gehad!Nie dat ek dit goedpraat maar die tipe van besluite vir hoër ouderdomsperke moet konsekwent geneem word en dan vir die boek en fliek geld.

CR ·

Ek en my man het gedink ons sal op die cinema se trappie gaan sit met ons springmielies en lag vir al die mense wat die fliek gaan kyk. RERIG??? Het julle nie verbeelding nie?

Nina ·

Stuur my jou e-pos dan stuur ek AL die boeke vir jou. Jy mag dalk verras word. Dit was uitstekende leesstof, ten spyte van die SEKStonele! As julle mense NIE die boeke gelees het nie, weet julle duidelik nie waaroor dit gaan nie. Genade tog.

CM ·

Dit is nie die verantwoordelikheid van die FPB om die land se tieners op te pas nie. In elk geval sal ‘n hoër ouderdomsbeperking alleenlik werk as dit toegepas word. Gaan Ster Kinekor elke jongmens se geboortesertifikaat nagaan om te sien of hy/sy ouer as 16/18 is? Ek betwyfel dit ten sterkste.

Dit is die ouers se werk om na hulle kinders om te sien. As hulle hulle werk gedoen het en hulle kinders reg grootgemaak het/reg grootmaak, sal die jongmense uit hulle eie uit besluit om nie die prent te kyk nie. Hulle sal dan ook sterk genoeg wees om op te staan teen enige groepsdruk.

Dit is nie wensdenkery nie, dis hoe my ouers my grootgemaak het….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.