Oudhoë van Skerpioene probeer glo vervolging saboteer

Scorpions_SAAdv. Jeff Ledwaba, ‘n voormalige adjunkhoof van die Skerpioene, het glo R10 000 in ‘n staatsadvokaat, wat hom vervolg, se bankrekening inbetaal in ‘n poging om die vervolging te saboteer, berig Beeld.

Die staat beweer dat Ledwaba die geld inbetaal het en die dag daarna die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se teenkorrupsielyn geskakel het en adv. Willem van Zyl as korrup verkla het.

Ledwaba staan saam met Elvis Manyama in die Johannesburgse streekshof tereg op aanklag van regsverydeling, bedrog en korrupsie. Manyama het glo die inbetaling gemaak.

Ledwaba en Manyana sal volgende maand weer in die hof verskyn.

Volgens ‘n verklaring van lt.kol. Rosina Shickerling is die geld op 29 Oktober 2012 in Sunnyside in Van Zyl se rekening inbetaal. Ledwaba is destyds van bedrog en diefstal aangekla. Van Zyl het Ledwaba se vervolging oorgeneem nadat adv. Glynnis Breytenbach deur die NVG geskors is.

Van Zyl het nie die betaling verwag nie en het die NVG, polisie en die bank in kennis gestel. Die selfoonnommer op die depositostrokie behoort aan Livingstone Gabara. Hy beweer hy het die betaling namens Manyana gedoen.

Rekords wys dat Ledwaba op die dag vier oproepe na Manyana gemaak het en R10 000 onttrek het.

Daar is glo deur ‘n forensiese ontleder bevind dat dit wel Ledwaba se stem in die oproepe is. Ledwaba betwis dit egter en wil ‘n ontleding in die buiteland laat doen.

Ledwaba is uit op borg. Die NVG se interne ondersoek het gevind dat die bewerings teen Van Zyl ongegrond is.

Ledwana is skuldig bevind in die aanvanklike saak van bedrog en diefstal en sal na verwagting Vrydag gevonnis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.