Oudhoof van NHLS gee haarself oor ná bedrog

Die NHLS-kantore in Braamfontein (Foto: Dreeem, eie werk via Wikimedia Commons)

Joyce Mogale (66), voormalige uitvoerende hoof van die nasionale gesondheidsorg se laboratoriumdienste (NHLS), het Maandag in die Palm Ridge-handelsmisdaadhof verskyn oor beweerde tenderkorrupsie van meer as R113 miljoen in 2016.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), het gesê Mogale het na bewering ʼn kontrak met Blue Future Internet and Surveillance aangegaan vir die verskaffing, instandhouding en ondersteuning van eindgebruiker-rekenaarhardeware vir ʼn periode van drie jaar. Die gewysigde kontrak het bepaal die betrokke bedrag sal nie meer as R83 miljoen beloop nie. Die aanvaardingsbrief het dit egter duidelik gestel dat die waarde van die kontrak net meer as R25 miljoen beloop.

“Die NHLS het uiteindelik ʼn bedrag van R113 miljoen aan die verskaffer oorbetaal – dus net meer as R87 miljoen meer as die waarde van die kontrak. Die voormalige hoof is aangekla van bedrog en oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) ná haar wanvoorstelling aan die raad van direkteure by die NHLS.”

Mogale het haarself Maandagoggend aan die Valke in Germiston se eenheid, wat ernstige handelsmisdaad ondersoek, oorgegee. Sy het kort daarna in die hof verskyn waar sy vrygelaat is op borgtog van R20 000. Die saak is tot 17 September 2021 uitgestel. Haar medebeskuldigdes, wat ook op borgtog vrygelaat is, sal ook dan weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SjN ·

Klomp skelms, dis hoekom hul baklei vir die nuwe gesondheidsplan, nog n bron om te plunder.

Nie Verbaas ·

Ek moet bieg dat ANC nie met kleingeld speel nie. Swart Merc of Porsche Cayenne n moet saam met Kentucky, Moët en Don Perignon.

Misky ·

Hierdie ouens speel Monopoly met ons geld. Miljoene en miljoene en biljoene val deur die gate en die res van ons gaan nooit weer by die ‘Begin’ verby nie

Porseleintjie ·

Suid-Afrika! Jou lekker ding. Korrupsie die land se nasionale sport. Almal is mos baas en enige een mag die tjekboek hanteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.