Oudhoof van weermag sterf

Jannie Geldenhuys. Foto: Reint Dykema

Genl. Jannie Geldenhuys (83), hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) in die onstuimige tydperk van 1985 tot 1990, is vroeg Maandagoggend in ʼn versorgingsoord in George oorlede. Sy vrou, Marié, en kinders was by hom ten tyde van sy dood.

Geldenhuys, wat op 5 Februarie 1935 op Kroonstad in die Vrystaat gebore is, het in 1954 by die weermag aangesluit. As hoof van die SANW was hy betrokke by die onderhandelings wat in 1989 tot die einde van die Grensoorlog gelei het.

Genl.maj Roland de Vries, wat in 1999 as adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Leër uitgetree het, onthou Geldenhuys as “ʼn ongelooflike mens en ʼn baie goeie leier vir sy soldate vir wie hulle matelose respek gehad het”.

“Hy was ʼn generaal wat voor in die linie was en dikwels in gevegsvoertuie saam in Angola aan gevegte deelgeneem het,” sê De Vries. “Hy het geweldige onderskraging gebied, maar sou nooit inmeng in die proses nie.”

De Vries, self die skrywer van drie boeke oor oorlogvoering, onthou Geldenhuys vir sy nederigheid en toeganklikheid, as “iemand met wie ʼn mens kon gesels”.

Frans du Randt, familiewoordvoerder, sê in ʼn verklaring: “Dit was alombekend dat genl. Geldenhuys die afgelope paar jaar aan alzheimersiekte gely het en hy is in sy laaste dae baie goed versorg in die Jura Care Village in George.”

Du Randt sê Geldenhuys sal veral onthou word as die weermaghoof in wie se termyn “Suid-Afrika se geskiedenis rigtinggewend verander het”. In sy ampstermyn is die land deur enorme konflik gekenmerk – intern en ekstern.

“As hoof van die weermag het hy hom uitstekend van sy taak gekwyt. Hy het ook ’n leidende rol gespeel as een van die hoofonderhandelaars vir die onafhanklikheid van die destydse Suidwes-Afrika.”

Benewens ʼn boek oor sy ervarings as generaal wat in 1995 verskyn het, het hy ook Dié wat gewen het: Feite en fabels van die Bosoorlog (2009), At the front: A general’s account of South Africa’s Border War (2009) en Ons was daar – Wenners van die oorlog om Suider-Afrika geskryf. Dit het in 2011 verskyn en is ook in Engels as We were there – Winning the war for Southern Africa uitgegee.

Hy word oorleef deur sy eggenote, dogters, Annamarié en Lollie, seun, Bruwer, skoonseun, Steyn van Niekerk, en sy enigste kleinkind, Harper-Martin. Die egpaar se oudste seun, maj. Harper Martin Geldenhuys, het in 1991 in ʼn fratsongeluk op Pomfret in Noordwes gesterf.

Geldenhuys, wat in Pretoria gewoon het, is die afgelope paar dae in ʼn versorgingsoord in George versorg.

Die verassingsdiens is ʼn private geleentheid vir die familie. ʼn Gedenkdiens sal Donderdag 20 September om 10:00 in die NG kerk Pretoria-Oos (Ooskerk), hoek van Lynnwood- en Kirknessstraat (oorkant Loftus Versfeld), plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Hans ·

Is nou net besig om sy Boek “Die wat wen” te lees. Al jare in besit van die boek, maar lees nou eers.

LH ·

NET so Gerrie . . . NET so! ‘n man wat nie bang was om voor te loop nie!

LH ·

‘n BAIE groot boom wat hier geval het . . . Mag u in vrede rus Generaal Jannie! SALUUT!

Swanna ·

Stem saam LH. SALLUUT Generaal Jannie. Een van die groottes in ons geskeidenis waarna jy kon op kyk met die grootste respek. Rus rustig.

alida ·

As SA huidiglik net nog ‘n paar van sy kaliber in die SAW gehad het sou ons baie trots kon wees. Wat ‘n man met integriteit en murg in sy pype. Medelye aan sy familie.

Elvira ·

Stem saam. Prys die Here my pa, Sers Maj Frikkie Fourie was oorlede voordat hierdie land se Weermag so verval het. Hy sou dit nooit kon hanteer het nie.

Dankie ·

Rus sag. Uiteindelik is jou stryd verby. AT least het jy solank jy kon die land vir ons en ons kinders veilig gehou.

Elvira ·

Rus in Vrede. In jou tyd was dit n spog weermag en ons land in n fantastiese situasie. Alles was perfek en dissipline en netheid was aan die orde van die dag. Dit sal nooit ooit weer so perfek wees nie.

izakthrn206@ gmail.com ·

generaal dankie jy het van ons dapper manne gemaak rip mag jy nou rus by God die almagtige

Johan ·

Generaal rus in vrede. Jy was n yster .Ons almal wat in weermag was is trot op jou.

My mening ·

Ek bid dat ons weer in die toekoms hierdie tipe man (of vrou) as leiers sal he. Sterkte aan sy familie.

Geurt ·

Werklik ‘n leier van sy tyd en ‘n soldaat wat respek verdien het. Vir sy huis mense, weet dat ons hom deur dik en dun kon volg omdat hy respek verdien het. Rus in God se rus Generaal!

Paul ·

Hy was op 36 ‘n brigadier en hoof van Noord Transvaal Kommandement toe ek in 1971 as diensplig kpl die vlag een oggend voor sy kantoor gehys het. Toe hy verby die vlag loop het hy nog gesê: Nou hoef jy nie te salueer wanneer jy groet nie en lekker gelag. RIV Generaal.

Jacques ·

‘n Goeie bevelvoerder is welwillend en nie besorg oor roem nie.
– Sun Tzu

Generaal Geldenhuys was dit én meer. Respek aan die generaal wat ek die hoogste geag het.

Gerald Noome ·

Gedurende 85/86 voorreg gehad om as dienspligtige hom bykans elke dag te sien – voorwaar ‘n merkwaardige leier met ‘n ongelooflike sin vir humor, uiters inteligent en altyd ‘n sin vir regverdigheid en menswaardigheid. Generaal Jannie het ‘n blywende invloed op my loopbaan gehad en nie maklik sal ons weer so ‘n mens of militêre aanvoerder kry nie… Innige meegevoel met familie…. Voorwaar het daar ‘n groot boom geval !

Karolis ·

Hy was ‘n klein (kort) man met ‘n reus se moed.
Nie persoonlik geken nie maar ek salueer hom vir dit wat ek gehoor het van hom.

Cockpit ·

The best General in the SADF ever! A great example to everyone. R.I.P.

Pieter ·

Laaste saluut virn GROOT held. Laaste saluut Generaal. RIV

Theuns ·

Het voorreg gehad om sy PA vir paar maande te wees. Hy was soos ‘n pa maar ook as leermeester, nie net oor die Weermag, maar ook die lewe. Rus in vrede, Generaal. Dankie vir jou insette/riglyne in my lewe, maar ook as leier in die Weermag en die land se jeug in die Weermag. Jou leiding en opoffering was/is vir baie ‘n kompas in die lewe. Aan sy familie baie sterkte. God sal julle trane afdroog.

CAROL ·

Moet se die tyd toe hy in beheer was – was die weermag nog weermag!! Nie vandag se sirkus nie

annie ·

Namens iemand wat baie na aan hom was, stuur ek baie sterkte en troos van ons Hemelse Vader aan sy familie. Ons sal hom nooit vergeet nie. Dankie Genl en Marié vir julle liefde en omgee.

Saluut ·

Was een van die beste generaals oot in die SAW. Het die voorreg gehad om hom een aand in 1986 persoonlik te ontmoet in Kiepersol Menasie in Pta toe hy Hoof van die SAW was….aangename en nederige mens wat groot respek afgedwing het. Ek salueer u Generaal. RIV

HPV ·

U was altyd daar vir ons soldate. As oud weermag lid salueer ek u Generaal. RIV.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.