Ouditeur-generaal Kimi Makwetu oorlede

Ouditeur-generaal Kimi Makwetu (November 2018) (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die ouditeur-generaal, Kimi Makwetu, is Woensdagmiddag oorlede.

Die kantoor van die OG het in ʼn verklaring gesê Makwetu het in ʼn hospitaal gesterf. “Hy is in Junie 2018 met graad 4-longkanker gediagnoseer.

“As die nasionale ouditkantoor betreur ons sy afsterwe saam met die Makwetu-familie,” lui ʼn verklaring. “Ons versoek die publiek om die familie in hul gedagtes te hou in hierdie moeilike tyd en om aan hulle die nodige ruimte te bied om sy afsterwe te verwerk.”

Besonderhede oor ʼn roudiens sal later bekendgemaak word.

Makwetu is in Desember 2013 as ouditeur-generaal aangewys. Sy ampstermyn sou volgende maand verstryk het.

Hy is in Kaapstad gebore en het in 1989 ʼn graad in Sosiale Wetenskappe van die Universiteit van Kaapstad ontvang. Ná ʼn honneursgraad by die Universiteit van Natal in 1997 het hy homself as geoktrooieerde rekenmeester gekwalifiseer. Sy loopbaan het by Standard Bank begin voor hy na Nampak oorgeskuif het. Hy het sy klerkskap by Deloitte voltooi en het later ook vir Metropolitan Life (Wes-Kaap) en Liberty Life (Gauteng) gewerk voor hy ʼn direkteur geword het by Deloitte se forensiese eenheid. In 2007 het hy as adjunk- direkteur-generaal onder Terence Nombembe begin werk.

Hy laat ʼn vrou en drie kinders agter.

Medelye stroom reeds in op sosiale media.

Tsakani Maluleke, tans die adjunk- ouditeur-generaal (OG), is reeds teen die einde van Oktober as opvolger vir Makwetu aangewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Casper

Dit is baie hartseer.Hy het sy lewe gewei aan sy werk en tog nie sy familie afgeskeep nie.Rus sag ou grootste.Sterkte aan sy familie.

Adam Adriaan

Jammer om te hoor. Hy het sy werk baie goed gedoen. medelye aan sy familie

Yvonne

Dis hartseer

Tanniepetoors

Baie respek vir Makwetu gehad as OG. Medelye met familie. RIV.

Persheks Adri

Hy was nou regtig ‘n ou wat sy werk gedoen het! Rus in vrede Kimi Makwetu! Sterkte aan die familie en vriende in die moeilike tyd mag God julle dra