Ouditeursraad gaan ondersoek na KPMG-verslag doen

KPMG-twitter

Foto: @SADN_Diaspora/Twitter.com

Die Onafhanklike Ouditeursraad (IRBA) het Maandag gesê hy neem kennis van die stappe wat KPMG doen om aanspreeklikheid af te dwing rakende die ouditeursfirma se omstrede SAID-verslag, maar sê die raad sal ook sy eie onafhanklike ondersoek hieroor doen.

Die IRBA het Maandag gesê die raad is tevrede dat KPMG sy bevindinge bekendgemaak het, aanspreeklikheid afdwing en stappe doen wat in openbare belang is. “Die IRBA sal egter sy eie onafhanklike ondersoek doen om die saak tot die nodige afsluiting te bring.”

Bernard Agulhas, uitvoerende hoof van die IRBA, het in ʼn verklaring gesê daar kan nie in dié stadium bepaal word hoe lank die ondersoek sal duur of watter bewerings deur die ondersoek gedek sal word nie. “Die IRBA is egter toegewyd om ʼn robuuste ondersoek in so ʼn kort as redelik moontlike tyd te doen om aan sy mandaat om die openbare belang te dien te voldoen.”

Agulhas het gesê dit is noodsaaklik vir die goeie naam van die bedryf en die stabiliteit van kapitaalmarkte dat die IRBA voortgaan om met ouditeursfirmas saam te werk om hul onafhanklikheid en nakoming van standaarde te versterk. “Dit IRBA is van voorneme om met die nuwe span by KPMG te vergader om hul regstellende stappe, wat gereeld deur die IRBA gemonitor sal word, te bespreek.”

“Regulatoriese en oorsigliggame moet nou meer as ooit saam met die bedryf werk te midde van die uitdagings wat die ekonomie en die land in die gesig staar. Dit is noodsaaklik dat die bedryf toegewyd bly aan die regulatoriese liggaam se maatreëls om nie net die publiek en beleggers te beskerm nie, maar ook ouditeursfirmas te help om nie in kwessies soos etiek, onafhanklikheid en die nodige standaarde tekort te skiet nie.”

Intussen het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gesê hy sal Maandag ʼn mediakonferensie hou oor KPMG se onttrekking van die SAID-verslag. Die konferensie sal by die SAID se kantore in Pretoria gehou word.

Dit volg nadat KMPG verlede week aangekondig het dat hy sy verslag oor die sogenaamde “rogue-eenheid” by die SAID gaan onttrek. KPMG het ook gesê werk wat hy vir die Guptas gedoen het, was nie volgens standaard nie.

KMPG Suid-Afrika het Vrydag vir Nhlamu Dlomu as die maatskappy se nuwe uitvoerende hoof aangestel. Dlomu het gesê sy is toegewyd om die beleërde ouditeursfirma se fundamentele waardes van etiek en integriteit te herstel in ʼn poging om KMPG se geloofwaardigheid te red.

Dit volg nadat Trevor Hoole Vrydag as uitvoerende hoof bedank het terwyl Steven Louw as bedryfshoof en risikobestuursvennoot bedank het. Vyf ander senior vennote van KPMG SA het ook besluit om die maatskappy te verlaat.

KPMG SA het ook besluit om dissiplinêre optrede teen Jacques Wessels, die hoofvennoot wat die ongenoteerde Gupta-sake-entiteite se oudits hanteer het, in te stel met die oog daarop om hom af te dank.

KPMG het onder skoot gekom rakende die “SAID-verslag” waarin hy deur die SAID aangestel is om ʼn omvattende ondersoek te doen oor ʼn sogenaamde “rogue-eenheid” wat glo deur die destydse SAID-kommissaris, Pravin Gordhan, op die been gebring is.

Die ondersoek het gelei tot ʼn “verslag oor bewerings van onreëlmatighede en wangedrag”. KPMG het Vrydag gesê die bewyse in die dokumente ondersteun nie die interpretasie dat Gordhan geweet het, of moes geweet het, van die “rogue”-aard van die eenheid nie. Die maatskappy het gesê hy erken en het berou oor die uitwerking wat die verslag gehad het, en dat hy “geen politieke motivering of bedoeling gehad het om te mislei nie”.

KPMG het daarna aangebied om die R23 miljoen wat hy vir die werk vir die SAID ontvang het, terug te betaal, “of om ʼn donasie van dieselfde bedrag aan ʼn liefdadigheidsorganisasie oor te betaal”. Gordhan het intussen ook die onttrekking van die verslag verwelkom, maar het gesê hy sal regsadvies oor die saak inwin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Justice ·

KPMG moet nie te gou reuse skenkings aan liefdadigheids organisasies wil doen nie – hier kom ongekende bedrae in siviele eise teen hulle.

Mr B ·

Die enigste manier om hierdie gedrag te voorkom is om te tug. Tug in hierdie konteks beteken tronkstraf vir die skuldiges en n asemrowende boete! Of dalk moet IRBA hulle lisensie terugtrek?

Die versoek sal altyd daar wees, maar die meneere moet weet, die pakslae sal ook altyd wag.

Hoe anders leer n geld jaende firma gevul met A tipe persoonlikhede om hulself te gedra?

Die oudit professie het eers sy kouse opgetrek toe een van die top 5 gevou het. Nou is daar net vier!

Eish ·

Mr. B,
Ek wil tog volmondig met jou saamstem aangesien die rimpeleffek van bestuur se optrede impakteer op 3000 plus werknemers wat in totaliteit niks met die aangeleenthede waar gefouteer is, uit te make het nie. Normaalweg stap die mense weg met reusebedrae en dit moet stop. Hoekom moet die weerloses altyd die spit afbyt van roekelose bestuur en geen geleentheid hê tot remedieërende optrede nie? Stroop die wetters van hul bates ten gunste van n fonds tot voordeel van die personeel wat deur die chaos liggaam en siel aanmekaar moet hou. Die gejaag na allersoorheersende wins ten koste van etiek en medemenslikhied moet begrens word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.