Ouditeurswet dalk binnekort gewysig

skuld-krediet-afbetaling-belasting-sakrekenaar-rekenaar-boekhou

Foto ter illustrasie (Foto: FirmBee/Pixabay.com)

Ná verskeie vertragings nader die Wysigingswetsontwerp op die Ouditeursberoep nou die einde van die parlementêre proses. Gemeet aan die wyse waarop dit hierdie week in die parlementêre staande komitee oor finansies ontvang is, sal dit eersdaags op die wetboek wees.

Die ouditeursberoep het die afgelope jare onder verskeie omstredenhede gebuk gegaan ná gebeure soos die Steinhoff-debakel, wat gelei het tot vele oproepe dat die dissiplinêre prosesse vir ouditeurs strenger moet wees.

Die nuwe wetsontwerp wysig die Wet op die Ouditeursberoep van 2005, wat die Onafhanklike Regulatoriese Raad van Ouditeurs (IRBA) daargestel het. IRBA reguleer die registrasie van ouditeurs en kandidaat-ouditeurs, asook hul onderrig, opleiding en professionele ontwikkeling. IRBA se take sluit ook in om beweerde wangedrag te ondersoek, dissiplinêre verhore te hanteer en strawwe vir wangedrag neer te lê.

Die nuwe wetsontwerp se doelwitte is om die bestuur van IRBA te versterk, om die ondersoekende en dissiplinêre prosesse vir die ouditeursberoep te verbeter, om die magte toe te ken om klopjagte op ouditeurskantore uit te voer, om ouditeurs te verplig om getuienis in dissiplinêre verhore te lewer, om die minister van finansies die mag te gee om van tyd tot tyd die bedrae vir tersaaklike boetes aan te pas, om die oortredings te definieer wat aan dissiplinêre prosesse onderhewig is, en om die beskerming en deel van inligting te reguleer.

Voorts poog die wetsontwerp om IRBA se onafhanklikheid en doeltreffendheid te versterk deur twee lede van die regsberoep op die raad in te sluit, en deur te verseker dat geen raadslede direk of indirek voordeel trek uit die winste van ouditeursfirmas nie, of enige betaling (vaste pensioene uitgesluit) van geregistreerde ouditeurs ontvang nie.

Die ondersoekkomitee sal kragtens die voorgestelde wetgewing slegs bestaan uit lede wat onafhanklik van die ouditeursberoep staan, en sal altyd minstens twee voormalige ouditeurs en een advokaat of prokureur insluit.

Omdat die huidige dissiplinêre komitee tans oorlaai is deur die aantal dissiplinêre verhore, word IRBA kragtens die nuwe wetgewing die mag gegee om soveel bykomende lede in die dissiplinêre komitee aan te stel as wat die organisasie dink nodig is.

Klousule 11 van die wetsontwerp bevat die voorgestelde wysiging dat lidmaatskap van ʼn geakkrediteerde professionele liggaam ʼn voorvereiste word vir registrasie as ʼn ouditeur of kandidaat-ouditeur.

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Gegewe ouditeurs se verantwoordelikheid om ongerymdhede aan IRBA te rapporteer, verbied klousule 14 van die wetsontwerp die verwydering van ʼn geregistreerde ouditeur voordat hy of sy die proses om ongerymdhede aan IRBA te rapporteer, afgehandel het. Voorts lui die wetsontwerp: Indien ʼn individuele geregistreerde ouditeur ongerymdhede aangemeld het en uit die firma bedank voordat die proses afgehandel is, moet daardie ouditeur die nodige oorhandiging ter voortsetting aan ʼn ander ouditeur doen, onafhanklik van wanneer die bedanking van krag word.

Ten einde doeltreffende dissiplinêre prosesse te verseker, word sulke prosesse in klousule 15 van die wetsontwerp versterk om die magte in te sluit om persone te verplig om voor die tersaaklike komitees te verskyn, asook om tersaaklike dokumente ter tafel te lê.

Klousule 16 magtig klopjag-operasies met dien verstande dat sulke klopjagte met die instemming van die tersaaklike ouditeursfirma geskied, of dat ʼn lasbrief deur ʼn regter of landdros uitgereik is, binne die raamwerk en beperkinge van die Grondwet.

Sodra ʼn ouditeur skuldig bevind is, word twee prosesse kragtens klousule 17 geskep, naamlik ʼn skuldbekentenisproses en ʼn dissiplinêre verhoorproses. Sover dit die skuldbekentenis betref, kan dit uitloop op ʼn waarskuwing of ʼn teregwysing, of ʼn boete, of bykomende opleiding, of ʼn kombinasie van enige van hierdie stappe.

Die kansellasie van registrasie as lid van die relevante professionele liggaam en/of diskwalifikasie daarvan om ooit weer lid van so ʼn liggaam te wees, is ook ʼn moontlike straf.

Enigiemand wat in gebreke bly om gehoor te gee aan die bevindings en straf van ʼn dissiplinêre komitee kan tronkstraf van tot vyf jaar, ʼn boete of albei opgelê word.

Om vertroulike inligting wat tydens die rapportering van beweerde misdrywe en tydens dissiplinêre prosesse aan die lig kom te beskerm, verbied die wetsontwerp die openbaar maak van sulke inligting buite die genoemde proses, behalwe waar ander wetgewing dit magtig of vereis.

Die wetsontwerp is reeds einde verlede jaar deur die Nasionale Vergadering aanvaar. Indien die staande komitee oor finansies dit goedkeur, sal ʼn volle en openbare sitting van die Nasionale Raad van Provinsies in die parlement stem om dit goed te keur of af te keur.

Indien die Nasionale Raad van Provinsies enige wysiging op die wetsontwerp goedkeur, word dit terugverwys na die Nasionale Vergadering om goedgekeur of afgekeur te word. Indien die Nasionale Raad van Provinsies die wetsontwerp onveranderd goedkeur, word dit na die president verwys vir ondertekening, te gelegener tyd.

Gegewe die relatiewe gebrek aan omstredenheid rondom, en die groot mate van konsensus oor hierdie wetsontwerp sal dit na verwagting binnekort wet word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.