Ouditverslag oor grond binnekort beskikbaar

Die Nasionale Vergadering

Die VF Plus hoop die lang verwagte ouditverslag oor grond in Suid-Afrika kan hopelik binnekort help om mites rondom grondbesit uit die weg te ruim wat tans deur politici vir skadelike retoriek misbruik word.

Só sê Pieter Groenewald, leier van die VF Plus. Volgens die VF Plus het Gugile Nkwinti, die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, in antwoord op ʼn geskrewe parlementêre vraag van Groenewald geantwoord dat die tweede fase van dié grondoudit teen einde Oktober vanjaar beskikbaar gestel sal word.

Die oudit was reeds by die kabinet en luidens die minister se antwoord is dit in Junie vanjaar terugverwys sodat die departement finale aanbevelings kan maak.

Groenewald meen daar word al lank na die verslag uitgesien, aangesien dit sal aandui watter persentasie van grond in Suid-Afrika besit word deur wit mense, swart mense, bruin mense en Indiërs. “Selfs die persentasie wat deur buitelanders besit word, sal aangedui word,” het Groenewald laat hoor.

“Die verslag is noodsaaklik, veral om die retoriek wat deur die politici gebruik word dat wittes 80% van die land se grond besit terwyl reeds aangetoon is dat die staat 14% besit, die nek ingeslaan kan word.

“Die VF Plus hoop dat die verslag deeglik en akkuraat sal wees sodat skadelike populêre politieke uitsprake gestaak kan word en dat daar op behoorlike feite wat grondhervorming aanbetref, gereageer word,” het Groenewald gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Basson ·

Die ‘populiste’ sal ongelukkig nie toelaat dat feite ‘n goeie haat-opsweping veldtog bederf nie.

Hendrik ·

Wat is die kans dat dit akkuraat sal wees? Wie stel die verslag saam?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.