Oudkolonel wat doodstraf vryspring dié naweek terug in SA

William Endley (links) se familie het dié foto van hom en James Gatdet wat saam vrygelaat word. Foto: Verskaf

William Endley, die 57-jarige Suid-Afrikaanse oudkolonel wat langer as twee jaar in Suid-Soedan aangehou is, sal na verwagting dié naweek in Kaapstad aankom.

Charmaine Quinn sê daar was Vrydag nog dokumente wat afgehandel moes word voordat haar broer ʼn vlug huis toe kon haal. Vlugte uit dié Afrika-land wat al jare lank steier onder grootskaalse geweld, is boonop nie té gereeld nie.

ʼn Vredesooreenkoms is onlangs in Suid-Soedan aangegaan wat ʼn einde gemaak het aan ʼn vyf jaar lange burgeroorlog wat die dood van minstens 400 000 mense veroorsaak het. Die konflik het nagenoeg vier miljoen mense ontwortel en ʼn hongerdood staar steeds talle in die gesig. Suid-Soedan het in 2011 weggebreek van Soedan om die wêreld se jongste land – met wye erkenning – te word.

Suid-Soedannese president Salva Kirr het die afgelope week die doodstraf opgehef wat Endley opgelê is nadat hy skuldig bevind is aan klagte van onder meer spioenasie en sameswering om die Suid-Soedannese regering omver te werp.

Endley is in Augustus 2016 in hegtenis geneem. Dít nadat die hoofstad Juba in ʼn bloedbad verval het ná bewerings van ʼn beplande sluipmoord op Riek Machar, die rebelleleier van die opposisiegroep die Sudan People’s Liberation Army (SPLA). Machar het landuit na Suid-Afrika gevlug.

Quinn sê hulle het intussen foto’s van Endley gekry wat wys hy is maer, maar lyk goed. Hy en James Gatdet, Machar se woordvoerder, word saam vrygelaat.

William Endley se familie het dié foto van hom en James Gatdet wat saam vrygelaat word. Foto: Verskaf

Sy sê die familie – en veral hulle ma Myrpel – wag op hete kole vir Endley om eindelik weer op tuisbodem te wees. Sy sê sy glo die Suid-Soedannese regering wil wys dat hy sy woord hou en sal daarom probeer verseker dat Endley spoedig tuiskom. Hulle is dus nie bang dat sy deportasie nog deur die mat gaan val nie.

“Dis amper drie jaar sedert ons mekaar laas gesien het. Ons het nooit gedink hy gaan dit oorleef nie. Hy is 57, so dit was nie maklik nie. Ons het nou die foto’s gekry – ons het lanklaas foto’s van hom gekry – hy is maer, maar lyk eintlik goed. Hulle [die Suid-Soedannese regering] het na hom gekyk.”

Quinn het ook die Suid-Afrikaanse regering bedank wat die familie deurlopend ondersteun het.

“Ek kon elke maand vir hom geld stuur en hulle het die geld en medisyne en kos vir hom gevat. Hy lyk baie goed onder die omstandighede,” het Quinn gesê.

Sy sê hulle gaan Endley op die lughawe inwag en hom daarna met liefde oorval en bederf.

“Ons kan nie wag nie. Ons wil hom net sien, vir hom ʼn drukkie gee…”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pitbul ·

As oud Sapper is ek verheug om Komedant Endley soos ek hom geken het weer vry te sien

N Lourens Reitz ·

Ja jy is reg Pitbul. Ek was in die laat tagtigs onder sy bevel Geniekorps 21 veld Eskadron waar hy as majoor bevelvoerder was. ñ Briljante instrukteur met absulute dissipliene wat die tegniek van veld en skietkuns bemeester het.Is saam met die familie bly en het ook vir sy vrylating gebid sedert Mei maand dat ons Hemelse Vader sy lewe gespaar het waar hy vroeër die doodstraf op gelê.Ons gebede is verhoor.Dankie Here.

Linda ·

LET WEL…DIE OU KOLONEL HET VANDAG, SATERDAG, VEILIG IN SUID-AFRIKA, O R TAMBO LUGHAWE GELAND !!!!! Hy lyk redelik goed !!!!

Kobus ·

Is jy baie seker Linda…kon niks van dit raaklees in enige koerant op die net of op sosiale media…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.