‘Oudleerder’ daag met vuurwapen by skool op

Die vuurwapen aan die man se sy. (Foto: Skermgreep van video met vergunning van Southlands Sun)

’n Jong man word van intimidasie aangekla nadat hy Maandag met ’n gasgeweer by die Grosvenor Boys’ High School in Durban ingestap en ’n klas ontwrig het met die oënskynlike doel om ’n video daarvan te maak.

Die 25-jarige man is glo ’n oudleerder van dié skool.

’n Video van die voorval het sedertdien die lig gesien. Daar kan in dié video – wat deur ’n leerder in die klaskamer geneem is – gesien word hoe die man in die deur van die klaskamer staan en rook terwyl hy met die onderwyser praat.

Die man – geklee in ’n hoed, sonbril en ’n swart kappietop – lig in ’n stadium sy kappietop effe op en ’n vuurwapen kan aan sy sy, net bo sy broek, gesien word.

Luidens die teks in die betrokke video het die man by die klaskamer ingestap, rook na die leerders geblaas en hulle aangesê om nie na hulle onderwyser te luister nie.

Zoë Solomon, plaaslike raadslid, sê nou die man in die video is ’n oudleerder van Grosvenor Boys’ High School en het na bewering vooraf met ’n leerder afgespreek om hom af te neem.

“Hulle wou ’n TikTok-video maak,” verduidelik Soloman.

Sy wys daarop dat daar in die video gesien kan word hoe die leerder agter die kamera ’n handsein na die man by die deur wys. Sommige leerders in die klaskamer was egter nie van die twee se planne bewus nie en moes sedertdien berading ontvang, aldus Soloman.

Die polisie is ook van die voorval in kennis gestel.

Lt.kol. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die man is kort ná die voorval in hegtenis geneem en sou na verwagting Woensdag in die Durbanse landdroshof verskyn op aanklagte van intimidasie en die besit van ’n gevaarlike vuurwapen.

“TikTok het ’n godsdiens vir kinders geword en dit is baie gevaarlik,” waarsku Soloman nou. “Verbeel jou een van die leerders het opgespring, die man probeer takel en is in die proses geskiet. Dit is nié ’n grap nie.”

  • Die betrokke video was teen Woensdagmiddag nie op TikTok beskikbaar nie.

Kyk na die video hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Voilet ·

Jy weet nooit wat hy regtig wou doen nie. Kyk hoe gaan dit oorsee by die skole met massaskietery

Kerrie ·

“met n gasgeweer” . . . . hoe kan hy iemand doodskiet met n bb-pistool as hulle hom takel…

Jubba ·

Wat de joos is n ‘gasgeweer’ en hoe is die nuuswaardig?

Meisie ·

Dis ‘n gaspistool, mens het geen lisensies nodig vir dit nie, maar hy gaan jou harder roer as ‘n “Pellet-gun”, dis nogsteeds onaanvaarbaar. Dit bly ‘n wapen.

Dis nuuswaardig om te weet hoe mal mense word vir sosiale media, eks seker ek sou nie daarvan gehou het om te weet my kind was in daai klas nie.

Nicholaas ·

Hy moet bietjie klein gemaak word deur n paar groot manne, ek dink n paar warm klappe sal die ding doen.

Elize ·

Sluit hom toe. Duidelik weet hy nie hoe om ‘n grappie te maak nie want niemand lag nie.

Estelle ·

Maak nie saak of hy met n gasgeweer of n kettie by die klas opgedaag het nie, hy wou duidelik ontwrigting en paniek vir die leerders veroorsaak. Sy arrogante houding spreek boekdele.

Chris dupreez ·

Ek hoop regtig daar kom dissiplinere stappe teen die leerling wat dit saam met hom beplan het en die video gemaak het. Dit is hierdie keer net n gaspistool, maar volgende keer ?

Deidré ·

Wow dis mos nou n wonderlike voorbeeld en dit dan nou nog by n skool ook. Liewe heiland waarheen stuur ons mensdom af. Skokwekkend.

Mariana ·

In SA vandag is dit nie ‘n grap nie. Ek kan my indink hoe die onderwyseres en leerders moet gevoel het. Die leerder wat die video geneem het is ook skuldig. Die mannetjie by die deur moet vasgevat word. Ons lewe elke dag in vrees, sulke optrede is net walglik.

Johan ·

Gas ‘geweer’ is ‘n non-lethal weapon en dus nie ‘n vuurwapen nie. Skiet paint-ball tipe harde balletjies. Maar ja, hy het die skool op ‘gevaarlike’ wyse probeer ontwrig en kon self sterf weens sy ondeurdagte optrede

Duck ·

‘n gas (Co2) pistool of ‘n BB gun skiet ‘n 0.45 mm staal bolletjie teen omtrent 450 ft/sek en as dit die oog binnedring kan dit dodelik wees. Glad nie so ‘n onskuldige speelding nie.

gpsa ·

Nogals redelik siek, als net om video te maak. Hoop hy kry die straf wat hom toekom en dat hy sommer ‘n voorbeeld sal wees dat dit nie net ‘n grap is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.