Die man wat glo vroeër die week ʼn bomdreigement by die Menlyn Maine-winkelsentrum in die ooste van Pretoria uitgevoer het, was voorheen verbonde aan die destydse Skerpioene.
Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, het aan Maroela Media gesê Ekhard Albertus Mostert (50) het Donderdag in die Hatfield-gemeenskapshof verskyn op aanklag van die oortreding van die Wet op die Beskerming van Konstitusionele Demokrasie teen Terroriste- en Verwante Aktiwiteite.
Dít volg nadat Mostert glo Dinsdag omstreeks 11:15 met ʼn kammabom by ʼn bank in die winkelsentrum ingestap en op geld aangedring het. Sekuriteit is in kennis gestel en die sentrum is inderhaas ontruim waarna die polisie Mostert in hegtenis geneem het.
“Die beskuldigde het na bewering ʼn kammabom gebruik om ʼn poging om te roof,” het Ramovha gesê.
Volgens Ramovha het Mostert tydens sy hofverskyning aangedui dat hy beplan om skuldig op die aanklagte teen hom te pleit. Hy het ook gesê hy verkies om nie van ʼn regsverteenwoordiger gebruik te maak nie.
“Die hof was baie versigtig om Mostert se beoogde pleidooi te aanvaar nadat die erns van die aanklag en die swaar vonnis wat daarvoor opgelê kan word, oorweeg is,” het Ramovha gesê.
Die saak is tot 26 September uitgestel. Die hof sal dán besluit of die saak sal voortgaan sonder dat Mostert enige regsverteenwoordiging het.
Ramovha het bevestig Mostert het in die laat 80’s by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) begin werk en later by die Skerpioene aangesluit het toe die eenheid op die been gebring is.
Die Skerpioene is jare gelede ontbind en staan nou bekend as die Valke, wat die saak teen Mostert ondersoek.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
52 Kommentare
Hier is dalk meer as wat ons met die blote oog waarneem…
Hys so mal soos n haas
Verstaan net eenvoudig nie hoe werk so ‘n ‘OU’ se kop nie ! Hy het definitief meer moeilikheid nou as voor die TYD ??????
Wat het die oubaas besiel, n mens kon dit nog verstaan van andere gemeenskappe in ons land,
Kry hom eintlik jammer