Oudminister Dlamini vir meineed vervolg

Oudminister Bathabile Dlamini. (Foto: GCIS)

Bathabile Dlamini, voormalige minister van maatskaplike ontwikkeling, gaan vir meineed of die aflê van vals getuienis vervolg word.

Die Black Sash-trust en die Sentrum vir Toegepaste Regstudies (Cals) het Dinsdag die besluit deur die direkteur van openbare vervolging (DOV), om voort te gaan met vervolging teen Dlamini, verwelkom.

Luidens ʼn verklaring deur die organisasies moet Dlamini op 21 September in die Johannesburgse streekhof verskyn.

Die aanklag teen Dlamini hou verband met haar getuienis tydens ʼn ondersoek wat gelas is deur die Konstitusionele Hof wat ondersoek ingestel het na Dlamini se rol in die sogenaamde maatskaplike toelae-krisis van 2017.

Regter Bernard Ngoepe het in 2018 die ondersoek gelei.

Cals het die Black Sash-trust tydens die ondersoek verteenwoordig en getuienis voorgelê dat die minister misluk het in haar plig om te verseker dat die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) behoorlik in staat was om die betaling van toelae oor te neem.

Sassa het die betalings behartig nadat ʼn ongeldige kontrak met Cash Paymaster Services beëindig is.

Ngoepe het in sy verslag bevind die minister het nie net haar plig versaak nie, maar ook versuim om bepaalde inligting aan die hof bekend te maak weens vrees dat sy in haar persoonlike hoedanigheid vir die krisis aanspreeklik gehou kan word.

Luidens die verslag was Dlamini ʼn “ontwykende” getuie en het sy eenvoudige vrae geantwoord met stellings soos “ek weet nie” of “ek kan nie onthou nie”.

Soms het sy net glad nie geantwoord nie.

Die Konstitusionele Hof het in September 2018 uitspraak in die saak gelewer en bevind Dlamini se optrede was “roekeloos en grof nalatig”. Sy is beveel om ʼn gedeelte van Black Sash, verteenwoordig deur Cals, se regskoste te betaal. Die organisasie Freedom Under Law (FUL) het ook by die saak betrokke geraak “in ʼn poging om die toelaagstelsel” te beskerm, lui die organisasies se verklaring.

Die hof het voorts beveel dat die uitspraak en Ngoepe se verslag aan die DOV gestuur word sodat dié kan besluit of Dlamini onder eed gelieg het en vir meineed vervolg moet word.

Cals sê in sy verklaring die DOV het hom, asook die Black Sash-trust, verlede week ingelig dat die DOV in Johannesburg besluit het om Dlamini vir meineed, of alternatiewelik die aflê van ʼn vals getuienis, te vervolg.

Maroela Media het vroeër berig Dlamini het in Mei vanjaar die R650 000 wat sy aan Black Sash en FUL verskuldig was, betaal.

Dlamini het in 2019 as minister bedank. Sy is steeds die president van die ANC se vroueliga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jack

Hoe het hierdie vrou ooit’n minister geword ? Het sy Graad2 ?

Anel

Goeie genade, dit hou net nie op nie!!! Ek is seker ons is die land met die grootste misdadigerskorps aan die stuur van ‘n land! Die hele is spul is korrup en die diefstal hou net nie op nie. Nou wil hulle nog diefstal wettig ook! Waar dink hulle moet die geld vandaan kom?

ES

Ek sal nooit vergeet hoe arrogant sy was nie. Dis hoogtyd dat haar rieme styfgeloop word.

marius

En waneer gaan sy siek raak ?

Pieter

Die ANC land se regstelsel is n grap man.