Oudminister onder verdagtes vas vir korrupsie, bedrog

(Argieffoto: Steve Buissinne/pixabay)

Die voormalige minister van staatsveiligheid, Bongani Bongo, en tien ander verdagtes het Woensdag in die landdroshof in Mbombela verskyn op aanklagte van korrupsie, bedrog, diefstal, geldwassery en oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.

Robert Burwise, Patrick Donald Chirwa, Harrington Sizwakhendaba Dhlamini, Blessing Mduduzi Singwane, David Boy Dube, Sipho Joel Bongo, Vusi Willem Magagula, Bongani Louis Henry Sibiya, Elmon Lawrence Mdaka en Sibongile Mercy Mdaka – asook vier maatskappye – staan tereg op altesame 69 aanklagte teen hulle.

Die saak teen hulle hou onder meer verband met die departement van menslike nedersettings in Mpumalanga se aankoop van ʼn plaas in Naauwpoort, in die omgewing van eMalahleni – oënskynlik namens die eMalahleni-munisipaliteit.

Sipho Ngwema, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê sommige van die beskuldigdes het saamgespan om ʼn wanvoorstelling te doen oor die ware feite van die onderhandeling – waaronder die eienaarskap en werklike verkoopwaarde daarvan.

Petrus Johannes van Tonder, die eienaar van een van die betrokke plase, is glo net R15 miljoen betaal vir ʼn onderhandeling wat die staat uiteindelik R37,5 miljoen gekos het. Die geld is betaal in die trustrekening van Singwane Attorneys, in hul kapasiteit as oordragprokureurs wat in opdrag van die departement aangestel is.

Van Tonder het op sy beurt R1,5 miljoen aan die Pam Golding-eiendomsagentskap vir die onderhandeling betaal.

Singwane, sonder enige opdrag van die departement, het weer R22,5 miljoen aan die maatskappy Little River Trading betaal – wat die beskuldigdes volgens die staat die kans gegee het om die geld suksesvol te steel.

In nog ʼn onderhandeling het die maatskappy Bongiveli ʼn koopooreenkoms met Fremax Farms aangegaan vir die aankoop van ʼn gedeelte van die plaas Rietspruit teen ʼn bedrag van R10,5 miljoen. Ngwema sê die Msukaligwa- plaaslike munisipaliteit se waardasie van die grond was egter R1,6 miljoen.

Little River het volgens die staat R1,5 miljoen as deposito betaal en Bongiveli moes ʼn waarborg gee dat die balans voor 31 Mei 2011 betaal sou word.

Sommige van die beskuldigdes, as lede van die maatskappy Pfuka Afrika, het op hul beurt kommissie van R4,5 miljoen hiervoor verdien. Die munisipaliteit en Bongiveli het in Maart 2011 ooreengekom oor die verkoop van die plaas.

Ngwema sê toe die ooreenkoms onderteken is, het Bongiveli nié die plaas besit nie en daar was ook geen departementele goedkeuring om die plaas te koop nie.

Die departement het egter R52 miljoen aan Singwane – die prokureursfirma – betaal. Die firma het ʼn  waarborg van R15,6 miljoen aan die maatskappy Fremax gegee. Die eiendom is daarna na Bongiveli oorgedra en die maatskappy het toe die plaas besit.

Die plaas is daarna terugverkoop aan die departement – teen ʼn bedrag van R32 miljoen.

Die plase is later weggelaat uit die munisipaliteit se ruimtelike ontwikkelingsplan en sou dus nie meer as nedersetting ontwikkel word nie. Dit is steeds nie as township verklaar nie.

Ngwema sê die staat het na bewering ook omkoopgeld in die vorm van kontant en motors van sommige van die maatskappye betrokke by die onderhandelinge ontvang.

Die Bongo-broers is reeds op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Die borgtogaansoeke van die res van die beskuldigdes duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Mariana ·

Soveel bedrog en korrupsie en nog nooit het een tronk toe gegaan nie, hoe is dit moontlik.

Androclus ·

Daardie geld is klaar gewas kyk hoe hang dit nog op die wasgoedlyn.(Geldwassery)

Alet ·

Oudminister van staatsveiligheid!!! Dis om van te lag…Rerig?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.