Oudminister pak uit oor Zuma, Guptas se invloed

Ngoako Ramatlhodi, voormalige minister van minerale hulpbronne, getuig voor die kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Dimpho Maja/ANA

Ngoako Ramatlhodi, voormalige minister van minerale hulpbronne, het Woensdag behoorlik mond uitgespoel toe hy voor die kommissie van ondersoek na staatskaping getuig het.

Ramatlhodi het in sy getuienis verduidelik hoe die voortvlugtende Gupta-familie vir oudpres. Jacob Zuma en die uitvoerende gesag beheer het en selfs openlik oor hul mag en invloed gespog het. Die oudminister beweer die Gupta-familie was só invloedryk, dat daar selfs ʼn sekretaresse by hul Saxonwold-herehuis in Johannesburg was wat Zuma se dagboek bestuur het om seker te maak hy maak net soos hulle sê.

“Dit het onder my aandag gekom dat afgesien van sy sekretaresse by die Uniegebou, hy nog een by Saxonwold gehad het sodat hulle [die Guptas] maklik met die president se dagboek kon inmeng,” het Ramatlhodi gesê.

Hy het ook gepraat oor die jaarlikse mynbou-indaba wat in 2015 in Kaapstad gehou is. Hy sê sy destydse direkteur-generaal het hom meer insig gegee oor hoe die Guptas dinge gedoen het. Ramatlhodi sê hy het gehoor hoe die Guptas die adjunk-direkteur-generaal en direkteur-generaal van die departement van minerale hulpbronne by hul privaat huis onthaal het ten tyde van die indaba.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo was oënskynlik geskok om dit te hoor: “Jy bedoel … in hulle private woning? Hoekom? Vir wat?” het hy gevra. Ramatlhodi het gesê dit het gebeur en dit was die norm.

“Ek het vir hom gesê dit sal nie onder my gesag gebeur nie. Geen departementsamptenaar sal na die Guptas se huis toe gaan nie. Jy sien voorsitter, hierdie mense het dit gedoen om te spog, om te wys hoeveel mag hulle het. Wanneer daar ʼn indaba is, kom beleggers van oral om na beleggingsgeleenthede te kyk, so hulle [die Guptas] sal sakelui nooi om regeringsbeamptes by hul huis te ontmoet.”

Hy het bygevoeg die familie het op dieselfde wyse beheer oor Zuma gehad. “Hulle het die mag gehad om Zuma na hul huis te ontbied en hulle sou daaroor spog. Nou natuurlik kon hulle ook ʼn minister ontbied wat nog nat agter die ore is en vir hulle sou rondhardloop. Hulle het jou na hul huis ontbied, nie ʼn hotel nie, voorsitter.”

Ramatlhodi het gesê dit is “algemeen bekend” dat die voormalige ministers Des van Rooyen en Mosebenzi Zwane gereeld by die Guptas se Saxonwold-huis was voor hulle in die kabinet aangestel is.

Hy sê kommer is wel tydens vergaderings van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) uitgespreek oor die Guptas en hul oënskynlik toenemende mag. Hy sê dit is aan Zuma gesê sy verhouding met die familie “is giftig” en hy moet dit beëindig. Volgens Ramatlhodi het Zuma geweier en gesê die Guptas het hom en sy familie gehelp toe hy in die moeilikheid was en niemand anders iets met hom te doen wou gehad het nie.

“Ons sou gil en skree soveel as wat ons wou, maar aan die einde van die vergadering sou hy net sê die [Guptas] is sy vriende en het hom gehelp toe hy persona non grata was. Hy het gesê hulle help ook sy kinders, Edward en Duduzane, deur vir hulle werk te gee. Ons het hierdie saak geopper omdat dit vernederend vir hom [Zuma] was en ons het omgegee vir hom as die president en ons kameraad. Ons het dit verskeie kere geopper, maar omdat ons nie in die NUK stem nie, sou hy altyd as die laaste spreker ʼn samevatting gee oor die vergadering en dan op die minderheidsiening steun.”

Ramatlhodi het verder getuig hy het geweier om The New Age-ontbytgeleenthede by te woon omdat hy “nie hierdie mense geken het nie” (met verwysing na die Guptas).

Hy het aan die kommissie gesê ʼn groep in die ANC het vir Zuma gesê hy het “aangejaag” toe hy toegelaat het dat die Guptas se vliegtuig vol trougaste in 2013 by die Waterkloof-lugmagbasis land. Ramatlhodi sê die vliegtuig se landing by die lugmagbasis was oneerbiedig teenoor die land en sê dit het vir Zuma direk geïmpliseer aangesien hy toestemming daarvoor gegee het.

“Dit is aan die voormalige president gesê wat by Waterkloof gebeur het, was ʼn skande – ons het geveg vir beheer van die basis. My gevoel destyds was dat hierdie nie kon gebeur het sonder Zuma se wete nie, want die destydse hoof van protokol in die presidensie het ʼn oproep van ‘Nommer 1’ gekry soos hulle die voormalige president genoem het. Hy het ’n oproep gekry om die landing goed te keur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Lana ·

Jy sluit meeste van jou kommentaar af met ‘n vraag. Gewoonlik is die vraag voortydig.
Gee kans. Jy sal sien wat dan.

Dafer ·

Wees tog redelik! Hulle kry almal vet cheques en gaan dan huis toe. Wat anders? Ai tog! Daar eindig ek ook met ‘n vraag.

Hoe nou..... ·

Niemand in die ANC is bevoeg om n land te kan bestuur nie. Ieder en elk is magsdronk en glo hulle is verhewe bo die wet.

Henk ·

Nou verduidelik aan my een ding, hierdie selfde ministers het ongeag hoeveel pogings deur die opposisie, seker gemaak zuma bly in beheer. Ongeag al hulle kennis van hierdie korrupsie, het hulle seker gemaak hy bly in beheer van die anc. Waarom? Hulle het lekker geskep nou vrees hulle dat hulle ook die tronk gaan besoek

Karolis ·

Henk. dit is ‘n korrekte samevatting. Verstom my hoekom niemand daardie tyd iets laat uitkom nie.

Tokkolos ·

Nou vra ek wanneer gaan paddapot getuig want hy moes sekerlik geweet het
Of is hy nou verhewe bo die gereg

leser ·

Ramapaddapot was kop in een mus met die lot – dit is waarom niemand nog agter tralies is nie.
Was ramapaddapot ook by die gupta troue in sun city? ek wonder daaroor. Weet iemand dalk?

Steve ·

So when will the secretary be invited to the commission… According to this Ramaphosa and the whole NEC is complicit, actually the whole ANC parliament is complicit of state capture… So what will happen

humor ·

Hierdie z laat my altyd dink aan n sluwe pofadder wat skuil onder bedekte gras. Die onheil self.
Ek kan ook dit nie maklik sluk dat almal geweet het behalwe ramaphosa nie. Mense ons land is in duister omstandighede gehul. Gevaarliker as wat ons miskien besef.

Wiehan ·

Nou spoeg die ANC “kamerade” voor die Zondo kommissie nes die vorige lot “Nattes” voor die waarheids kommissie. Almal wil net hul eie bas red.
Ha ha ha.

Gert van Wierdapark ·

Oud pres zuma het seker vir die top ses en ander bekommerde Anc comrades gese: die Guptes is my tjommies, “Finish en”Klaar”. Onthou wat daarna met die oud-polisiehoof gebeur het – miskien moet die Oranje-snyerspak se mates solank geneem word, he-he-he!!!

Lex Luger ·

Hierdie aantygings strek nou veel verder as bloot net bedrog en korrupsie, hierdie is hoogverraad deur die president van ‘n land. Is staatskaping nie per implikasie in elk geval verraad teen jou land nie? Of is ek totaal oningelig? Help my asb. Die hele ANC was hiervan bewus soos daar dan vandag deur een van hul lede erken is-hoop die stemvee verstaan tog nou wat aangaan

Wessel ·

Ek is seker dat as die Guptas in die oggende hulle tande geborsel het, het hulle sommer Zuma se hare ook gekam.

Johan ·

Die ANC het ‘n geskiedenis van korrupsie en oneerlikheid wat toegesmeer word – selfs in die dae toe hulle in “exile” was. Die skaal van hierdie oneerlikheid grens net aan arrogansie in hierdie geval.

Wat vir my die interessantste gaan wees is om te hoor wat Ramapaddapot (as hy die ruggraat gaan openbaar om te getuig) se “verskonings” en verduidelikings gaan wees. Hulle het mos die vermoe om ‘n baie interessante storie op te dis. Wees verseker hy dink elke dag saam met sy beeldpoetsers aan verskonings.

Dink maar aan oa Mantashe wat die banke wou oorreed om nie die Guptas se rekeninge te sluit nie. Hoekom nie? Dit sou mense se werksgeleenthede in gedrang bring !!!! Nogal ‘n “amperse aanvaarbare” verduideliking. Maar komende van hom – “what a joke”.

lewies ·

Waarom is Zuma in die eerste plek as president verkies? Antwoord: Hy is as ‘n sagte teiken gesien deur die wat vir hom gestem het, sodat hulle, hulle duistere planne onder sy beheer kan uitvoer.

Dit is die enigste gevolgtrekking waartoe ‘n mens kan kom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.