Oudminister se eks ook by korrupsiesaak betrek

Bongani Bongo, voormalige minister van staatsekuriteit. (Foto: People’s Assembly)

Oudminister van staatsveiligheid Bongani Bongo se eksvrou het Maandag in die landdroshof in Mbombela in Mpumalanga verskyn op aanklag van korrupsie en geldwassery.

Sandile Nkosi word nou betrek by die saak teen tien ander wat daarvan beskuldig word dat hulle die departement van menslike nedersettings uit geld bedrieg het.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, sê 11 individue en vier entiteite het in November verlede jaar in die landdroshof verskyn op aanklag van die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, bedrog, diefstal, korrupsie en geldwassery. Bongo is ook een van dié verdagtes.

Maroela Media het vroeër berig die beskuldigdes het na bewering ʼn plaas in Naauwpoort vir R15 miljoen by die betrokke eienaar gekoop. Die departement van menslike nedersettings in Mpumalanga het egter R37,5 miljoen vir die betrokke plaas betaal. Daar is met die betrokke prokureursfirma wat die transaksie behartig het ooreengekom dat die oorblywende bedrag van R22,5 miljoen aan ʼn private entiteit betaal word sonder enige magtiging van die departement.

Die staat voer aan die beskuldigdes het die werklike verkoopwaarde van die plaas sowel as die eienaarskap verkeerd aan die departement voorgestel en só die departement bedrieg.

Mogale sê Nkosi word daarvan beskuldig dat sy ʼn bedrag van R1 miljoen van dieselfde prokureursfirma ontvang nadat die firma ʼn bedrag van ongeveer R52 miljoen van die departement ontvang het. Haar eksman was in dié stadium regshoof van die departement.

Nkosi is gister op borgtog van R10 000 vrygelaat en sal na verwagting op 4 Mei saam met haar eksman en ander medebeskuldigdes in die hof verskyn. Dieselfde borgtogbedrag is reeds verlede jaar aan hulle toegestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Persheks Adri ·

R10 000 borg vir die korrupsie? Belaglik verby veral as ons na die “verlore” geld kyk gggmmmfff pateties man pateties

ES ·

Ek dink nie daar is enige huidige of voormalige ministers of hul gades wat nie korrup is nie.

Willem ·

Dit lyk my op die oomblik is daar net ń paar straat verkopers wat nie korrup is nie

Casper ·

So Willem as ek jou kommentaar reg verstaan is jy ook korrup.

Elize ·

Kry hierdie mense nie skaam nie? Hulle ry daagliks verby die armstes van die armstes en gaan slaap heerlik in ‘n luukse bed en eet hulleself trommeldik!

Anel ·

Na aanleiding van hierdie, hoekoom word Zuma nie ook vervolg nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.