Oudminister terug in hof oor ‘omkoopgeld’

Sbu Ndebele, voormalige minister van vervoer, en Linda Dube, sy regsverteenwoordiger, buite die hof. Foto: Brenda Masilela/ANA

Sbu Ndebele, voormalige minister van vervoer, en Linda Dube, sy regsverteenwoordiger, buite die hof. Foto: Brenda Masilela/ANA

Sbu Ndebele, voormalige minister van vervoer, het Donderdag in die kommersiële misdaadhof in Pretoria verskyn op aanklagte van bedrog en geldwassery.

Die saak teen Ndebele en sy vier medebeskuldigdes, George Mahlalela, voormalige direkteur-generaal van die departement van vervoer, Zakhele Thwala, Sibusiso Justin Ncube en Tebogo Mphuti, is egter net uitgestel tot 30 Maart 2017. Al vier staan tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie, geldwassery en oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.

Die verdediging en die staat het vandag ooreengekom om die saak uit te stel, aangesien nog twee kwessies afgehandel moet word. Een van die beskuldigdes bevraagteken die wettigheid van die lasbrief wat gebruik is om sy huis te deursoek. Hierdie saak moet nog in die hooggeregshof in Durban aangehoor word. Die tweede kwessie is Thwala se versoek om van regsverteenwoordiger te verander en hy wag nog vir ʼn reaksie van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Ndebele, wat vroeër op borgtog van R10 000 vrygelaat is, het in Oktober as Suid-Afrika se hoë kommissaris in Australië bedank. Ndebele staan tereg op 15 aanklagte. Hy het na bewering R10 miljoen se omkoopgeld van Tasima aanvaar terwyl hy minister van vervoer was. Tasima word gekontrakteer om die elektorniese eNatis-lisensiestelsel te bestuur.

Die staat beweer Ndebele het die omkoopgeld ontvang om die maatskappy se kontrak van meer as R2 miljard onregmatig te verleng.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nico ·

Toe eNatis ongeveer 6 jr. gelede ineengestort het en die geld opgeraak het, het die Dept. Van Vervoer ‘n eenmalige heffing ( transaksie fooi) van R30-00 op alle nuwe lisensies en hernude lisensies gehef. Dit sou net een jaar geskied. Dit is nooit opgehef nie en duur nou al sowat 6 jaar . Sedertdien is die bedrag stilweg na R36-00 verhoog, miljoene word onregmatig gehef en geen haan kraai daaroor nie. Adv. Anton Alberts het my lank gelede verseker dat hy die bovermelde Minister hieroor sal uitvra. Daar het natuurlik dadels van gekom! Nou peul die wurms uit die blik! Wat sê jy nou Anton??

Adam Boshoff ·

Dit is in tussen verander na n verpligte admin fooi het ek eendag gelees

Jan Jooste ·

Ek wonder of enigiemand weet of VF al ooit iets positiefs vir die Afrikaner bereik het? Alles positiefs ten bate van die Afrikaner kom via ander organisasies. Kan ons nie parlementslede hê ten goede van die Afrikaner?

pieter ·

Julle verstaan dinge verkeerd. Die wette is net vir ons gewone mense bedoel. ANC kaders kan doen wat hul wil.

Sakkie van der Merwe ·

So word die lys van ministers wat steel net langer en langer. Zuma stel die voorbeeld en die res vog hom slaafs na. Wanneer gaan die gans wat die goue eiers le vrek?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.