Oudministers bedank op strepe – dís hoekom

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die staatsrede 2019 (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Die oudminister van toerisme, Derek Hanekom, en die omstrede voormalige minister van maatskaplike ontwikkeling, Bathabile Dlamini, het die jongste twee lede van die voormalige kabinet geword om as lede van die parlement (LP’s) te bedank.

Dlamini het tot voor die verkiesing as minister van vrouesake in die presidensie gedien. Voormalige ministers Jeff Radebe (energie) en Siyabonga Cwele (binnelandse sake) het Maandag aangekondig dat hulle as LP’s bedank sonder om redes te verskaf. Nomaindia Mfeketo, oudminister van menslike nedersettings, het verlede Woensdag as LP bedank, gevolg deur die oudminister van staatsveiligheid, Dipuo Letsatsi-Duba en ‘n vorige minister van maatskaplike ontwikkeling en minister belas met vrouesake in die presidensie, Susan Shabangu, die volgende dag.

Nie een van diegene wat bedank het, is by pres. Cyril Ramaphosa se nuwe kabinet ingesluit nie.

In politieke kringe word gegis daar is gewoonlik een, twee of al drie van drie redes waarom oudministers uit die kabinet bedank. Die eerste is dat mens in die Suid-Afrikaanse stelsel pensioen ontvang ingevolge die laaste pos wat jy beklee het, so as jy binne ‘n vasgestelde tyd bedank nadat jy uit die kabinet bedank het, kry jy pensioen asof jy met jou uittrede nog ‘n minister was.

Tweedens kan dit wees dat jy net nie kans sien om weer as gewone parlementslid sonder ministersvoordele van ‘n motor, ampswoning ensovoort te funksioneer nie, en net nie weer kans sien om parlementêre portefeuljekomitees en parlementsittings as relatiewe agterbanker by te woon nie.

Derdens kan dit wees dat jy bitter voel teenoor die president en die regerende party wat toegelaat het dat jy, met jou “fenomenale leierseienskappe”, uit die kabinet gelaat word.

Sommige van die pas uitgetredenes is bepaald nie kwaad vir Ramaphosa nie en bly aan sy kant. Onder hulle tel Radebe, wat Ramaphosa se swaer is, en Hanekom, wat volgens gerugte ‘n amptenaarspos in die presidensie gaan kry.

Maar iemand wat definitief baie kwaad is, is Dlamini. Dit blyk uit haar bedankingsbrief, van agt bladsye wat deur die media bekom is. Daarin beweer Dlamini sy het geen wrok oor sy uit die kabinet gelaat is nie, maar sy maak verskeie aantygings teen die ANC en teen sekere lede van die ANC – wat herinner aan haar dreigemente ‘n paar jaar gelede dat sy die “klein geraamtetjies” uit die kas sal laat kom as daar ooit teen haar opgetree word.

Sy beweer onder meer dat sommige van haar kollegas en ook bekendes se vroue voordeel getrek het uit Cash Paymaster Services (CPS) se kontrak om toelaes namens die departement van maatskaplike ontwikkeling uit te betaal, maar dat nie teen hulle opgetree word nie omdat hulle sulke hoogs gerespekteerde mense is.

Daardie uitlatings van Dlamini het daartoe gelei dat die DA-woordvoerder oor maatskaplike dienste, Bridget Masango, aangedring het dat Dlamini die name bekend maak of self vervolg word vir dwarsboming van die gereg.

Dlamini beweer in haar bedankingsbrief dat die ANC steeds nie gereed is om reg te laat geskied aan vroueleiers nie en nie genoegsame waardering het vir die rol van vroue-organisasies nie. Sy voer aan sy is onskuldig tot sondebok gemaak in die skandaal om die uitbetaling van welsynstoelaes (waaroor die konstitusionele hof haar skuldig bevind het), en dat die Poskantoor nie die vermoë het om die uitbetalings suksesvol te doen nie.

Volgens Dlamini word Ramaphosa bedreig deur ongedissiplineerde lede van die ANC-leierskap wat nog elke nasionale leier van die ANC en elke president sedert oudpres. Nelson Mandela intern aangeval het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Al ·

Ek dink Dlamini het suur druiwe. Sy gaan nou sing soos n kanarie. Ai tog

Joe Olivier ·

Waarom sal sy sing? Hulle beskerm mekaar. Sy gaan nou die res van haar lewe n rykmanslewe voer sonder om n steek werk te doen. En die belastingbetaler gaan hoes. Waarom dink ek nou aan n klein goggatjie wat op iets teer?

Adri ·

Waarskynlik geld die eerste rede vir almal. Al maak die berig nie sin nie: “… as jy binne ‘n vasgestelde tyd bedank nadat jy uit die kabinet bedank het …”. ???

Tilla ·

“…Indien jy in n vasgestelde tyd bedank het nadat jy uit die kabinet bedank het…” moet dit nie eerder aftree wees nie?

Sarel ·

Sy het Sassa wanbestuur en nou gaan sy nog Pensioen kry? Wat van die geld wat wan bestee was, waar is dit?

Stel ·

Hul bedank almal oor hul lui, onbetroubare, arrogante, geldgierige parasiete was en nou nie die staat verder kan melk nie.

Gert van Wierdapark ·

Oud mini-ster Dlamini se sterretjie skitter nie meer so helder nie en nou sing sy n ander vals deuntjie. Miskien moet sy deel word van die Kabaret-spannetjie om ander gaste op die Blou soustrein te vermaak, of dit oorweeg om n aftree-oord vir oud mini-sterre op Nkandla te vestig! Miskien brand JZ om hul daar te ontvang!! He-he-he

Pieter Schoombee ·

Dlamini se sterretjie was nog altyd dof. Net soos sy.

Joon ·

Ek glo dit gaan oor die pensioen. Geld speel n groot rol in ons lewe, veral as jy by Derek Hanekom se ouderdom kom.

anna ·

Ek reken hul Pensioen geld sal dadelik uitbetaal word, en NIE soos ons ander moet wag , sewe/agt maande voor ons n sent kry nie. Pateties!!!

Asmain ·

Sal nie verbaas wees as sy iewers in n ambassadeurs pos aangestel word om haar te paai

GES ·

Die moontlikheid dat Eskom gaan opbreek en privatiseer verskaf
miskien die beweegrede. CR en sy familie stel baie belang.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.