Oudpolisiehoof steeds in die sop

Khomotso Phahlane (Foto: eNCA/ Lenyaro Sello)

Die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (Opod) het benadruk dat Khomotso Phahlane, voormalige waarnemende nasionale polisiekommissaris, en sy twee medebeskuldigdes “net tydelik” nie strafregtelik vervolg gaan word vir korrupsie nie.

Die korrupsie-aanklagte teen Phahlane en sy twee medebeskuldigdes is Donderdag teruggetrek nadat die staat se aansoek vir verdere uitstel geweier is.

Phahlane het Donderdag saam met sy vrou, Beauty, en die sakeman, Durandt Snyman, in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn.

Landdros Nicola Setshoege het gesê verdere uitstel van die saak sal tot nadeel van die beskuldigdes wees wat daartoe gelei het dat die staat die saak teruggetrek het. Setshoege het gesê die staat het haar nie oortuig dat hy benadeel sal word indien die saak van die rol geskrap word nie.

Die drie beskuldigdes het tereggestaan op ses aanklagte van korrupsie van R900 000 en is ook daarvan beskuldig dat hulle die bepalings van die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite oortree het.

Moses Dlamini, Opod se woordvoerder, het egter Donderdag ná die uitspraak bevestig dat die terugtrekking slegs tydelik is.

“Die staat het slegs uitstel versoek om meer verdagtes wat tereg moet staan op soortgelyke aanklagte by die saak te voeg. In dié verband is daar nog hangende regskwessies waar die bykomende verdagtes hofbevele teenstaan om hul eiendom te laat deursoek,” het Dlamini gesê.

Volgens Dlamini gaan die kwessies op 18 Junie in die Pretoria-hooggeregshof aangehoor word.

“Die saak is dus nog nie afgehandel nie. Ons glo die bewyse wat ons het, sal die saak teen die verdagtes sterker maak. Die uitspraak is nie ʼn vryspreking nie en sal binnekort weer op die hofrol wees,” het Dlamini gesê.

Die Phahlane-egpaar en Snyman, wat in Februarie hul eerste verskyning gemaak het, is toe op borgtog van R10 000 elk vrygelaat.

Die aanklagte spruit uit beweerde gunslone wat die voormalige polisiehoof, sy vrou en ander senior beamptes ontvang het rakende die toekenning van winsgewende forensieseverskaffer-tenders terwyl Phahlane die hoof van die forensiese eenheid was.

Die beweerde gunslone was glo in die vorm van voertuie wat teen laer pryse aan die polisiebeamptes voorsien is, of opgeblase pryse is vir hul voertuie betaal wat hulle aan Snyman verkoop het.

Die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (Opod) beweer die polisieverskaffer, Keith Keating, het die betaling vir die voertuie vir die Phahlane-egpaar deur Snyman se handelaar bewillig. Die voertuie het ʼn Land Rover Discovery 4, ʼn Nissan Navara, ʼn Toyota Hilux 3.0, ʼn Mercedes-Benz C250, ʼn VW Polo en Ford Rover ingesluit.

Die Valke het verlede jaar klopjagte uitgevoer op verskeie eiendomme wat aan Phahlane en Keating behoort. Keating word daarvan beskuldig dat hy duur voertuie aan Phahlane gegee het in ruil vir gunste.

Phahlane is verlede jaar in Junie van sy amp as waarnemende nasionale polisiekommissaris onthef.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Daan Erasmus ·

Op dieselfde dag wat vervolging gestaak word teen ‘n krimineel. Word honderd duisende vuurwapen eienaars van hul wapens ontneem.

Tania Heyns ·

Dagsê Se Maar Net

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning, dit moet inderdaad ‘n Ford Ranger wees. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Shaun ·

Wil net weet . Wat is n ” Ford Rover ” ? Kruising tussen n Ford en n Land Rover ?

Tania Heyns ·

Dagsê Shaun

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning, dit moet inderdaad ‘n Ford Ranger wees. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.